Maandag, 18 Junie 2018

5 wenke om tydens die eksamens gemotiveerd te bly.

Jou eksamens is amper verby. Jy kan nie wag vir die vakansie nie. Hoe bly jy gefokus?



Die laaste deel voor die vakansie is altyd die moeilikste! Veral wanneer sommige van jou vriende al hul eksamens afgehandel het en jy moet nog studeer. Hoe kan jy nog gemotiveerd bly as vryheid so naby is (tog sovêr)? Daarom wil ons jou hierdie 5 super maklike wenke gee om gemotiveerd te bly om vir jou laaste eksamen te studeer.

1. Hou by die skedule.

Om by 'n skedule te hou kan baie moeilik wees tydens die laaste deel van die eksamen. Dit is omdat jy moeg is, het waarskynlik 'n verstandelike tamheid en jy wens net dat jy alreeds op vakansie kan wees. Daarom sal jou skedule of rooster jou anker wees. Maak seker dat jy in sessies van 45 minute studeer met 'n 15 minute breek tussen sessies, sodat jy nie gedurende die dag moeg word nie. Maak die 15 minute elke keer die moeite werd deur iets te doen wat jy geniet en nie net op die rusbank lê en jou foon nagaan nie. Byvoorbeeld, sit buite tydens jou pouse om vars lug in te asem, neem 'n wandeling om die blok, speel met jou troeteldier of praat met jou vriende. Onthou om by jou 15 minute te hou en na die breek na jou boeke terug te keer.

2. Vind 'n studiemaat.

Een van die dinge waarom ons bang is om vir die laaste paar eksamenvraestelle te studeer, is omdat ons FOMO (“Fear Of Missing Out”) het, want sommige van ons vriende het dalk reeds vakansie. Daar is inherent 'n gevoel dat jy dalk iets misloop en nie deel in die pret aktiwiteite van jou vriende nie. Kry 'n vriend of twee wat dieselfde aaklige eksamen skryf en waarvoor julle moet studeer. Stig 'n studiegroep. Maak seker dat hierdie studiegroep slegs hoogs gemotiveerde mense insluit, die soort vriende wat jou sal aanmoedig om te studeer en nie jou motivering laat afneem nie.

3. Verminder afleiding.

Wanneer jy vir die laaste eksamen moet studeer, is die afleidings oral! As jy gewoonlik met jou selfoon studeer of die TV is aangeskakel in die agtergrond, is jy meer geneig om nie die nuwe inligting te onthou nie. Tydens jou studie vir die laaste eksamen sal jy selfs meer geneig wees om jou foon na te gaan om te sien waaroor almal praat. Plaas eerder jou foon in 'n ander kamer as die een waarin jy studeer, skakel die TV af en fokus op jou studies.

4. Skeduleer jou versoekings.

In plaas van om te wens jy kan iets anders doen terwyl jy moet studeer, skryf die aktiwiteite neer wat jy regtig wil doen sodra die eksamen verby is, en skeduleer dit in jou dagboek. Dan sal jy minder versoek word om dit te doen terwyl jy moet studeer, want jy weet dat jy dit sal doen sodra jy met eksamens klaar is. Byvoorbeeld, as daar 'n TV reeks is wat jy graag wil kyk of wil begin kyk, skryf dit in jou dagboek sodat jy die reeks die eerste dag van die vakansie kan begin kyk. Doen dit vir elke aktiwiteit of versoeking wat in jou gedagtes opkom.

5. Hersien jou doelwitte.

Een van die mees effektiewe maniere om jou gedagtes terug te laat keer na die eksamensituasie, is om jou doelwitte te hersien. Hoe graag wil jy nog 'n onderskeiding in Lewenswetenskappe hê? Wil jy een van die top tien akademiese presteerders in jou graad wees? Wat is jou doelwitte? Hersien hulle en spits jou toe om hard te studeer sodat jy jou doelwitte kan bereik.

Die laaste paar eksamens is altyd die moeilikste om te studeer - maar leer om sterk te eindig. Voltooi jou eksamensiklus met vasberadenheid en deursettingsvermoë. Moenie opgee net voor die eindstreep nie. Dan Green het gesê: "Ongeag van wat voorheen gebeur het of wat nog nie gebeur het nie, al wat nou belangrik is, is hoe ek kies om op die uitdaging voor my te reageer. Sal ek gaan lê of sal ek veg? Die keuse is myne en ek kies om sterk te eindig. "


Laat weet ons hoe jy van plan is om gemotiveerd te bly vir die laaste eksamens en deel dit met 'n vriend wat ook 'n bietjie motivering nodig het.


Maandag, 11 Junie 2018

Wat ouers kan doen om hul kinders tydens eksamens te help.

Elke ouer wil hê hul kind goed moet doen in die skool. Hier is 'n paar idees hoe jy kan help tydens die eksamens...



Om 'n ouer te wees, beteken dat jy wil hê dat jou kinders net geluk en vreugde sal ervaar. Daarom is dit moeilik om te sien as jou kind gedurende die eksamens stres en probleme ondervind. Ons wil jou aanmoedig om nooit op te hou om in jou kind te glo nie. Matteus L Jacobson het gesê: |"Agter elke jong kind wat in homself glo, is 'n ouer wat eerste geglo het." Hier is 'n paar goeie maniere hoe jy jou kinders kan aanmoedig om hul beste te presteer.

1. Maak seker dat hulle 'n gesonde dieet het.

Een van die sleutelfaktore om in eksamens te presteer, is om 'n gesonde dieet te hê. Deur genoeg voedingstowwe in te neem en tydens eksamens gehidrateer te bly, sal jou kinders se immuniteitstelsel versterk word sodat hulle nie siek word nie en hulle meer energie het om langer en doeltreffend te studeer.

Maak seker dat hulle die oggend voor die eksamen 'n gesonde ontbyt eet. Onthou dat te veel suiker vir ontbyt later in die oggend tot 'n daling in bloedsuiker sal lei. Maak seker dat jy gesonde versnaperinge in hul dieet insluit, maar onthou ook om hulle nou en dan te bederf met 'n lekkerny - 'n paar blokkies donker sjokolade doen wondere vir die brein en help hulle om weer die middag te studeer.

2. Kyk na hul slaapsiklusse.

Soos kinders ouer word, hoef hulle nie meer ’n slapenstyd hê nie, veral as hulle tot laat saans moet studeer. Maak egter seker dat jou kind genoeg rus kry die aand voor 'n groot eksamen. Moegheid is een van die redes waarom kinders nie goed presteer in die laaste paar eksamens wat oorbly nie. Dit is belangrik om daarop te let dat indien jou kind 'n besige week van eksamens het, byvoorbeeld as hulle Maandag, Woensdag en Vrydag skryf, hulle nie Sondagaand te laat gaan slaap om te studeer nie, want hulle moet steeds teen Vrydag nog kan skryf. Volgens LiveScience benodig kinders tussen die ouderdomme van 6-13 van 9 tot 11 uur slaap elke nag, terwyl vir tieners, ouderdomme 14-17, word 8 tot 10 uur slaap 'n nag aanbeveel.
Onthou dat daar niks is om te wen deur te vereis dat jou kinders vroeg die aand voor 'n eksamen gaan slaap nie. Dit sal slegs tot konflik lei en jou kinders sal meer gestres wees omdat hulle sal voel jy waardeer nie hul studies nie. Help hulle eerder om 'n studierooster op te stel wat 'n goeie nagrus moontlik maak, en help hulle om gedurende die week daarby te hou. Wanneer hulle later moet studeer, prys hulle net vir hul harde werk en herinner hulle wat hulle nodig het om by hul skedule te hou.

