Maandag, 20 Augustus 2018

Vind balans tussen skoolwerk en buitemuurse aktiwiteite.


Sport, kuns en kultuur het baie voordele, maar dit moet nie jou verhinder om jou huiswerk te doen nie.





Oral rondom ons is daar druk om te presteer. Akademies, op die sportveld, op die verhoog en selfs sosiaal. Ons word verwag om in elke aktiwiteit wat ons kies om te doen uit te blink en soms kom die verwagtinge van onsself af. Ons kyk na ons vriendekring en sien hulle doen goed in toetse, word as kaptein aangewys van hul sportspanne, sing in die koor, neem deel aan die debatspan en op een of ander manier het hulle ’n groot vriendekring. Hoe doen hulle dit? Hoe balanseer hulle skool, sport, kultuur en ontspanning? Waar kry hulle die tyd?

Zig Ziglar het eenkeer gesê “Die probleem is ’n gebrek aan rigting, nie ’n gebrek aan tyd nie. Ons het almal net vier en twintig uur per dag.” Ons glo dat die balansering van skoolwerk en buitemuurse aktiwiteite neer kom op tydbestuur. Tydsbestuur is die proses van beplanning en beheer van tydsbesteding aan spesifieke aktiwiteite. Tydsbestuur verhoog effektiwiteit, doeltreffendheid en produktiwiteit. Ons glo wanneer al jou aktiwiteite goed beplan en uitgevoer word in hul spesifieke tydsraamwerke, sal daar genoeg tyd wees vir ontspanning en pret aktiwiteite.

In hierdie artikel gaan ons kyk na die volgende belangrike maniere om jou tyd te maksimeer en hoe om skoolwerk en buitemuurse aktiwiteite balanseer: 

1. Prioritiseer jou aktiwiteite.2. Bestuur jou tyd.3. Hantering van druk en hersiening van jou plan.



1. Prioritiseer jou aktiwiteite.

Wanneer dit by jou aktiwiteite kom, moet jy dit kategoriseer van die mees belangrik tot die minste belangrik. Op hierdie manier sal jy maklik weet aan watter aktiwiteite jy meer tyd moet toeken wanneer jy ’n skedule opstel. As jy jou aktiwiteite prioritiseer, oorweeg om ’n ouer, onderwyser of voog te vra om te help, want as jy op skool is, dink jy dalk om ’n videospeletjie te speel die is belangrikste ding, maar in werklikheid is jou wiskunde punte nie wat dit behoort te wees nie. ’n Ouer, onderwyser of voog kan help deur leiding te gee met die groter prentjie.

Moenie ’n aktiwiteit as ’n geheel prioritiseer nie, maar breek dit eerder in komponente op om beter te verstaan waarop jy moet fokus. Byvoorbeeld, natuurlik moet skoolwerk jou belangrikste prioriteit wees as ’n groeiende kind. Jy moet egter skoolwerk in die verskillende vakke verdeel. Jy kan selfs die verskillende vakke in hul verskillende modules verdeel om jou aktiwiteite beter te prioritiseer. As jou Lewensoriëntering punte baie hoog is, omdat die inhoud van hierdie vak natuurlik vir jou kom, maar jou Engelse punte is nie goed nie, prioritiseer eerder jou Engelse huiswerk bo Lewensoriëntering huiswerk. Onthou, jy moet steeds jou Lewensoriëntering-huiswerk voltooi, maar jy moet meer tyd spandeer op Engels.

Ons stel voor dat jy ’n lang lys maak van al die aktiwiteite wat jy gedurende die maand doen. Evalueer dan die belangrikheid van ’n aktiviteit met hierdie vier vrae:
  • ·       Hoe belangrik is dit vir jou?
  • ·       Hoe goed presteer jy tans in die aktiwiteit?
  • ·       Hoeveel tyd word daar benodig om goed te doen in die aktiwiteit?
  • ·       Dra dit by tot jou sukses op die langtermyn?


Wanneer jy die vier vrae beantwoord het, rangskik die aktiwiteite en begin met die beplanning van ’n skedule om meer tyd toe te ken aan die aktiwiteite wat hoër prioriteite opneem.
2. Bestuur jou tyd.
Om jou tyd effektief te bestuur, sal ’n groot verskil in jou produktiwiteit maak. Jy sal meer oor ’n korter tydperk bereik, bloot omdat jou tyd nie verlore raak nie. Dit beteken nie dat daar geen vrye tyd of tyd sal wees om te ontspan nie, dit beteken bloot dat die tyd wat jy neem om te ontspan, geskeduleer sal word. Inteendeel sal jy jou vrye tyd meer kan geniet, want jy weet dit is welverdiend en gepas om ’n breek te neem. Dit verhoed dat jy nie belangrike take uitstel nie en sal algehele stres verminder omdat jy weet wanneer dit gepas is om al die pretaktiwiteite te doen.

Daar is baie maniere om ’n skedule op te stel. In ons vorige blog artikel ‘4 Wenke wat jou sal help om 'n skedule vir 'n suksesvolleskooljaar op te stel’, bespreek ons maniere om verskillende soorte skedules op te stel en hoe om daaraan te voldoen.

’n Goeie manier om jou tyd te bestuur, is deur Covey se tydbestuur matriks. Hierdie rooster is geskep deur Stephen Covey wat die beste verkoper ‘The Seven Habits of Highly Effective People’ geskryf het. In hierdie matriks verduidelik hy dat jy jou tyd effektief bestuur kan deur ’n tabel wat Belangrike, Nie Belangrike, Dringende en Nie Dringende aktiwiteite toon nie. Wanneer jy jou aktiwiteite in die tabel lys, sien jy duidelik waarop jy moet fokus. Hieronder is die visuele voorstelling van die tydbestuur matriks.

Stephen Covey se tydbestuur matriks.

In die tabel kan jy sien daar is vier kwadrante. Kwadrant 1 verteenwoordig die Dringend en Belangrike take, Kwadrant 2 verteenwoordig die Nie Dringend en Belangrike take, Kwadrant 3 verteenwoordig die Dringende en Nie Belangrike take en Kwadrant 4 verteenwoordig die Nie Dringend en Nie Belangrike take.

Kwadrant 1:

Kwadrant 1 bevat take wat Dringend en Belangrik is, take wat byvoorbeeld punte voor gegee word en gevolge sal hê indien hulle nie betyds voltooi is nie. Hierdie kwadrant is vir sperdatums en belangrike krisisse wat dadelik opgelos moet word. Dit is take wat nie veronderstel is om te veel tyd op te neem nie en wat vinnig en doeltreffend voltooi kan word. Hierdie lys moet ook so kort moontlik wees (want jy wil verkieslik so min as moontlik krisisse of problem hê). Jy moet hierdie take altyd eerste voltooi. Voorbeelde van kwadrant 1 take: Huiswerk wat die volgende dag ingehandig moet word; laaste minuut voorbereiding vir ’n toets; ’n werkopdrag wat jy op ’n inhandigingsdatum moet ingee; ’n taak wat jy vergeet het om te doen, maar nou voltooi moet word.