3. Wortels of die lat.

'n Ou ekonomiese metafoor om te verduidelik hoe 'n gewenste uitkoms bereik kan word, is deur wortels en latte - onderskeidelik belonings en strawwe. Die metafoor is gegrond op die idee dat 'n muil óf harder werk wanneer hy 'n beloning (wortel) aangebied word of deur middel van 'n lat gestraf word. Daar word keer op keer bewys dat belonings groter resultate sal verseker.

Dieselfde beginsel geld vir jou kind se eksamen. Moenie hulle dreig met straf as hulle nie goed doen in 'n komende eksamen nie. Inspireer hulle eerder om hard te werk deur 'n beloning aan te bied, soos om na die eksamen 'n melkskommel te gaan dink. Dit hoef nie altyd 'n letterlike geskenk of iets van geldwaarde te wees nie. Vertel byvoorbeeld vir jou kinders dat wanneer hulle 'n goeie opvoeding ontvang, hulle die vermoë het om lewens te verander, hulle kan 'n besigheid begin, hulle kan 'n pragtige huis eendag besit en hulle kan 'n loopbaan hê om hul drome waar te maak. Inspireer jou kinders om te studeer omdat hulle 'n wonderlike geleentheid het om hul grootste potensiaal te bereik.

4. Vertrou hulle.

Maak altyd seker dat jou kinders se geestelike toestand versorg word. Maak seker dat hulle weet jy is daar vir hulle en dat jy sal help waar moontlik. Vra vrae soos "Wat is die interessantste ding wat jy vandag geleer het?" Of "Hoe dink jy sal die onderwyser 'n sekere hoofstuk toets?". Help hulle om oor eksamensituasies te dink en hulle te help fokus op wat belangrik is deur vrae te vra.

Jy hoef nie 24 uur per dag by jou kind te sit om seker te maak hulle studeer nie. Soms doen dit meer skade as goed om hulle te druk of te smoor. Al wat hulle nodig het, is iemand wat hulle aanspreeklik sal hou, iemand wat trots sal wees op hulle wanneer hulle studeer en hard werk.

5. Ken jou kind.

Een van die belangrikste verantwoordelikhede om 'n ouer te wees, is om seker te maak dat jou kinders fisies en geestelik versorg word. Jou kinders se geestesgesondheid vereis dat jy hulle regtig ken. Vra jouself af, weet jy regtig wat jou kinders se drome is? As jy weet wat jou kinders se drome en begeertes is, is dit baie makliker om hulle te help. Ken jou kinders se sterk punte en swakhede, weet in watter vakke hulle selfversekerd voel en waarin hulle sukkel. Hou 'n afskrif van hul eksamenrooster en maak seker dat jy hulle 'n ekstra groot drukkie gee op dae wat jy weet hulle sal gestres word.

Ons wil 'n brief met jou deel wat 'n skoolhoof in Singapoer aan die ouers van al die leerlinge uitgestuur het:



"Liewe ouers,

Die eksamens van jou kinders gaan binnekort begin. Ek weet jy is baie bekommerd dat jou kinders goed moet doen.

Onthou egter, onder die studente wat eksamen skryf, is daar 'n kunstenaar wat nie Wiskunde nodig het nie. Daar is 'n entrepreneur wat nie oor Engelse letterkunde of Geskiedenis omgee nie. Daar is 'n musikant, wie se chemie punte nie saak maak nie. Daar is 'n sportster, wie se fisieke fiksheid belangriker as Fisika is.

As jou kind top punte kry, is dit wonderlik! Maar as hy of sy dit nie behaal nie, moenie hulle selfvertroue en hul waardigheid wegneem nie. Sê vir hulle "dit is net 'n eksamen" en dat hulle uitgeknip word vir baie groter dinge in die lewe! Sê vir hulle, ongeag watter punte hulle behaal, jy is lief vir hulle en jy sal hulle nie oordeel nie. Doen dit asseblief, en as jy dit doen, kyk hoe jou kinders die wêreld oorwin. Een eksamen of 'n lae punt sal nie hul drome of talente wegneem nie.

En asseblief, moenie dink dat dokters en ingenieurs die enigste gelukkige mense in die wêreld is nie.

Vriendelike groete,
U skoolhoof. "


Ons wil elke ouer alle sterkte met hul kinders se eksamens toewens. Kyk goed na hulle, moedig hulle aan, ondersteun hulle en hê hulle onvoorwaardelik lief. Laat ons weet hoe jy jou kinders help om die eksamens te hanteer en hoe jy hulle spesiaal laat voel wanneer hulle jou die meeste nodig het.


Maandag, 04 Junie 2018

Hoe om eksamenstres te hanteer.

Hierdie tyd van die jaar is uiters moeilik en stresvol vir elke leerder. Moenie dat stres die oorhand oor jou kry nie.




Stres is die oorsaak van gesondheidsprobleme, angs en mislukte toetse vir dekades - of so mag dit voorkom. Vandag wil ons die manier waarop jy stres sien vir die res van jou lewe verander! Al kan stres verlammend wees of jou selfs siek laat voel kan stres eintlik ’n krag in jou wakker maak.

Die sleutel is om die optimale hoeveelheid spanning te bepaal sodat ons op ons beste presteer en te verstaan dat ons die manier waarop ons aan stres dink, moet verander.

Bepaal die optimale hoeveelheid spanning.

As jy gestres voel vir 'n toets, kan jy óf oorweldig, gemotiveerd of verlam voel. Hierdie drie emosies het 'n direkte uitwerking op die uitkoms van jou toets. Wetenskaplikes, Robert Yerkes en John Dodson, het 'n studie gedoen oor die effek van stres op jou prestasie. Die resultate word die beste beskryf deur middel van 'n visuele voorstelling in terme van 'n grafiek. Op hierdie grafiek verteenwoordig die x-as die hoeveelheid spanning wat jy ervaar, terwyl die y-as jou prestasievlak toon (hoe goed jy doen).

Die verhouding tussen stres en prestasie lei tot 'n klokvormige kromme. In die afdeling gemerk "A" is die spanning laag en die prestasie is ook laag. Dit dui aan waar daar geen spanning is voor 'n uitdagende gebeurtenis nie, en jy het nie die fokus en motivering om hard te werk nie. Afdeling B en C is jou optimale prestasie met matige tot hoë spanning. Dit is waar jy gemotiveerd voel om hard te werk, adrenalien pomp en jy berei jou voor om die uitdaging te bereik. Laastens, afdeling D toon dat buitengewone stres korreleer met lae prestasie. As jou stres te hoog is, word jy gemoeid met die spanning self en dit kry die oorhand oor jou, byvoorbeeld 'n gebrek aan slaap, angs of jou geheue raak skoon weg.



Wanneer jy die optimale hoeveelheid spanning bepaal het, sal jy geïnspireerd, gemotiveerd en vasberade wees om suksesvol te wees.

So, hoe kry jy die optimale hoeveelheid spanning?