Kwadrant 2:

Kwadrant 2 bevat aktiwiteite wat Nie Dringend is nie, maar baie Belangrik is. Dit is take wat jy moet uitvoer vir jou langtermyn sukses. Hierdie take is nie dringend nie of het nie ’n sperdatum, maar dit is beslis belangrik. Hierdie blok bevat take wat jy vooruit kan beplan en dit help om te voorkom dat krisisse en spertye te naby raak as jy vooraf werk. Die meeste van jou tyd moet hier bestee word. In hierdie blok sal jy dissipline en deursettingsvermoë bou, aangesien dit gewoonlik langtermyn doelwitte bevat. Byvoorbeeld: As jy droom om ’n tenniskampioen te word, moet jy 4 – 5 keer per week oefen. Gebruik hierdie blok om tennisoefeningstye in te voeg. Nog ’n voorbeeld is om vooraf voor te berei vir ’n toetssiklus of die eksamen. Jy het dalk ’n doelwit om 4 onderskeidings aan die einde van die jaar te kry, maar jy moet elke dag fokus om opsomming van elke vak te maak.

Onthou asseblief dat kwadrant 2 op langtermyndoelwitte fokus, dit sluit ook verhoudings in, so skeduleer kwaliteit tyd saam met jou vriende, familie en jou ouers in. As jy nie die verhoudingstyd in hierdie matriks skeduleer nie, sal jy waarskynlik nie sosiale interaksie hê nie en alleen begin voel of depressief word. Beplan tyd vir jou vriende en prettige dinge wat jy wil doen - dit hou jou ook gesond en gemotiveerd.

Kwadrant 3:

Die derde kwadrant is vir take wat Dringend is, maar Nie Belangrik is nie. Dit kan gesien word as die onderbrekings- of afleidingsblok, omdat onvoorsiene en onbelangrike dinge kan gebeur wat jy in hierdie blok moet byvoeg. Hierdie blok steel gewoonlik baie tyd, want ons kan dink dat iets baie dringend is om te voltooi (soos die vyfde vergadering van die studenteraad in ’n week of wanneer jy na ’n studiegroep toe gaan net om ou werk wat jy reeds verstaan, weer te hersien), maar dit help nie regtig ons langtermyn sukses nie. Probeer dus om jou tyd in hierdie blok te verminder.

Kwadrant 4:

Kwadrant 4 is waar al die uitstel en tydverspilling gebeur, want dit is dinge wat jou nie help om jou doelwitte te bereik nie. Hierdie blok bevat take wat Nie Dringend en Nie Belangrik is nie. Byvoorbeeld, om ure op Facebook of Instagram te wees, YouTube-video’s te kyk waar jy nie regtig iets nuuts leer nie, of ’n TV-reeks in oormaat te kyk. Selfs om met vriende te kuier terwyl jy weet jy moet eintlik leer vir ’n toets wat jy die volgende dag skryf. Dit beteken nie dat vriendskap nie belangrik is nie (dit is baie belangrik), maar selfs lekker aktiwiteite met vriende kan geskeduleer word wanneer dit welverdiend is. Maak seker jy spandeer die minste tyd in hierdie kwadrant, of maak seker dat die tyd wat jy hier spandeer, welverdiende vryetyd is. Skeduleer dinge in hierdie blok soos om ’n nuwe fliek te gaan kyk, en maak seker jy gaan eers die fliek kyk nadat alles in die eerste kwadrant voltooi is.

Wanneer jy leer hoe om effektief Covey se tydbestuur matriks te gebruik, sal jy take sonder paniek of stres uitvoer, omdat jy die belangrikheid van elke aktiwiteit verstaan en die korrekte hoeveel tyd daaraan toeken.

3. Hantering van druk en hersiening van jou plan.

Wanneer jy baie buitemuurse aktiwiteite aanpak, kan jy dikwels gestres voel, omdat jy moeg is, daar baie druk op jou is en jy sal party dae voel asof jy alles wil los. Dit beteken dat jy dalk ’n breek nodig het, of dat jy te veel op een slag afgebyt het. Evalueer jou prioriteitslys en bepaal of jy regtig lief is vir al die aktiwiteite op die lys. Byvoorbeeld, jy mag dalk baie daarvan hou om in die skool se musiekgroep (“band”) te speel, maar jy geniet regtig nie koor nie. Hierdie twee aktiwiteite is beide musikaal aangedryf, dus kan jy sê dat jy die koorgroep wil verlaat omdat dit nie bydra tot jou geluk of sukses nie. Kies jou buitemuurse aktiwiteite goed en moenie sekere aktiwiteite uitvoer wat nie bydra tot jou geluk nie.

Nog ’n voorbeeld is as jy regtig wil studeer in ’n mededingende veld, soos om medies te gaan swot, en jy weet jy moet goeie punte behaal. Om goeie punte te kry is alreeds baie druk, daarom moet jy die druk van ander aktiwiteite verminder. Jy moet oorweeg om een sportaktiwiteit te verlaat en eerder na ekstra wiskunde- en wetenskapklasse te gaan, want dit sal die druk van jou studies verminder.

Laastens, moenie druk ervaar deur wat ander mense sê nie, hetsy jy baie buitemuurse aktiwiteite of min buitemuurse aktiwiteite het. Ons is almal individuee. Moenie jouself met ander vergelyk nie. As jy net wil deelneem aan 1 of 2 buitemuurse aktiwiteite, is dit heeltemal aanvaarbaar. As jy wil probeer om alle buitemuurse aktiwiteite wat by die skool beskikbaar is uit te probeer, doen dit dan. Moenie bang wees vir wat ander mense dink of sê nie, jy is uniek en jy kan jou eie keuses maak oor hoe jy jou tyd spandeer. Jy sal met tyd leer wat jy kan en nie kan doen nie.


Die balansering van skoolwerk en buitemuurse aktiwiteite kan moeilik wees omdat ons almal se aandag partykeer afgelei word en soms fokus verloor. Die beste manier om weer op die regte pad te kom, is om eenvoudig jou prioriteite reg te stel, ’n skedule op te stel en daarby te hou. Victor Hugo het gesê: “Hy wat elke oggend die transaksies van daardie dag beplan en die plan volg, span ’n lyn wat hom deur die labirint van die besigste lewe sal lei.”

Hoe balanseer jy skoolwerk en buitemuurse aktiwiteite en watter ander tegnieke gebruik jy om jou prioriteite te organiseer?

Maandag, 13 Augustus 2018

4 Positiewe uitwerkings van visuele kuns op die brein.


Teken en skilder is nie net lekker tydverdryf nie, maar ongelooflik belangrik vir ontwikkeling van die brein.





Visuele kunste bestaan uit ’n uiteenlopende spektrum van kunsvorms wat visueel van aard is. Dit sluit in teken, skilderkuns, beeldhoukuns, handwerk, keramiekkuns, fotografie, film, argitektuur en ontwerp. Toegepaste kunste soos grafiese ontwerp, binnenshuise ontwerp, industriële ontwerp en mode ontwerp val ook binne die kategorie van visuele kunste.