  • Oefen onder eksamensomstandighede en raak gewoond aan die gevoel van eksamenstres onder beheerde omgewings. Jy kan dit doen deur Afrikaanse Skoolprojekte se eksamenvraestelle en antwoorde te gebruik.
  • Berei vooraf voor vir jou toetse sodat die werkslading nie onnodige druk op jou plaas nie.
  • Moenie jou studiewerk “cram” nie, sodat jy nie verward en gefrustreerd voel wanneer jy die eksamen skryf nie.
  • Verminder die stres wat nie met die eksamen verband hou nie. As jy byvoorbeeld 'n belangrike toets of eksamen het, moet jy nie meer stres op jou plaas vir ’n ander aktiwiteit nie. Jy moet ook stresvolle faktore soos argumente en bakleiery met vriende, stres in jou gesin of stresvolle sosiale situasies uitskakel. Vir daardie week van jou eksamen, probeer om net op jou eksamen te fokus.
  • Vind ontspanningstegnieke om jouself te kalmeer wanneer jy oor jou optimale prestasiestresvlak beweeg het.

Verander die manier waarop jy dink oor stres.

Selfs nadat jy hierdie grafiek gesien het en jou optimale stresvlak verstaan, kan jy nog steeds bang wees vir die woord "stres". Die manier waarop jy oor stres dink, kan egter jou prestasie selfs verbeter!

Kelly McGonigal is 'n gesondheidsielkundige van Stanford Universiteit wat die verhouding tussen jou gesondheid en stres bestudeer. Sy beweer dat 'n verandering in die manier waarop jy na stres kyk, jou lewenservaring, geluk en gesondheid sal verbeter. "As jy jou gedagtes oor stres verander, kan jy jou liggaam se reaksie op stres verander."

Het jy al ooit simptome van stres ervaar tydens 'n toets, soos 'n verhoogde hartklop, vinniger asemhaling of selfs 'n bietjie sweet uitgeslaan? Ons was almal daar! Ons het almal angs en spanning ervaar oor eksamens en druk. McGonigal maak egter 'n nuwe voorstel: "Wat as jy hierdie tekens beskou as 'n manier waarop jou liggaam energie gee en jouself voorberei om hierdie uitdaging aan te pak."

Met ander woorde, jy kan jou stresrespons as nuttig beskou. Jou kloppende hart berei jou voor vir optrede. Verhoogde asemhaling stuur meer suurstof na jou brein sodat jy besluite vinniger en meer akkuraat kan neem. As jy stres sien as 'n nuttige hulpmiddel om jou werkverrigting te verhoog, vernou jou bloedvate nie, maar bly dit ontspanne, selfs al klop jou hart vinniger. Dit is bloot jou liggaam wat gereed maak om die uitdaging te hanteer. Dit is jou gedagtes en jou liggaam wat onverskrokke raak.

Ons wil jou aanmoedig om stres as voordelig te sien tydens eksamens. Verander die manier waarop jy stres beskou en bepaal jou optimale hoeveelheid spanning waar jy op jou beste kan presteer. Onthou “'n Diamant is net 'n stuk houtskool wat stres besonder goed hanteer.” ~ Onbekend. Hanteer dus jou stres, slaag jou eksamens en word daardie diamant!

Deel hierdie artikel met vriende as jy weet hulle dat hulle stress ervaar. Laat weet ons watter ander tegnieke jy gebruik om op jou beste te presteer!


Maandag, 28 Mei 2018

Laaste-minuut studiewenke om leermateriaal te memoriseer.


Jy skryf eksamen en het nie vroegtydig voorberei soos wat ons voorgestel het nie. Die hele gesin is gespanne en jy voel verbouereerd. Daar is nie genoeg tyd om die leermateriaal noukeurig te verstaan nie, maar jy moet iets op jou eksamenvraestel skryf! Wat nou? Gebruik hierdie 5 maklike wenke om werk te memoriseer.




Ons moet nooit “cram” nie! Soms is daar egter nie genoeg tyd om alles te doen nie, en nou moet ons in baie kort tyd baie materiaal bestudeer. So, hoe kan ons binne 'n kort tyd ’n groot hoeveelheid werk memoriseer? Hier is 5 maklike maniere om die min studietyd te benut:

Bestudeer die terme en definisies.

Wanneer jy die terme en definisies wat in 'n hoofstuk gegee word, bestudeer, berei jy reeds voor vir 5 soorte vrae: Meervoudige keuse, Vergelyk Kolom A met Kolom B, Vul die ontbrekende woorde in, Kort vrae en Waar of Vals vrae. Jy kan selfs oorweeg om hierdie definisies in langer vrae te gebruik wanneer jy 'n konsep verduidelik.

Kry die geheelindruk.

As jy nie klaar is met die opsomming van jou werk nie, begin dan bloot deur die hoofstukke, subopskrifte en sketse te lees. Dit help om 'n geheelindruk van die hoofstuk te kry. As jy lang vrae in die eksamen kry, sal jy ten minste beginpunte vir elke argument hê.

Bestudeer Sketse en Diagramme.

Sketse en diagramme is gewoonlik maklik om te onthou, want dit laat 'n prentjie in ons gedagtes. Memoriseer hierdie sketse en diagramme, want jy sal waarskynlik gevra word om die skets te verduidelik of weer te gee. Maak seker dat jy al die punte vir die skets kry, insluitende die titel, byskrifte en netheid.

Fokus op wat jou onderwyser in die klas gesê het.

Die kanse is groot dat jou onderwyser genoem het wat belangrik is vir elke onderwerp tydens die klasperiode. Ons hoop dat jy geluister het, want hulle gaan heel moontlik die vrae vra oor wat hulle as belangrik beskou. As jy nie kan onthou wat hulle as belangrik genoem het nie, vra jou onderwyser weer of vra jou vriende.

Lees jou notas voor jy gaan slaap.

Jou brein is 'n kragtige orgaan. Selfs wanneer jy slaap, sal jou brein steeds die inligting verwerk. So wanneer jy klaar oefen eksamenvraestelle deurgewerk en gestudeer het, neem ’n bad en trek jou nagklere aan, en voordat jy gaan slaap, lees eers jou notas weer een keer deur. Dit is ook baie belangrik om ’n goeie nagrus te kry die aand voordat jy eksamen skryf.

Ons weet om te studeer vir eksamens kan vreesaanjaend wees, veral as jy weet jy het nie op die manier voorberei as wat jy wou nie. Daar is egter een ding wat jy altyd kan doen voor 'n toets - visualiseer hoe goed jy gaan doen. As jy jouself visualiseer hoe jy die eksamen skryf en glo dat jy goed sal doen, verkry jy alreeds 'n voordeel. “Sluit jou oë en dink aan die beste weergawe van jouself moontlik. Dis wat jy regtig is, vry van enige deel van jou wat dit nie glo nie.” - C. Assaad


Vertel ons van jou ervaring met cramming en hoe jy die eksamen studeer. Ons wens almal die beste toe met die eksamens wat voorlê!

Maandag, 21 Mei 2018

Die beste manier om te verseker dat jy voorbereid is vir jou eksamen, is deur selfassessering.


Wees verseker dat jy jou studiemateriaal ken en goed voorbereid is vir die eksamen.



Het jy al ooit hard gestudeer vir 'n toets, maar dan op die dag van die toets is jou geheue skoon weg. Dit laat ons soms moedeloos voel omdat ons gedink het ons het al die antwoorde geken. Wel, daar is 'n manier om seker te wees jy weet presies hoe om 'n vraag te beantwoord - deur middel van oefen-eksamenvraestelle. Selfassessering is die geheim wat 'n verskil in  slaag of druip te kan maak, of in 'n 60% en 80%. Navorsing het keer op keer gewys dat oefenvraestelle jou kennis van 'n onderwerp sal verbeter, maar ook jou insig oor hoe om vrae oor ’n bepaalde onderwerp te beantwoord. Om oefen eksamenvraestelle deur te werk, neem tyd en moeite, maar moenie dat dit jou afskrik nie. Thomas Edison, uitvinder en sakeman het gesê: “Geleenthede word deur mense misgeloop omdat dit in ’n oorpak aangetrek is en soos werk lyk.”  Moenie die geleentheid om te leer en goeie punte te behaal deur jou vingers laat glip, net omdat dit na harde werk lyk nie.