Uit hierdie lys is dit duidelik dat ons omring word deur kuns. Alhoewel nie elke visuele kunswerk wat jy in jou daaglikse lewe teëkom het die merkwaardigheid wat toegeskryf word aan kunswerke wat jy in ’n museum of gallery sal vind nie, maar visuele kuns, in al sy vorme, maak die lewe mooier, meer interessant, vermaaklik en aangenaam. Deur kuns te skep, sal jy baie meer voordele van die brein ontvang, asook verbetering van lewenstyl gehalte, as om net na kuns te kyk. Om na kuns te kyk kan egter ook ’n aangename ervaring wees wat jou wêreldbeskouings kan verbreed en jou emosies positief beïnvloed.

Alhoewel kuns oral rondom ons is, ons samelewing beïnvloed en ook een van daardie dinge is wat onverklaarbaar ontsagwekkend is, word dit nie altyd beskou as ’n fundamentele aspek van onderwys of in die werksplek nie. Byvoorbeeld, kunsopleiding sal nie eerste op die podium geplaas word in ’n akademiese konteks wanneer dit vergelyk word met wetenskap en wiskunde, of selfs teen ander buitemuurse aktiwiteite, soos sport nie – veral wanneer begrotings betrokke is. Sommige van hierdie argumente is binne perke geldig. Daar is egter baie bewyse wat daarop dui dat die voordele van kuns jou op ’n persoonlike vlak kan help, asook om jou op ’n groter vlak te verbind met die wêreld rondom jou. Selfs al kan hierdie voordele nie op dieselfde wyse as gestandaardiseerde toetsuitslae uitgedruk word nie, is die positiewe neurobiologiese, kognitiewe en sielkundige effekte op die brein goed gedokumenteer. Die Renaissance-man – uitvinder, skilder, beeldhouer, ingenieur, anatomis en wiskundige, onder andere, Leonardo da Vinci, het die volgende gesê: “Beginsels vir die ontwikkeling van ’n volledige verstand: Bestudeer die wetenskap van kuns. Bestudeer die kuns van wetenskap. Ontwikkel jou sintuie – leer veral hoe om te sien. Besef dat alles verbind is aan alles anders.”

’n Verfkwas sal nie noodwendig ’n pasiënt se lewe op die operasietafel red nie, maar die kreatiewe denkvaardighede wat in kunsklas bevorder is, kan daartoe lei dat mediese spesialiste ’n unieker benadering het om geneesmiddels vir siektes te kry. Dieselfde geld vir baie ander beroepe. Die geheim is om maniere te kry om kuns deel te maak van jou lewe. Dit sal jou help om ’n beter weergawe van jouself te word en die wêreld om jou positief te beïnvloed. Laat kuns toe om op sy eie meriete te staan vir wat dit vir jou as persoon doen en wat dit vir die mensdom as geheel doen.


In hierdie artikel bespreek ons die volgende voordele van visuele kuns op die brein:

  1. Neurobiologiese Voordele.2. Kognitiewe Voordele.3. Sielkundige Voordele.4. Lewenstyl Gehalte en Prestasie Voordele.



1. Neurobiologiese Voordele.

Neurobiologie verwys na die biologiese studie van die brein se anatomie, fisiologie en senuweestelsel. Die brein is die mees komplekse orgaan van die menslike liggaam. Dit bestaan uit die serebrum (verdeel in twee hemisfere), breinstam, serebellum, komplekse organisering van grysstof en witstof en neurochemikalieë. Die brein prosesseer, koördineer en integreer inligting en beheer die meeste van die liggaam se funksies.

·       Om visuele kuns te skep verhoog breinplastisiteit.

Neuroplastisiteit, ook bekend as breinplastisiteit en neurale plastisiteit, is die brein se vermoë om veranderinge regdeur jou lewe te ondergaan. Hierdie funksie stel die brein in staat om nuwe verbindings te vorm of bestaande verbindings te verander (deur middel van sinapse, die strukture wat neurone in staat stel om ’n elektriese of chemiese sein na ’n ander neuron te stuur), amper asof om self te herbedraad (“re-wire”). Plastisiteit bepaal die aantal verbindings en hoe hierdie verbindings geraak word asook hoe lank hierdie verbindings sal duur. Breinplastisiteit maak ook voorsiening vir verandering in die volume van grysstof. Sonder plastisiteit is dit nie moontlik vir die brein om vanaf baba jare na volwassenheid te ontwikkel nie. Die brein sou ook nie van ’n besering kan herstel nie.

Wanneer jy deelneem aan ’n onbekende of komplekse aktiwiteit, skep jou brein nuwe verbindings tussen die breinselle. ’n Duitse navorsingspan het ’n artikel getiteld ‘Hoe Kuns jouBrein Verander: Differensiële Effekte van Visuele Kunsproduksie en KognitieweKunsevaluering oor Funksionele Brein Konnektiwiteit’ gepubliseer, waarin hulle die skepping van kuns en die evaluering van kuns vergelyk het. Hul bevindings het tot die gevolgtrekking gekom dat wanneer jy visuele kunste skep, dit kommunikasie tussen verskillende streke van die brein stimuleer, wat die brein dwing om te verander of nuwe verbindings te skep. Deur middel van fMRB (“fMRI”), kon die navorsers groter ruimtelike verbetering in funksionele konneksie van die agterste gesinguleerde korteks [“posterior cingulate cortex” (“PCC”)] en prekuneus [“precuneus” (“preCUN”)] na die voorste en spesifieke dele van die parietale kortikale (“parietal cortices”) sien. Kunsevaluering het nie verbeterde resultate op hierdie gebied opgelewer nie.


2. Kognitiewe Voordele.

Kognisie is die verstandelike aksie of proses om kennis en begrip te verkry deur middel van gedagtes, ervaring en sintuie. Wanneer jy kuns skep word jou brein se kognitiewe vermoëns op verskeie maniere uitgeoefen, wat lei tot verbeterde breinfunksionering.

·       Om visuele kuns te skep verbeter geheue.

Die neurologiese voordele van kuns te skep sluit die bevordering van breinplastisiteit in, wat ’n groot rol speel in konnektiwiteit tussen die verskillende dele van die brein, soos genoem. Hierdie verbindings het ook ’n impak op die manier waarop ons brein nuwe inligting inneem, verwerk, stoor en die lengte hoe lank dit sal duur – met ander woorde die kognitiewe vermoëns wat verband hou met ons geheue.

Die mediale temporale lobbe is sentrale komponente in die verwerking van geheue. In dieselfde artikel ‘HoeKuns jou Brein Verander: Differensiële Effekte van Visuele Kunsproduksie enKognitiewe Kunsevaluering oor Funksionele Brein Konnektiwiteit’, het navorsers gesê dat die kreatiewe proses van kunsproduksie lei tot verbeterde geheueverwerking, aangesien dit vereis dat gestoorde inligting verbind word met nuwe inligting. Dit is bewys deur die verhoogde funksionele konnektiwiteit in die agterste gesinguleerde korteks [“posterior cingulate cortex” (“PCC”)] en prekuneus [“precuneus” (“preCUN”)] in die middel temporale girus [“middle temporal gyrus” (“MTG”)] en superieur temporale girus [“superior temporal gyrus” (“STG”)].