Hier is 'n paar van die vele redes waarom oefenvraestelle jou studie-sessies kan verbeter:

Weet wat belangrik is en wat nie.

Wanneer jy eksamenvraestelle deurgaan, sal jy gou besef watter onderwerpe en watter soort vrae belangrik is. Jy het dalk al jou aandag op een onderwerp gefokus, maar gou besef dat daar 'n ander onderwerp is wat jy nie so belangrik geag het nie. Deur oefenvraestelle sal jy weet op watter onderwerpe jy moet fokus.

Sekerheid oor vrae.

Een van die grootste voordele wat jy deur die gebruik van oefenvraestelle verkry is dat jy gewoond raak aan die styl van die vrae. Normaalweg studeer ons nie in die vorm van meervoudige keuse of deur kolom A by kolom B te pas nie, maar dit is juis die tipe vrae wat ons moet kan beantwoord. Oefenvraestelle help ons om hierdie tipe vrae te beantwoord. Ons word bekend gestel aan langvrae, kort of- eenantwoordvrae, vul in die ontbrekende woord, diagramme en sketse, en oefen hoe om die antwoorde te gee wat punte sal verdien.

Oefen jou konsentrasie.

As jy 'n werklike eksamen skryf, moet jy kan konsentreer vir die hele tyd wat jy skryf. Ons studeer egter nie normaalweg vir sulke lang perdiodes aan een nie. Ons studeer meestal in sessies van 45 minute met 'n 15 minute breek tussenin. Dit is egter nie hoe toetse werk nie. Gedurende 'n eksamen skryf ons nie net 45 minute en breek dan tussenin nie. Ons moet kan konsentreer vir die volle duur van die eksamen en dit verg oefening om dit te reg te kry.

Deur die gebruik van oefen eksamenvraestelle raak jy gewoond aan die hoeveelheid vrae. In 'n tipiese Afrikaans Huistaal-vraestel van 2 uur moet daar sekere vrae met 'n spesifieke lengte wees, want 'n onderwyser moet al die onderwerpe toets. Daarom sal ons deur die uitwerk van oefenvraestelle gewoond raak aan die aantal vrae en ook die hoeveelheid tyd wat elke vraag neem om te voltooi.

Verminder eksamenangs.

'n Goeie manier om eksamenangs te verminder, is deur middel van oefen eksamenvraestelle, omdat jy vertroud is met die emosies rondom eksamens. Wanneer jy ’n oefenvraestel uitwerk, doen dit onder eksamentoestande. Byvoorbeeld: As die eksamenvraestel 2 en 'n half uur lank is, sit jou selfoon weg, neem 'n horlosie, en maak seker jy gebruik slegs twee en 'n half uur om die vraestel te voltooi. Merk jou vraestel deur 'n rooi pen te gebruik en gee jouself 'n punt. Nou het jy alreeds deur die aksies van die skryf van 'n eksamen gegaan en ook die emosie van eksamendruk ervaar. Hoe meer jy dit doen, hoe meer raak jy gewoond daaraan en jou algehele angs teenoor eksamens sal laer en laer word. Jy sal binnekort enige toets kan hanteer.

Weet wat jy weet en fokus op wat jy nie weet nie.

Nadat jy 'n oefenvraestel voltooi het, is die werk nog nie klaar nie! Jy moet jouself evalueer. As jy jou antwoorde met 'n rooi pen gemerk het, identifiseer die gedeelte waar jy die meeste rooi sien, en gaan bestudeer dit wat jy nie korrek kon beantwoord nie. Gaan terug na jou notas of handboek en identifiseer presies wat jy nie geweet of verstaan het nie - en leer dan daardie materiaal oor en oor totdat jy dit soos die palm van jou hand verstaan.

Oefen Eksamentegnieke.

Daar is sekere eksametegnieke wat bydra tot jou eksamensukses. Beoefen hierdie tegnieke uit terwyl jy eksamenvraestelle uitwerk.
1. Begin altyd met die skryf van jou naam op jou vraestel.

2. Kyk vinnig na al die vrae en maak seker dat jy die korrekte aantal papiere in die vraestelle het om die eksamen te voltooi.

3. Draai altyd jou vraestelle om en maak seker dat daar niks op die agterkant van die laaste bladsy geskryf is nie sodat jy nie 'n vraag miskyk nie.

4. Bereken hoeveel tyd wat jy aan elke vraag kan spandeer. Byvoorbeeld: As jy 2 ure het om 'n toets te voltooi wat 80 punte tel, kan jy vinnig bereken dat jy 1,5 minute per punt het (120 minute / 80 punte = 1,5 minute per punt). Daarom weet jy as die eerste vraag 'n subtotaal van 10 punte het, het jy 15 minute om die eerste vraag te voltooi (10 punte x 1,5 minute = 15 minute). Dit is baie belangrik dat jy nie meer tyd aan 'n vraag spandeer as wat jy bereken het nie. Onthou, elke minuut wat jy meer bestee op een vraag, neem jy tyd weg van die volgende vraag. As jy die hele vraestel voltooi het en daar nog tyd oor is, kan jy altyd terugkeer na die eerste vraag toe.

5. Ondersoek die vrae vlugtig sodat jy weet watter onderwerp vir elke vraag verwag word.

6. Begin met die vraag wat die onderwerp dek wat jy die beste ken.

7. Ontspan tydens die beantwoording van al die vrae en haal elke keer 'n diep asem voordat jy die volgende een begin. Onthou, jou brein het suurstof nodig om op sy beste te presteer.

Noudat jy die belangrikheid van die oefen eksamenvraestelle verstaan, wonder jy dalk waar jy dit kan verkry. Afrikaanse Skoolprojekte spesialiseer in die verskaffing van eksamenvraestelle.

Ons Eksamenvraestelle en Antwoorde help leerders om die tegnieke van toetse en eksamens te bemeester. Ons voorbeeldvraestelle word op dieselfde wyse, formaat en moeilikheidsgraad deur die NKV aangebied en is gebaseer op CAPS. Die vrae stimuleer linker en regterbreinaktiwiteit. Die volgende tipe vrae word in ons vraestelle ingesluit: Definisie van terme; Waar of Vals (Verskaf die korrekte antwoord as dit vals is); Pas kolom B by kolom A; Diagramme en Sketse; Vul die ontbrekende woorde in; Meervoudige keuse; Kort vrae; Lang vrae; Blokkiesraaisels. Alle vakke per graad word ingesluit en vakke word in kwartale verdeel. Besoek ons webtuiste  om meer uit te vind: www.afrikaanseskoolprojekte.co.zahttp://www.afrikaanseskoolprojekte.co.za/

Ons sal graag wil weet of jy ons eksamenvraestelle gebruik het en vir watter graad. Is daar enige ander tegnieke wat jy gebruik wanneer jy 'n eksamen skryf? Laat weet ons in die kommentaar afdeling hieronder.

Maandag, 14 Mei 2018

Vind ’n leerstyl wat die beste by jou pas.


Sommige leerlinge studeer beter met flitskaarte, ander maak opsommings of werk deur oefen-eksamenvraestelle. 3 Maniere hoe jy jou leerstyl kan aanpas. 

Ons leer almal anders en teen ons eie pas, maar baie van ons ken dalk nie die beste manier om volgens ons eie individuele behoeftes te leer nie. Volgens opvoedkundige teoretikus Neil Fleming is daar vier primêre leerstyle wat insluit: Visuele leerstyl, Ouditiewe leerstyl, Lees/Skryf leerstyl en Kinetiese leerstyl. Dit is belangrik om jou gedrag en voorkeurleerstyl te verstaan ten einde die uitkoms van elke leersessie te maksimaliseer.

Hieronder volg 'n beskrywing van elke leerstyl en wat jy in ’n studieprogram kan insluit om jou te help met die spesifieke leerstyl. Wees op die uitkyk vir aanwysers van hoe jy verkies om te studeer.

Visuele leerstyl.

Visuele leerders verkies prentjies, grafieke en illustrasies om die belangrikste deel van 'n onderwerp uit te wys. Om 'n goed georganiseerde visuele prent te sien help visuele leerders om verhoudings tussen begrippe te verstaan en hulle verwerk inligting baie vinniger in hierdie leerstyl. 'n Visuele leerder word gestimuleer deur baie kleur en oordrywing van belangrike punte, soos 'n vet lettertipe of deur belangrike woorde te onderstreep. Inkorporeer grafieke, kaarte, diagramme, onderstreping, verskillende kleur penne, glanspenne, handboeke met diagramme en prente daarin en flitskaarte.

Ouditiewe leerstyl.

Luister en praat is die beste manier vir ouditiewe leerders om nuwe inligting te begryp. Ouditiewe leerders leer goed in groepbesprekings, wanneer 'n onderwyser werk verduidelik en deur woorde en opsommings hardop te herhaal. 'n Ouditiewe leerder leer die beste deur te luister, te bespreek, te praat, te ondervra en hardop te herroep. As jy 'n ouditiewe leerder is, gebruik jou selfoon se stemopname-program en neem jouself op terwyl jy jou studiewerk hardop lees en speel dan weer jou werk aan jouself terug.

Lees/Skryf leerstyl.

Die lees en skryfmetode is 'n algemene vorm van leer, maar vir studente wat abstrakte konsepte maklik in woorde kan vertaal, sal hierdie metode van leer vir hulle groot voordeel inhou. Leerders wat die lees/skryfstyl gebruik, verkies dit om aantekeninge te maak en deur die notas weer en weer in hul eie tyd te werk. 'n Student wat die beste deur lees en skryf leer, moet lyste, opskrifte, woordeboekdefinisies en handboeke insluit. Skryf weer jou opsommings uit en lees dit ‘n klomp keer stil in jou eie tyd deur.

Kinetiese leerstyl.

Die tasbare en fisiese aanbieding van inligting sal kinestetiese leerders help om die beste te leer. Hierdie leerders leer dikwels die beste deur dinge self uit te werk en fisies met konsepte, modelle of strukture te werk. Hierdie leerstyl is 'n vorm van “leer deur te doen”. Sluit dus die volgende in 'n kinestetiese leerplan in: praktiese oefeninge, voorbeelde, probeer en fouteer, laboratoriums en maniere waarop jy al jou sintuie kan insluit (sig, aanraking, smaak, reuk, gehoor).

Hier is ons 3 maniere hoe jy jou leerstyl kan aanpas:

1. Weet watter soort leerder jy is.

Op Fleming se webwerf vark-learn.com is daar 'n vraelys wat jy kan voltooi om uit te vind wat jou voorkeurstyl is. As jy nie weet nie, doen die vraelys en begin om jou leerplan aan te pas om jou spesifieke leerstyl te akkommodeer.

2. Probeer baie verskillende vorme van leer.

Die kans dat jy nie net in een hokkie pas nie is eintlik goeie nuus, want dit beteken dat jy baie verskillende maniere van leer kan gebruik. Byvoorbeeld, as jy 'n visuele- en ouditiewe leerder is, kombineer dit met verskillende vakke. Maak vloeidiagramme en diagramme vir Lewenswetenskappe en neem jouself op om Wiskunde aan jouself te verduidelik. Jy hoef nie net aan een vorm van leer te voldoen nie.

3. Moenie opgee nie.

As jy 'n ander leerstyl probeer het en dit nie dadelik uitgewerk het nie, moenie net tou opgooi nie. Daar is baie maniere om te leer en daar is nie net een spesifieke manier wat reg is nie. Miskien leer jy die beste deur ’n Kinestetiese leerstyl, maar jy weet nie hoe om dit by jou leerstyl in te sluit nie. Moenie opgee nie - gee dit nog 'n kans. Al wat saak maak, is dat jy uiteindelik al jou leerwerk verstaan, maak nie saak hoe jy dit reggekry het nie. Hou aan probeer.

Ons wil jou aanmoedig met jou voorbereiding vir die eksamen om aan te hou leer en om nooit op te gee nie. Jou toekoms is in jou hande en jy het die keuse om dit blink te maak. Brian Herbert het gesê: “Die kapasiteit om te leer is 'n geskenk, die vermoë om te leer is 'n vaardigheid en die bereidwilligheid om te leer is 'n keuse.”

Laat ons weet watter soort leerstyl jy gebruik en hoe jy jou skedule aanpas om jou leerstyl te akkommodeer.

Maandag, 07 Mei 2018

Hoe jy dit kan vermy om leerwerk uit te stel.


Ons het almal dae wanneer ons nie gemotiveerd voel om te studeer nie. As jy in ’n siklus beland om leerwerk uit te stel, sal jy moeilik weer op koers kom.




Kom ons wees eerlik, om te studeer en voorberei vir eksamens is nie die mees aangename aktiwiteit nie. Die werk kan soms baie moeilik word, ons kan sukkel met sekere onderwerpe of miskien voel ons net nie lus om te studeer nie. Dit gebeur met die beste van ons. Dit kan egter ons toekoms in gevaar stel wanneer ons die gedagte van “ek is nie lus om te studeer nie” voortdurend bokant ons doelwitte stel.

Uitstel is 'n keuse. Jy moet elke dag kies om die moeite te doen, ongeag of jy daarvan hou of nie. “'n Man wat uitstel in sy keuse se keuse sal onvermydelik vir hom gemaak word deur omstandighede.” - Hunter S. Thompson

Die probleem is, jy dink jy het tyd.

Ons oorskat gewoonlik die tyd wat ons het om te studeer en onderskat die hoeveelheid tyd wat 'n taak sal neem om te voltooi. Om hierdie rede is dit belangrik om dadelik te studeer. Moenie studeer of enige ander taak uitstel nie, bloot omdat jy dink jy het nog baie tyd oor. Daar mag dalk 'n onverwagte opdrag wees of 'n gesinskrisis, of jy kan selfs verkoue kry, en dan wens jy dat jy vroeër begin het.

Doen enigiets.

Soms kan ons baie betrokke raak in die beplanning van 'n studie sessie, eerder as om net te begin. Jy hoef nie gereed te voel om te begin nie, begin net. Arthur Ash het gesê: “Begin waar jy is. Gebruik wat jy het. Doen wat jy kan.”

As jy met uitstel sukkel, omdat dit lyk of daar 'n berg werk voor jou is, doen enigiets - maak nie saak hoe klein nie. Jy hoef nie die hele stel trappe te sien nie, vat net die eerste stap. Sê vir jouself dat jy net vier bladsye van jou studiewerk gaan lees, die kans is groot dat jy meer sal doen omdat jy reeds besig is. As jy later nie lus voel om meer te lees as daardie vier bladsye nie, het jy ten minste vier bladsye gelees wat meer is as wat jy vroeër gedoen het.