·       Om visuele kuns te skep verbeter meetkundige redenering deur visuospatiale vermoëns.

Visuospatiale funksie, of ook genaamd visueel-ruimtelike funksie, verwys na die brein se kognitiewe prosesse rakende visuele persepsie van ruimtelike verhoudings. Dit behels die vermoë om ruimte te identifiseer, integreer en ontleed asook die besonderhede, struktuur en ruimtelike verhoudings in meer as een dimensie van die vorm daarvan. Sulke vaardighede word benodig vir beweging, ruimtelike navigasie en diepte- en afstandswaarneming.

Kuns is baie afhanklik van vorms, fatsoene, spasies en lyne. Hierdie elemente is ook teenwoordig in meetkunde, alhoewel dit ’n ander funksie verrig. Meetkundige redenasie gebruik kritiese denke, logiese argumente en ruimtelike redenering om verhoudings te vind en probleme op te los. ’n Studie deur Pablo Tinio, PhD, en Roni Reiter-Palmon,PhD, het die verhouding tussen visuele kunsstudies teenoor dramastudies tot die meetkundige redeneringsvermoë van kinders getoets, wat in hul graad 9-skooljaar begin het, tot aan die einde van graad 10. Die resultate het getoon dat kinders wat in visuele kunsstudies betrokke was, het meer in meetkundige redenasie verbeter as kinders wat in dramastudies betrokke was. Visuele kuns kan dus ’n middel wees om wiskunde punte in die skool te verbeter, maar ook nuttig wees vir ander beroepe wat baie staatmaak op meetkunde in hul werk.

·       Om visuele kuns te skep verbeter jou koördinasie.

Wanneer jy kuns skep, word fyn motoriese vaardighede en uitstekende hand-oog-koördinasie benodig vir die gebruik van verskillende gereedskap. Byvoorbeeld om te teken met potlode, penne en kryte, of die gebruik van ’n kwas om te verf, of om ’n beeld te vorm met klei ens. Kuns koördineer die klein spiere van die vingers en hande met die oë en bevorder knaphandigheid en akkuraatheid van hierdie vaardighede.

·       Om visuele kuns te skep korreleer met hoër akademiese prestasie.
’n Studiewat in 2007 deur Ellen Winner en Lois Hetland van die kunsopvoedingsprogram, Project Zero, by die Harvard Nagraadse Skool vir Opvoedkunde, gepubliseer is, het bekend gemaak dat daar geen wesenlike bewyse is dat betrokkenheid in visuele kunste soos skilderkuns, tekening en beeldhoukuns akademiese prestasie direk kan verbeter nie. Hul bevindinge dui daarop dat as ’n kind byvoorbeeld met wiskunde sukkel dit nie ’n geskikte en effektiewe manier is om daardie probleme op te los deur kunsklasse te begin neem nie. Verder was hul bevindinge oor die uitwerking van kuns op ander nie-kunsverwante vaardighede ook onbeslis.

Natuurlik was hul verslag met mate van teenkanting ontvang, met sommige wat terugverwys het na vorige studies, soos die verslag deur die ArtsEducation Partnership, wat tot die gevolgtrekking gekom het dat kuns positiewe akademiese voordele vir geletterdheid en wiskunde insluit. Sommige het ook kommer uitgespreek oor die gebrek aan herhaling van die uitkoms van hul studies, en verklaar dat daar nog baie navorsing oor die onderwerp gedoen moet word.

Nietemin het Winner en Hetland nie teruggestaan van hul bevindings nie. Hulle is self baie passievol oor kuns en het gesê dat kuns op sy eie voorwaardes meriete moet verdien, nie in verhouding tot ander akademiese vakke nie. Net soos Wetenskap nie ‘geldigheid’ van ander gebiede af benodig nie (alhowel dit beïnvloed word en invloedryk is op ander). Daar is baie groter voordele wat verkry kan word deur kuns wat nie andersins verkry kan word nie. Sulke voordele kan ook nie gekwantifiseer word deur gestandaardiseerde toets resultate nie. Hierdie voordele kan aspekte insluit soos om jou met die groter wêreld te verbind, soos aangedui in die 2005-verslag van Rand Corporation.

Dit blyk uit ’n oorvloed van verslae dat kuns kinders help om akademies te presteer op ’n manier waarop die raaisel nog nie wetenskaplik opgelos is nie. Die NasionaleVergadering van Staatskunsagentskappe (NVSKA)(“NASAA”) wat ’n steekproef geneem het van 25 000 Amerikaanse studente met ’n hoë vlak van kunsopleiding ervarings, het getoon dat hierdie studente hoër jaar-eind punte behaal het en beter in gestandaardiseerde toetse gedoen het in vergelyking met studente met min of geen betrokkenheid by die kunste nie. Baie soortgelyke assesserings het tot dieselfde gevolgtrekking gekom. Die Centerfor Arts Education het in hul 2009-verslag gepubliseer dat daar ’n positiewe verband tussen kunsopvoeding en gradeplegtigheidkoerse (“graduation rates”) is. Dit beteken dat skole wat die minste toegang tot kunsopvoeding bied, die hoogste uitsakkoerse (“dropout rates”) gehad het en skole wat die meeste aangebied het die hoogste gradeplegtigheidkoers gehad het. Alhoewel daar baie ander veranderlikes hier betrokke is, impliseer hierdie bevindings dat die integrasie van kuns met ander vakke help met akademiese prestasie.

·       Om visuele kuns te skep verbeter jou taal- en begripsvaardighede.

Vir jong kinders wat nog in hul ontwikkelingsfases is, bied die daad van kuns skep die geleentheid om woorde te leer vir verskillende kleure, vorms, materiale en aksies. Hulle sal uiteindelik hierdie beskrywende woorde begin gebruik om oor hul eie kunswerke te praat, asook hul gevoelens oor kunswerke en ander kunsverwante en nie-kunsverwante opderwerpse verbaal uit te druk. Hierdie onderwerpe kan insluit: emosies, innovasie en kreatiwiteit, abstrakte konsepte en intelligente redenasie.


Dit word ondersteun deur ’n kunsstudie genaamd LearningThrough Art wat by die Solomon R. Guggenheim Museum gedoen is. Die studie het behels dat kinders by kunstenaars leer oor kuns en dat die kunstenaars hulle help om hul eie werke te skep. Hul bevindings het getoon dat die kinders wat aan hierdie program deelgeneem het, het hoër punte behaal in ses verskillende kategorieë van kritiese denk- en geletterdheidsvaardighede (meer in die mondelinge eksamen as die skriftelike eksamen) as die kinders wat nie deelgeneem het nie. Daar word voorgestel dat hulle hoër punte gekry het omdat hulle waardevolle kritiese-denkvaardighede tydens hul besprekings oor kuns aangeleer het.