Herinner jouself hoekom dit vir jou belangrik is.

Dit is maklik om ons doelwitte te vergeet as ons nie gemotiveerd voel om te studeer nie. Dit is selfs makliker om ons drome prys te gee wanneer ons nie die moeite doen om hulle te onthou nie. Daarom moet jy weer jou jouself aan jou doelwitte herinner en as jy nog nooit jou doelwitte neerskryf het nie, is dit nou die perfekte tyd. Skryf jou doelwitte neer en plak hierdie vel papier met jou doelwitte langs jou lessenaar en lees dit 'n paar keer deur.

Stel jou voor hoe goed dit gaan voel wanneer jy daardie doelwitte bereik. Herinner jouself dat al die harde werk wat jy ingesit het vrugte sal dra, en dat jy jou drome sal realiseer.

Moenie wag vir inspirasie om te kom nie.

Daar is 'n pragtige aanhaling deur Paulo Coelho wat sê: “As jy net op sonnige dae loop, sal jy nooit jou bestemming bereik nie.” Dit beteken dat as ons net hard werk op die dae wat dit maklik is en wanneer dit goed gaan, dan sal ons nooit ons doelwitte bereik nie. Nie elke dag gaan perfek en maklik wees nie. Jy hoef nie elke dag geïnspireerd te voel om te studeer nie. Die slimste mense in die wêreld het deur moeilike dae gegaan om hul drome te bereik. Moenie moedeloos raak net omdat sommige dae moeiliker as ander is nie.

Uitstel kan dalk vir 'n paar uur goed voel, maar niks sal ooit so goed voel soos om jou doelwitte te bereik nie. Jy het die dissipline, selfbeheersing en wysheid om jou skip in die regte rigting te stuur. Moenie uitstel wat vandag gedoen kan word nie.

Laat ons weet hoe jy uitstel oorkom en hoe jy gemotiveerd bly op dae wat jy nie wil studeer nie.

Maandag, 30 April 2018

Leer slim met hierdie 6 effektiewe studie riglyne.

Om te leer is nie ’n maklike taak nie. Vir sommige leerlinge is dit ’n prestasie net om agter ’n boek te gaan sit. Jy wil egter die meeste baat uit elke leersessie.



Leer om slimmer te werk, nie harder nie. Dit is een van die belangrikste lesse wat jy ooit sal leer. Dit leer jou hoe om die maksimum te kry uit die hoeveelheid tyd wat jy in jou studies sit. Abraham Lincoln het dit as volg opgesom: “Gee my ses ure om ’n boom af te kap en ek sal die eerste vier spandeer om die byl te slyp.” Dit beteken dat as ons slim werk en die byl skerp maak, met ander woorde op die regte manier voorberei vir ’n toets, sal die proses om die ‘akademiese boom’ ‘af te kap’ vinniger gaan.


Hier is 6 effektiewe studie riglyne om jou te help om slimmer te werk - en nie harder nie:


1. Begin met die moeilikste werk eerste.

Moenie al jou tyd spandeer om die werk wat jy reeds ken te hersien nie. Gaan die werk na wat jy nog nie opgesom en geleer het nie. As jy byvoorbeeld 3 hoofstukke het om vir die aanstaande toets te leer, moet jy nie begin met die werk wat jy ken en reeds geleer het nie. Begin met die nuutste of moeilikste werk. As jy voel dat jy die moeilikste en nuutste werk verstaan, hersien dan die ou werk.

2. Som elke dag op.

Een van die beste maniere om te leer, is om ’n onderwerp op te som die dag wat dit in die klas behandel word. Maak notas tydens die klas, vra vrae en verstaan wat jy geleer het. As jy egter jou aantekeninge leer binne een dag nadat jy dit gemaak het, sal dit lei tot ’n behouingskoers van 60% hoër as gewoonlik.

3. Toets jou onderwysers.

Vra jou onderwysers tydens klas wat is die belangrikste konsep wat jy oor ’n onderwerp moet verstaan, sodat jy weet watter soort vrae jy in die toets kan verwag. Let op elke dag watter onderwerpe jou onderwyser beklemtoon het en wees seker dat jy meer tyd spandeer op daardie onderwerpe wanneer jy leer.

4. Oefen eksamenvraestelle.

Die belangrikheid van oefen eksamenvraestelle kan nie genoeg beklemtoon word nie. Het jy al ooit ’n stresvolle toets afgelê en dan skielik slaan jou geheue skoon weg? Oefen eksamenvraestelle kan maklik vir jou uitwys watter onderwerpe jy nog nie bemeester het nie en op watter onderwerpe om te fokus. Enige universiteitstudent sal jou vertel hoe belangrik dit is om met vorige- of voorbeeld vraestelle te oefen. Hulle weet hoe belangrik dit is om nie net iets uit die handboek te leer ken nie, maar hoe om dit korrek toe te pas. Afrikaanse Skoolprojekte spesialiseer in oefen eksamenvraestelle vir Graad 1 – 12 (alle vakke). Sluit vandag aan om die voordele te geniet.

5. Maksimeer jou kennis.

Verstaan dat jou onderwysers vrae uit elke onderwerp en hoofstuk moet vra. Dit sal nie sinvol wees om al jou tyd net op een onderwerp te spandeer as jy weet dat jou onderwyser al die onderwerpe in die vraestel moet toets nie. Dit is beter om 70% van elke hoofstuk te ken as om 100% van een hoofstuk te ken, maar slegs 50% oor die res. Jy het dalk net op die verkeerde onderwerp gefokus!

6. Variasie kan jou punte verhoog.

Wanneer ons vir meer as een toets moet leer, is ons geneig om paniekerig te voel, want dit voel asof ons nooit deur al die werk gaan kon kom nie. Wees egter verseker dat om te leer vir twee verskillende vakke jou eintlik kan bevoordeel. Byvoorbeeld, om wiskunde te leer en om biologie te leer werk twee verskillende ‘spiere’ van die brein. Jy gebruik verskillende vaardighede om ’n diagram of skets te leer, as om te oefen hoe om algebraïese vergelykings op te los. Ons raai jou aan om ’n vak waarvan jy hou en goed in is te kombineer met ’n vak waarmee jy werklik sukkel. Miskien hou jy van kunsgeskiedenis, maar jy sukkel met chemie. Jy kan maklik ’n skedule uitwerk sodat jy jou chemiese vaardighede vir twee ure kan beoefen en dan af te wissel met kunsgeskiedenis vir een uur lank. Jy sal meer verfris voel wanneer jy terug keer na chemie nadat jou brein iets gedoen het wat jy geniet.



Leer slim vir jou volgende toets. Jy sal kalmer en verfris wees en uiteindelik gelukkiger voel deur die hele termyn. As jy van hierdie tegnieke gebruik maak, vertel ons hoe dit jou bevorder. As jy nog ander tegnieke het om by te voeg, deel dit asseblief saam met ons!

Maandag, 23 April 2018

8 Stappe om jou kind se leesvaardigheid te verbeter.

Kinders moet kan lees en verstaan wat hulle lees, aangesien dit die fondasie van skoolonderrig vorm.



In ons vorige blog artikel “Byna 80% van Suid-Afrikaanse Graad 4 leerlinge kan nie lees nie”, het ons die problematiese geletterdheidskoers in Suid-Afrika bespreek. Ons moedig jou aan om jou kinders te help met lees. Die voordele van lees is oneindig. Jou kinders se toekoms sal afhang van die vlak van geletterdheid wat hul het. Om te lees moet egter nie vir hul voel soos ’n straf nie. Mary McLeod Bethune het gesê: “Die hele wêreld het vir my oopgegaan toe ek geleer het om te lees.”

Hierdie week wil ons 8 stappe deel om jou kind se leesvaardighede te verbeter.


1. Lees elke dag.

Die eerste stap wat jy kan neem om jou kinders se leesvermoëns te verbeter, is om seker te maak hulle lees elke dag. Dit hoef nie vir ure te wees nie, maar ’n goeie 20 - 30 minute sal hul leesvermoëns aansienlik verbeter. Maak lees-tyd deel van hul skedule, byvoorbeeld vroeg in die oggend wanneer daar nog geen afleiding is nie. Andersins, direk na aandete.

2. Wat moet my kinders lees?

Dit is dikwels ’n verwarrende vraag, want ons weet nie aanvanklik op watter lees- en begripsvlak ons kinders is nie. Daarom moet ons alle vorme van literatuur op die proef stel om te sien watter moeilikheidsgraad hulle kan hanteer, wat geniet hulle om te lees en hoe vinnig kan hulle lees. As jou kinders stadige lesers is, begin dan klein, met kort stukke leesmateriaal – soos ’n artikel uit ’n tydskrif, poësie of ’n blog (net soos hierdie). Later kan jy die volume verhoog deur kortverhale en romans.

3. Kies die regte boek.

Die belangrikste aspek van lees is jou kind se belangstelling in die onderwerp. Natuurlik sal hulle nie vroeë Afrikaanse literatuur wil lees as hulle nie in CJ Langenhoven belangstel nie. As hulle egter ’n sportheld het, laat hulle hul biografie lees, of as hulle belangstel in superhero-films, laat hulle die strokiesprente lees. Moenie jou kinders dwing om iets te lees wat hulle nie geniet nie. Maak hul wêreld oop deur hulle al die verskillende soorte boeke te wys wat beskikbaar is. Dit is belangrik om daarop te let dat die korrekte boek versoenbaar moet wees met hul leesvlak en toepaslik is vir hul ouderdom.

4. Vermeerder geleidelik die boeke se moeilikheidsgraad.

Soms wanneer kinders gedwing word om in die klas te lees, word hulle moedeloos omdat die leesstof te moeilik is of hulle nie belangstel in die onderwerp nie en dan te vroeg opgee. Dit is ons werk as ouers om seker te maak dat ons kinders nie agterraak nie. Vra of hulle die voorgeskrewe boeke in die klas kan lees. As hulle nie kan nie, vind boeke wat net effens makliker is. Wanneer jy raaksien, dat hulle meer vertroud is met die leesmateriaal, verhoog dan die pas en moeilikheidsgraad van die boeke.

5. Leer om te stop.

Dit is belangrik om te weet hoe om te lees, maar dit is selfs belangriker om te verstaan wat jy lees. Andersins is dit net ’n string sinnelose woorde. Leer jou kinders wanneer hulle besig is om te lees om elke paar minute te stop om vrae te vra oor wat hulle nou net gelees het. Dit bevorder begrip van die onderwerp en die storielyn. Kinders moet hulself die volgende vrae vra wanneer hulle lees:

Wat het ek nou net gelees?
Wat is die belangrikste dinge wat in die vorige hoofstuk gebeur het?
Het enigiets my verwar?
Het enigiets my verras?
Is daar dele wat ek nie verstaan het nie?

6. Kontroleer jou koers per minuut en oefen om dit te verbeter.

Die doel is nie altyd om te sien hoe vinnig jou kind kan lees nie. Soos kinders egter ouer word, moet hul totale woorde per minuut proporsioneel verhoog. Doen in die begin van elke kwartaal ’n maklike lees toets. Neem ’n bladsy van ’n boek of artikel en laat jou kind die bladsy lees (nie hardop nie, want dit neem langer om elke woord ten volle uit te spreek). Stel jou stophorlosie vir een minuut en tel dan die aantal woorde wat jou kind in daardie minuut gelees het. Maak seker dat jy vrae oor die teks vra sodat jy weet dat jou kind nie daaroor gejok het nie. Onthou om boek te hou van die hoeveelheid woorde per minuut deur dit in ’n dagboek of joernaal aan te teken. Volgende kwartaal moet jy die toets herhaal. Kyk met hoeveel jou kind se leesvaardighede verbeter het.

7. Versorg jou oë.

Ons visie is een van ons belangrikste sintuie, daarom moet ons ons oë versorg. Weet of jou kind ’n bril benodig of nie, en dat hul lense of kontaklensvoorskrif op datum is. Maak seker dat hulle in beligte plekke lees en dat hulle genoeg voedingstowwe kry om hul oë gesond te hou. Dit sluit voedsel in wat Omega 3, sink, vitamien C en vitamien E bevat.

8. Die appel val nie te ver van die boom af nie.

Die beste wenk om jou kind te help om beter te lees, is om ’n voorbeeld te wees. Lees jy as ouer genoeg? Jou kinders sal meer geneig wees om te lees as hulle sien jy het altyd boeke op jou bedkassie, of dat jy daarvan hou om na ’n tweedehandse boekverkoping te gaan.



Bevorder ’n liefde vir lees in jou kinders deur vir hulle in die aande te lees. Vra vir hulle om ook vir jou te lees. As jy en jou tiener dieselfde boeke geniet, vorm dan ’n klein boekklub waar jul oor die boek en die karakters praat. Marilyn Jager Adams, ’n spesialis in kognisie en skoolonderrig, het die volgende gesê: “Om hardop te lees saam met jou kinders is bekend as die enkele belangrikste aktiwiteit om die kennis en vaardighede op te bou wat hulle uiteindelik sal benodig om te leer lees. Wys vir jou kind dat deur te lees wêrelde vir hulle sal oopgaan en dat om ’n boek te lees een van die beste maniere is om te gaan verken en op nuwe avonture te gaan.

Laat ons weet wat jy en jou kinders tans lees. Wat is die vlak van hul leesvaardighede huidig, en hoe moedig jy jou kinders aan om te lees? Ons sal graag ander ouers se stories wil hoor.



Maandag, 16 April 2018

Byna 80% van Suid-Afrikaanse Graad 4 leerlinge kan nie lees nie.

Die belangrikheid van lees en hoe om tyd te maak om hierdie vaardigheid te beoefen.




Onlangse bevindings van ’n globale assessering wat deur die Vordering in Internasionale Lees-geletterdheid-Studie (PIRLS) gedoen is, toon dat 78% van Suid-Afrikaanse Graad 4-leerders se lees-geletterdheid vlakke in hul leertaal onder die laagste internasionaal erkende standaard val. Met ander woorde, byna 8 uit 10 Graad 4 leerders kan nie met begrip lees nie. Die mees onlangse kwartaalverslag, PIRLS 2016, wat in 2017 gepubliseer is, het ook aan die lig gebring dat Suid-Afrikaanse leerders die laagste geletterdheidspunt uit die 50 deelnemende lande behaal het. Navorsers van die Universiteit van Pretoria (UP) se Sentrum vir Evaluering en Assessering (SEA) was verantwoordelik vir die data oor lees- en geletterdheidsvlakke van graad 4 en 5 studente in Suid-Afrika. 12 810 Graad 4 leerders is in al 11 tale getoets en 5 000 graad 5 leerders in Afrikaans, Engels en isiZulu. Celeste Combrinck, waarnemende direkteur van die UP SEA sê: “Terwyl minder as die helfte van die leerders wat die toetse in Engels en Afrikaans afgelê het kon lees, kan 80% van diegene wat skoolonderrig ontvang in een van die ander nege amptelike tale glad nie effektief lees nie.” Seuns het swakker gevaar as meisies, met 84% seuns wat nie die laagste maatstaf kon verbysteek nie, vergeleke met 72% van die meisies. Onder al die 50 deelnemende lande is Suid-Afrika se geslagsgaping die tweede grootste naas Saoedi-Arabië.