3. Sielkundige Voordele.

Die brein is verantwoordelik vir jou geestelike toestande. Kuns kan die sielkundige aspekte van jou verstand, soos jou gemoed en emosies, op verskillende maniere beïnvloed, aangesien dit so uiteenlopend kan wees. Terwyl kuns beslis nie net oor opheffende of rustige onderwerpe (soos reënboë en watervalle) moet handel nie, kan die werklike kreatiewe proses om kuns te skep opheffend wees. Om kuns te skep is intellektueel stimulerend, aangesien dit voorsiening maak vir self-ekspressie, kreatiwiteit en innovasie. Kunsproduksie verlig stres en lewer baie ander positiewe geestelike uitkomste op.

·       Om visuele kuns te skep verminder stres.

Dr. Girija Kaimal, assistent professor aan die Departement van Kreatiewe Kunsterapieë, Drexel Universiteit, het onlangs die bevindings van ’n studie wat sy gelei het vir die effek van kuns op stres in ’n artikel genaamd ‘Vermindering van Kortisolvlakke en Deelnemers se Reaksies’ gepubliseer. Die studie het bevind dat 45 minute van die skep van kuns tot beduidende verlaagde kortisolvlakke in die liggaam gelei het.

Cortisol is ’n steroïedhormoon wat ’n verskeidenheid prosesse reguleer. Dit sluit in metabolisme, bloedsuikervlakke en immuunreaksie, asook vermindering van inflammasie en hulp met die formulering van herinneringe. Kortisol word ook dikwels die “streshormoon” genoem as gevolg van die verband met stresreaksie. Hoër kortisolvlakke korreleer met hoër vlakke van stres.

Die wetenskaplike studie deur dr. Girija Kaimal se span het getoon dat 75% van die deelnemers laer kortisolvlakke gehad het, wat op laer stresvlakke aandui, nadat hul kuns geskep het. Hul harttariewe en bloeddruk was ook laer. Die kalmerende en stresverligtende effek is bevestig deur skriftelike dokumentasie deur die deelnemers self.

Die deelnemers se ondervinding met die skep van kuns voor die studie en natuurlike kunstalent (of gebrek daaraan) het nie ’n uitwerking op die uitslae van die resultate gehad nie. Vir sommige is dit dalk goeie nuus, aangesien dit beteken dat jy nie ’n indrukwekkende beeldhouer en skilder soos Michelangelo hoef te wees om die stresverligtende voordele van kreatiwiteit te ervaar nie.

·       Om visuele kuns te skep bou jou selfvertroue en selfbeeld.

Alhoewel daar ’n verband is tussen selfvertroue en selfbeeld, is dit nie presies dieselfde nie. Lees ons blog artikels Hoe om ’n gesondeselfbeeld te ontwikkelen 5 Wenke om jouselfvertroue binne en buite die klaskamer op te bouvir inligting oor die verskille en hoe jy dit op ander maniere kan verbeter.

Om kuns te skep is ’n wonderlike manier waarop jy vertroue in jou eie vermoëns, asook jou selfbeeld, kan bou. Wanneer jy kuns skep, laat jy jouself en ander toe om meer oor jou te leer, deur self-ekspressie. Dit is ’n goeie manier om jouself en jou werk bloot te stel. Kuns stel jou in staat om gesprekke te begin en besprekings te hê oor jou kuns en ander kunswerke en kunstenaars. Dit is ’n manier om te leer hoe om jou werk krities te beoordeel, te leer wat ander daarvan dink en te groei in die proses. Jy sal leer dat nie almal van jou werk sal hou nie en nie almal sal dieselfde van elke kunswerk hou of nie hou nie. Jy sal leer om hul menings te waardeer – soms kan jy waardevolle dinge uit hul ervarings leer en goeie advies kry. Jy sal ook leer om na jouself te luister en dikwels teen dit wat ander sê te gaan. Dit is hoe baie groot deurbraak-werke tot stand gebring is – deur kunstenaars wat uniek was en risiko’s geneem het. Kuns sal jou help om jou eie identiteit te vind en te bevestig.


4. Lewenstyl Gehalte en Prestasie Voordele.

Visuele kunste kan ander aspekte van jou lewe verbeter en jou toelaat om ’n gelukkige, gebalanseerde en vervulde lewe te lei.

·       Om visuele kuns te skep verhoog kreatiwiteit.
Die skep van visuele kunste vereis natuurlik ’n mate van kreatiwiteit, as dit nie reeds duidelik was nie. Kreatiwiteit is egter nie net ’n vaardigheid waarmee jy gebore is of nie. Kreatiwiteit kan geleer en verbeter word, soos op dieselfde manier as wat oefening jou spierkrag verbeter. Kuns moedig jou aan om dinge vir jouself uit te vind. Hierdie vaardighede en vermoëns kan dikwels net verkry word deur dit self te doen, deur verkenning. Elke kunstenaar het ’n unieke manier van dink, werk, ens. wat bydra tot die uniekheid van ’n kunswerk.

Kunsopvoeding is ’n platform wat kinders die geleentheid bied om te leer, te groei en te ontwikkel buite die vaardighede wat in die klas geleer word. Die blote daad om verskillende kleure verf te meng moedig jong kinders aan om risiko’s te neem, wat ’n mate van nuuskierigheid sal bevorder om uit te vind hoe ver hulle grense kan verskuif om iets nuuts te skep. Uiteindelik leer dit hulle om hulself te druk op maniere buite die omvang van net die meng van verf. Hierdie ingesteldheid is ’n groot bate om as ’n volwassene te hê.

Om kreatief, vindingryk en innoverend in die samelewing te wees beteken dat jy oplossings vir probleme kan vind op maniere wat uniek en meer doeltreffend is as om net tradisies en aanwysings te volg. Hierdie eienskappe laat jou toe om op verskeie maniere positief by te dra tot die samelewing en dit te verbeter. Dink aan die vindingryke uitvindings en dienste wat ons wêreld verander het. Daar het baie ure van baie harde werk en kreatiewe probleemoplossing daarin gegaan.

Kunsklas kan wel ’n waardevolle bydraende faktor wees wanner ’n maatskappy die besluit moet neem om jou as Hoof Uitvoerende Beampte (“CEO”) aan te stel, in plaas van ’n ewe-hardwerkende en gekwalifiseerde, maar nie-kreatiewe, werknemer wat ook vir dieselfde posisie aansoek gedoen het. Hierdie stelling word ondersteun deur meer as 60% van 1 500 Hoof Uitvoerende Beamptes van 60 lande en 33 nywerhede wêreldwyd wat deelgeneem het aan die IBM 2010 Global CEO Study. Hulle het kreatiwiteit aangewys as die belangrikste faktor wat nodig is vir sukses in die toekoms.



Deur hierdie artikel hoop ons om jou te inspireer om kuns te skep, deur jou ook bewus te maak van die vele voordele van kuns. Dit is ’n uitstekende manier van uitlating en wonderlike manier om jouself uit te druk. Jy sal ’n wêreld ontdek waarin jy wonders kan vind, en ’n bietjie van daardie wonders saam met jou terugbring en dit met die res van die mensdom kan deel.

Laat weet ons watter soort visuele kuns jy die meeste geniet om te skep.

As jy van hierdie artikel oor die brein gehou het, kan jy gerus hierdie artikels oor die brein en ander buitemuurse aktiwiteite lees:

Maandag, 06 Augustus 2018

4 Voordele van musiek op die brein


Om ’n instrument te bespeel is nie net uitstekend om jouself kreatief uit te druk nie, maar verbeter ook jou brein funksies, wat lei tot positiewe uitwerkings op jou lewenskwaliteit.



Duits-gebore teoretiese fisikus Albert Einstein het eenkeer gesê: “Die lewe sonder om musiek te speel, is ondenkbaar vir my. Ek leef my dagdrome in musiek uit. Ek sien my lewe in terme van musiek... Ek kry die meeste vreugde in die lewe uit musiek uit.”

Daar mag dalk meer wees tot hierdie aanhaling van die vindingryke wetenskaplike genie, Nobel-pryswenner en persoon van die 20ste eeu volgens die tydskrif Time, as wat jy sou dink. Is dit moontlik dat musiek nie net as ’n genotvolle stokperdjie vir Einstein gedien het nie, maar ook bygedra het tot sy intellek? Sy musikale lewe het gepaard gegaan met sy wetenskaplike lewe, wat dikwels onafskeidbaar was. Dink daaroor! As ’n genie wat verantwoordelik is vir ’n beduidende aantal van die 20ste eeu se wetenskaplike deurbrake, wat vir altyd ons wêreld verander het, so sterk gevoel het oor hoeveel musiek sy lewe beïnvloed het, is dit dalk die moeite werd om dit verder te ondersoek...

Einstein het groot geword in ’n musikale huis, aangesien sy ma, Pauline Koch Einstein, ’n talentvolle pianis was. Sy het Einstein op die ouderdom van ses aangemoedig om die viool te begin speel en het ook vir hom klavier geleer. Dit is ook waardig om op hierdie stadium te noem dat Einstein baie stadig ontwikkel het gedurende sy vroeë kinderjare. Hy het eers op die ouderdom van vier jaar begin praat, sy formele skoolopleiding op ses jaar begin en eers op die ouderdom van sewe begin lees. Trouens, baie het aanvanklik gedink hy was geestelik gestremd as ’n kind. Tog het hy geweldige vordering gemaak en Latyn en Grieks op die ouderdom van tien begin leer en op die ouderdom van dertien kon hy Mozart se viool sonates speel.

So, kon die blootstelling aan musiek bygedra het tot die ontwikkeling van sy kognitiewe vermoëns as ’n jong kind en selfs verder as ’n volwassene? Alhoewel ons nie terug kan gaan in tyd na Einstein se kinderjare om sulke eksperimente uit te voer nie, is dit beslis baie aanneemlik.

Volgens wetenskaplikes is daar sterk bewyse wat daarop dui dat musikale opleiding die breinstruktuur en breinfunksie vir die beter kan verander. ’n Onlangse studie deur neurowetenskaplikes, insluitendeNadine Gaab, PhD, onder andere, van die Laboratoriums van KognitieweNeurowetenskap by die Boston Children’s Hospital, kom tot die gevolgtrekking dat daar ’n korrelasie (moontlik ’n biologiese verband) bestaan tussen vroeë musikale opleiding en verbeterde uitvoerende funksionering. Die stimulering van die brein tydens die speel van ’n instrument verbeter uitvoerende funksies (wat verantwoordelik is vir die regulering en aanpassing van gedrag en aksies, verwerking en behoud van inligting en oplossing van probleme) en kognitiewe funksies (wat geheue en abstrakte redeneringsvaardighede insluit). Uitvoerende funksionering is veral ’n kragtige aanwyser van akademiese prestasie – selfs meer as IK!


Musiek het so ’n sterk uitwerking op ons gedagtes. Trouens, jou brein vind meer baat deur ’n musiekinstrument te speel as enige ander aktiwiteit – insluitend sport! Bekroonde Neuromusiekale Opvoeder Dr Anita Collins verduidelik in haar TED Ed les dat jy breinaktiwiteit met fMRB (“fMRI”) en PET skandeerders kan monitor om hierdie stelling te ondersteun. Wanneer ’n sekere aktiwiteit uitgevoer word, soos om te lees of ’n wiskunde probleem op te los, verhelder die ooreenstemmende dele van die brein op die monitors. Toe hulle die breinaktiwiteite van individue wat na musiek luister waargeneem het, het verskeie areas verhelder – soos vuurwerke! Maar toe wetenskaplikes die breins van persone wat na musiek luister met dié van musikante vergelyk, het hulle gevind dat die klein vuurwerke van die eersgenoemde te kort geskiet het in vergelyking met die ontploffing wat in musikante se breins aangaan wanneer hul ’n instrument speel. As jy ’n musiekinstrument speel, is dit die ekwivalent van ’n volle-lyf oefensessie vir die brein! Dit betrek byna elke aspek van die brein. Nietemin, die liggaam is ook baie betrokke wanneer mens ’n instrument speel.

Voordat ons begin debateer rondom die moontlike oorweging om jou huidige buitemuurse aktiwiteit vir musiek te moet verruil, moet jy weet dat ’n artikel wat gepubliseer is in Labour Economics, van die studie wat uitgevoer is deur Charlotte Cabanea en Michael Lechner van SEW en Adrian Hilleb van DIW Berlyn, onthul het dat kinders wat beide musiek en sport doen, hoër akademiese prestasie behaal in vergelyking met kinders wat net aan een of die ander deelneem. As jy belangstel in die voordele van sport op die brein, wat net so fassinerend is, lees asseblief ons artikel “4Voordele van oefening en sportaktiwiteite op die brein”.

In hierdie artikel bespreek ons die volgende voordele van musiek op die brein:

  

1. Neurobiologiese Voordele.2. Kognitiewe Voordele.3. Sielkundige Voordele.4. Lewenstyl Gehalte en Prestasie Voordele.



1. Neurobiologiese Voordele.

Neurobiologie verwys na die biologiese studie van die brein se anatomie, fisiologie en senuweestelsel. Die brein is die mees komplekse orgaan van die menslike liggaam. Dit bestaan uit die serebrum (verdeel in twee hemisfere), breinstam, serebellum, komplekse organisering van grysstof en witstof en neurochemikalieë. Die brein prosesseer, koördineer en integreer inligting en beheer die meeste van die liggaam se funksies.

Onlangse studies wat bepaal is deur middel van breinskanderings wys dat daar ’n verskil is in breinstruktuur van musikante in vergelyking met dié van nie-musikante. Die navorsing dui daarop dat die vorm en krag van die brein verander word deur gereeld ’n instrument te speel en dat die anatomiese veranderinge meer prominent is wanneer musikante hul instrument(e) op ’n jonger ouderdom begin leer.

Deur ’n musiekinstrument te speel verhoog die volume grysstof in verskillende gedeeltes van die brein.

Die resultate van ’n studie deur Christian Gaser en Gottfried Schlaug op drie groepe mense, insluitend professionele musikante, amateur musikante en nie-musikante, het gewys dat daar ’n beduidende positiewe verband is tussen die musikant-status en die toename in die volume grysstof. Met ander woorde, professionele musikante het die hoogste volume grysstof vertoon, amateur musikante het matige hoeveelheid vertoon en die laagste volume is vertoon in nie-musikante. Die verskille in die verspreiding van grysstof volume, was in ouditiewe-, visuele- en motoriese kortikale.

·       Deur ’n musiekinstrument te speel verhoog die grootte van die corpus callosum in jou brein.

Nie net is die volume grysstof hoër in die brein van ’n musikant nie, maar ook die volume en aktiwiteit van die corpus callosum – die “brug” van enorme senuweevesel bondels wat verantwoordelik is vir die langafstand-verbindings tussen die twee hemisfere van die brein. Die fyn motoriese vaardighede wat nodig is om ’n musiekinstrument te speel, word beheer in beide hemisfere van die brein. Die linker-hemisfeer is betrokke by taalkundige en wiskundige akkuraatheid, terwyl die regter-hemisfeer betrokke is by nuwe en kreatiewe inhoud. Verhoogde volume en aktiwiteit van die corpus callosum laat die boodskappe toe om vinniger en deur meer diverse roetes oorgedra te word.

·       Deur ’n musiekinstrument te speel verhoog die bloedvloei in jou brein.

Deur selfs vir ’n kort rukkie ’n musiekinstrument te speel, sal die bloedvloei na die linker-hemisfeer van die brein verhoog. Verhoogde bloedvloei na die brein sal ook vir jou meer energie gee.

2. Kognitiewe Voordele.

Kognisie is die verstandelike aksie of proses om kennis en begrip te verkry deur middel van gedagtes, ervaring en sintuie. As jy ’n musiekinstrument speel, kan jy jou kognitiewe vermoëns verbeter.

·       Deur ’n musiekinstrument te speel verbeter jou konsentrasie.

Musikante moet gelyktydig op verskeie dinge konsentreer wanneer hulle ’n instrument speel. Dit sluit in toonhoogte, ritme, tempo, duur en kwaliteit van die noot – alles om ’n musiekstuk uit te voer met presiese tegnieke en emosie. Daar word van musikante verwag om op nog meer aspekte te konsentreer tydens ’n uitvoering wanneer hulle met ’n ensemble of groep speel, waar almal fokus op hul eie unieke melodie en harmonie wat ook toonhoogte, ritme, tempo, duur en kwaliteit van note insluit.

·       Deur ’n musiekinstrument te speel verbeter uitvoerende funksies

’n Studie oor musikaal-opgeleide kinders en volwasse musikante het tot die gevolgtrekking gekom dat hulle verhoogde prestasie ervaar vir verskeie aspekte van uitvoerende funksionering. Dit sluit in beplanning, strategiese uitvoering, fokus op detail, probleemoplossing, behoud van inligting, beheer van gedrag en gelyktydig kognitiewe en emosionele aspekte te analiseer. ’n fMRB (“fMRI”) het bevestig dat die aktiwiteit in spesifieke areas van die prefrontale korteks verbeter was tydens ’n toets wat hulle laat omskakel het tussen verstandelike opdragte.

·       Deur ’n musiekinstrument te speel verbeter geheue.

Uitvoerende funksionering beïnvloed ook hoe die brein se geheue-stelsels werk. Deur ’n musiekinstrument te speel en na musiek te luister, kan geheue-funksies verbeter, sodat herinneringe vinniger en meer doeltreffend geskep, gestoor en opgespoor kan word. Navorsing toon ook aan dat musikante hul hoogs gekoppelde breins gebruik om verskeie etikette, soos “klank”, “visueel”, “kontekstueel”, “konseptueel”, “emosioneel” ens. op herinneringe plaas – soortgelyk aan ’n internet-soekenjin.

Twee algemene tipes geheue word gevind, naamlik korttermyngeheue en langtermyngeheue.

Korttermyngeheue is die brein se vermoë om ’n klein hoeveelheid inligting te stoor wat binne ’n kort tydjie geredelik toeganklik is. Korttermyngeheue word dikwels beskou as sinoniem met werkgeheue, alhoewel werkgeheue meer akkuraat verwys na die raamwerk van prosesse wat gebruik word om die data wat in korttermyngeheue gestoor is, te verstaan, interpreteer en manipuleer.

Om ’n musiekinstrument te speel vereis ’n hoë werkgeheue-las. Om baie musiek komposisies of liedjies, soms met lirieke, in ’n kort tydperk te leer en te onthou, soos dikwels van musikante vereis, is ’n baie indrukwekkende prestasie. Wanneer musikante gereeld hul instrumente beoefen, brei hulle hul werkgeheue-kapasiteit uit. ’n Verhoogde werkgeheue-kapasiteit sal verbeterde denkvaardighede oplewer.

Wanneer korttermyngeheue behoue word na meer as 2 minute van die aanvanklike stimuli, word dit langtermyngeheue. Langtermyngeheue is die brein se vermoë om data onbepaald te stoor. ’n Navorsingsstudie onder leiding van akademiese professorPetri Toiviainen, PhD, van die Finse Sentrum vir Interdissiplinêre Musieknavorsing SIMN (“CIMR”) aan die Universiteit van Jyväskylä en Elvira Brattico, PhD, aan die Universiteit van Aalto en die Universiteit van Helsinki, het bevind dat die hippokampus, die deel van die brein wat verantwoordelik is vir die berging van langtermyngeheue, aktief is wanneer jy na herhaalde musiek motiewe of musikale frases in ’n komposisie luister.

·       Deur ’n musiekinstrument te speel verhoog jou IK en verbeter jou akademiese prestasie.

Musieklesse bepaal vooraf hoë akademiese prestasie en IK-tellings by jong kinders. Die uitkoms van ’n navorsingsstudie wat ’n groep van 6-jariges ingesluit het wat sang of klawerbord lesse vir 36 weke geneem het, het toename in IK en gestandaardiseerde opvoedkundige toets uitslae getoon, in vergelyking met kinders wat aan ander nie-musiekverwante buitemuurse aktiwiteite deelgeneem het.

·       Deur ’n musiekinstrument te speel verbeter jou lees- en begripsvaardighede.

Kinders wat musiekinstrumente speel, en veral diegene wat bladmusiek lees, toon hoër kognitiewe prestasie in lees- en begripsvaardighede in vergelyking met hul nie-musikaal-opgeleide eweknieë. Die rede hiervoor is dat om ’n instrument te speel en gelyktydig bladmusiek te lees beteken dat jy die toonhoogte, ritme en duur van ’n noot op ’n bladsy moet erken, sowel as ander instruksies, soos ekspressie en artikulasie, dit te verstaan en te omskep na ’n vingerposisie en liggaamlike aksie om ’n geluid op jou instrument te produseer.

·       Deur ’n musiekinstrument te speel verbeter jou wiskundige vermoë.

Om musiek te lees word jy vereis om note en ritmes te tel. Dit kan jou wiskundige vermoë ongelooflik verhoog. Musiekteorie behels ook baie wiskundige aspekte. Kinders wat instrumente speel, kry dikwels hoër punte in wiskunde, asook ander vakke op skool, in vergelyking met kinders wat nie ’n musiekinstrument speel nie.


3. Sielkundige Voordele.

Die brein is verantwoordelik vir jou sielkundige en geestelike toestande en musiek beïnvloed die sielkundige aspekte van die brein op ’n baie positiewe en stimulerende manier.

·       Deur ’n musiekinstrument te speel verminder stres.

Om musiek te peel of te luister kan stres verlig. Dit is as gevolg van die kalmerende en ontspannende effek wat musiek op ’n mens het. Dit is ’n aangename ervaring wat die polsslag, hartklop en bloeddruk verlaag en die vlakke van streshormone verminder.

·       Deur ’n musiekinstrument te speel verbeter jou gemoed en gelukkigheid.

Wanneer jy na musiek luister kan dit jou op ’n natuurlike hoë geestestoestand plaas. Dit is as gevolg van die brein wat die neurotransmitter, dopamien, vrystel, wat lei tot verhoogde gelukkigheid, vreugde, opwinding en algehele welsyn.

·       Deur ’n musiekinstrument te speel bou jou selfvertroue.

Om ’n instrument te speel is ’n wonderlike hulpmiddel wat jou kan help om jou selfvertroue te bou en dit moontlik te maak om jouself te ontdek deur self-ekspressie. Namate kinders hul musiekkuns ontwikkel, sal hulle waarskynlik voor klein gehore begin optree, eers voor musiekonderwysers en ouers, later voor ander eweknieë en uiteindelik in konserte speel. Dit sal hulle help om gemaklik te wees om hulself en hul werk uit te druk voor ander mense in ’n nie-akademiese konteks.

·       Deur ’n musiekinstrument te speel verminder depressie.

Depressie is ’n toestand van lae gemoed wat ’n persoon se gedagtes en gedrag kan beïnvloed en afkerig tot aktiwiteit kan veroorsaak. ’n Depressiewe bui is dikwels ’n normale reaksie op negatiewe en traumatiese lewenservarings – soos die verlies van iemand naby aan daardie persoon, verwerping, siekte ens. Depressie word beskou as ’n siekte, of, meer gepas, ’n geestelike wanorde, sodra dit ’n paar weke duur met konsekwente simptome wat ontwrigting veroorsaak in ’n persoon se vermoë om normaal te funksioneer. Dit gaan gepaard met die verlies van belangstelling in aangename aktiwiteite en lae selfwaarde. Depressie kan veroorsaak word deur genetiese en/of omgewingsfaktore.

Ons hormone speel ’n kritieke rol in ons gemoedstoestande, en as dit uit balans is of ontwrig word, kan dit onder meer depressie veroorsaak. Musiek het ’n direkte effek op ons hormone. Wanneer jy musiek ervaar, deur na dit te luister of ’n instrument te speel, word die neurotransmitters serotonien en dopamien in die brein vrygestel. Hierdie neurotransmitters is verantwoordelik vir die verhoogde gevoelens van vreugde, gelukkigheid en algehele welsyn. Norepinefrien, die hormoon wat verantwoordelik is vir gevoelens van euforie, word ook vrygestel.


4. Lewenstyl Gehalte en Prestasie Voordele.

Musiek kan ander aspekte van jou lewe verbeter en jou toelaat om die lewe ten volle te geniet. Plato het gesê: “Musiek is ’n morele wet. Dit gee ’n siel aan die heelal, vlerke aan die gees, vlug aan die verbeelding, ’n sjarme aan hartseer, en lewe aan alles. Dit is die kern van orde en lei tot alles wat goed, regverdig en mooi is, waarvan dit die onsigbare, maar nietemin skitterende, passievolle en ewige vorm is.”

·       Deur ’n musiekinstrument te speel verbeter sosialiseringsvaardighede.

Deur ’n musiekinstrument te speel help dit jou om op ’n unieke wyse aan gesprekke deel te neem, as gevolg van verhoogde kognitiewe vermoëns en verhoogde begrips-, ouditiewe- en taalvaardighede. Jou brein sal kreatief kan dink en abstrakte gedagtes kan vermaak, wat interessante gesprekke tot gevolg sal hê.

·       Deur ’n musiekinstrument te speel versterk jy bande met ander.

Om musiek te speel in ’n groep, ensemble of orkes sal jy belangrike vaardighede leer, soos om met ander mense op te tree en saam te werk. Om goeie musiek saam te speel en te skep moet die spelers leer hoe om liggaamstaal te lees, op klein besonderhede op te let en te luister na mekaar. Dikwels is ’n emosionele konneksie ook betrokke wanneer mense dieselfde gevoelens in harmonie uitdruk of hul bydrae lewer om ’n storie te vertel deur musiek.

·       Deur ’n musiekinstrument te speel verbeter jou tydsbestuursvaardighede.

Tydsberekening en tempo, insluitend musiek pouses, is noodsaaklik om ’n komposisie musikaal te laat klik. Nog meer, die proses om te leer hoe om ’n musiekinstrument te speel, is baie afhanklik van tyd- en tydsbestuur. Deur te leer hoe om jou tyd, skedules en roetine te organiseer is noodsaaklik. Die kwaliteit van oefentyd is meer waardevol as die hoeveelheid. Jy sal baie vinniger vordering maak met die korrekte oefen-regime wat uitbeplan is. Dit sal jou help om jou oefentyd meer doeltreffend te maak.

·       Deur ’n musiekinstrument te speel verhoog jou koördinasie.

Om ’n instrument te speel en musiek te lees, vereis beter hand-oog-koördinasie. Wanneer jy musieknotasie op ’n bladsy lees, herken jou brein elke noot, begryp dit en skakel dit oor in spesifieke motoriese patrone, soos ’n vingerposisie en liggaamlike beweging wat die klank sal produseer.



Ons hoop dat jy geïnspireer voel om ’n instrument te wil begin speel en musiek te maak. Musiek kan jou brein bevoordeel, wat uiteindelik jou lewe op baie maniere sal verbeter. Maar bo alles is dit baie lekker en belonend om musiek te maak, iets wat nogal onbeskryflik is as jy dit nog nie vantevore gedoen het nie. Dit is altyd goed om so gou moontlik te begin, aangesien die effekte op die brein meer merkwaardig en blywend sal wees, maar dit is nooit te laat om te begin nie en jy moet beslis nie opgee nie! Toe die wêreldbekende tjellis, Pablo Casals, in sy 80’s gevra is waarom hy steeds vier tot vyf uur per dag oefen, het Casals geantwoord met: “Ek dink ek maak nou vordering”.

Laat weet ons watter instrument(e) jy speel of beplan om binnekort te leer.