Baie faktore speel ’n rol in hierdie kommerwekkende statistieke. Dit sluit in, maar is nie beperk tot demografie – bv. woon in afgeleë landelike gebiede of nedersettings, toenemende klasgroottes en minder nuwe onderwysers wat die stelsel betree nie. Baie leerders wat ’n ander taal as Engelssprekend is, versuim om in hul huistaal lees- en skryfvaardighede te bemeester voordat hulle omskakel na Engels aan die einde van graad 3 – en dus sukkel hulle om nuwe materiaal te leer en te begryp aangesien hul basiese geletterdheidsvaardighede ontbreek.

Dit is tragies om te weet dat die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaanse laerskoolleerders nie kan lees nie. Ongeletterdheid moet ’n ernstige kommernis vir die toekomstige ontwikkeling van ons jeug en ons land wees. Celeste Combrinck sê dat: “Om te kan lees is die sleutel tot akademiese en toekomstige sukses. As jy nie kan lees nie, sal jou geleenthede op skool of na skool beperk word. Daarom moet lees op ’n baie jong ouderdom begin.” 

Ons kan probeer om die oorsaak van hierdie probleme te vind en blaam op die demografie, skoolstelsel, onderwysers, ouers, ens. te plaas, maar dit is nie produktief nie en dit verander egter nie die statistieke nie. Ouers moet proaktief wees en alles doen wat hulle moontlik kan om te verseker dat hul kinders leer hoe om te lees. Voordat ons verder gaan en bespreek hoe jy en jou kind die tyd kan vind om hierdie belangrike vaardigheid aan te leer, wil ons die belangrikheid van lees bespreek.

Waarom elke kind moet kan lees:


1. Lees is ’n noodsaaklike vaardigheid om in die samelewing te kan funksioneer.

Om in ons moderne samelewing te kan lees, is nie ’n vereiste nie, maar jy sal nie baie ver kom as jy nie kan lees nie. Daarom moet dit beskou word as ’n verpligte vaardigheid wat elke suksesvolle persoon moet hê. As jy daaraan dink is daar oral teks! Van pad- en waarskuwingstekens tot instruksies oor medikasie of masjinerie. Dit eindig nie eens nie – almal moet rekeninge betaal, mediese vorms of ander dokumentasie op een of ander stadium invul. Hierdie alledaagse aktiwiteite vereis slegs die basiese leesvaardighede, maar wat die meeste geletterde mense as die norm aanvaar, kan ’n groot frustrasie en las wees vir diegene wat nie kan lees nie. 

2. Lees berei kinders voor vir sukses.

Om te leer lees is ’n opeenvolgende proses. Dit beteken dat elke vaardigheid voortbou op die bekwaamheid van vorige vaardighede wat geleer is. Wanneer kinders begin om te leer lees, breek hulle ’n woord in basiese klanke op. Die verskillende klanke wat verband hou met sekere letters sal uiteindelik woorde vorm. Sodra hulle die woorde herken wanneer hulle dit lees, sal hulle die verbintenis tussen daardie woord en bypassende definisie raaksien. Later sal hulle meer woorde herken in ’n sin en die sin kan lees en die betekenis daarvan verstaan. Uiteindelik sal hulle hele teksgedeeltes kan lees en verstaan wanneer hulle sinne verbind. Hierdie prestasie om die opeenvolgende proses te bemeester deur die klanke te bou om woorde te vorm; woorde om ’n sin te vorm en sinne om teksgedeeltes te vorm, sal hul selfvertroue versterk en hulle leer wat hul gedagtes in staat toe is. Hulle sal begin om die waarde van lees te verstaan. Hulle sal ’n aptyt ontwikkel vir meer kennis en hul gedagtes sal dit soos ’n spons absorbeer. Die liefde van leer en die innerlike bevrediging wat dit meebring, sal verseker dat hulle goed op skool presteer en daarna streef om hulself in ander aspekte van hul lewe te verbeter.

3. Lees is noodsaaklik om ’n goed betaalde professionele werk te bekom.

Deur te kan lees, kan jy jou skoolopleiding voltooi en by ’n kollege of universiteit studeer. In die meeste gevalle word lees vereis as deel van die werkverrigting en jy moet kan lees om te kan studeer. Jy kan jou drome volg en jou eie blink toekoms bou as jy ernstig is oor jou skoolonderrig. As jy nie met begrip kan lees nie is jy beperk tot wat jy met jou lewe kan bereik.

4. Lees ontwikkel belangrike taal- en kommunikasievaardighede.

Jong kinders word elke dag aan nuwe woorde blootgestel. Hulle ontdek nuwe woorde wanneer ons met hulle praat, wanneer hulle met hul vriende praat of ons hoor praat met ander en ontdek selfs nuwe woorde oor die radio of televisie. Die woordeskat wat ons gebruik om met kinders te praat, is egter dikwels beperk. Deur boeke aan jong kinders te lees, stel jy hulle bloot aan nog meer nuwe woordeskat en bou ’n meer standvastige basis vir kommunikasie. Boeke bevat dikwels nuwe, ongewone of interessante woorde. Lees leer nie net jong kinders nuwe woorde nie, maar ook hoe taal werk. Lees ontsluit hul kreatiwiteit en ontwaak hul denkprosesse. Lees kan hul begrip van die wêreld en ander mense verbeter; vir hul norms en waardes leer. Hoe meer woorde kinders kan leer, hoe beter sal dit vir hulle in die toekoms wees. Woorde stel ons in staat om ons gedagtes en idees aan ander te kommunikeer. Dit stel ons in staat om op ’n ander en selfs dieper vlak te koppel. Wanneer ons lees, kan ons ander mense se menings en gedagtes beter verstaan.

5. Lees is oefening vir die verstand.

Die verstand moet beskou word as ’n spier (alhoewel anatomies gesproke is jou brein nie ’n spier nie, maar bevat wel bietjie spiere). Soos enige ander spier in jou liggaam vereis dit oefening om korrek te ontwikkel en die beste te funksioneer. Een manier waarop ’n jong verstand beoefen kan word is deur te leer hoe om te lees. Wanneer kinders vanaf ’n vroeë ouderdom aan lees blootgestel word, verbeter dit hul breinaktiwiteit in spesifieke areas wat belangrik is vir taalontwikkeling. Deur taalvaardighede te ontwikkel, sal dit ook help om te leer hoe om te luister. Die kombinasie daarvan speel ’n groot rol in ons algehele kommunikasievaardighede.

6. Lees versterk konsentrasie.

Wanneer jy aanvanklik begin om vir jou kleuter te lees, mag hulle dalk nie aandag gee aan dit nie. Hulle mag dalk voortdurend die bladsye blaai of die boeke rondgooi. Dit is egter van kardinale belang dat jy nie op daardie ouderdom opgee nie. Deur vir hulle elke dag te lees sal hulle daaraan gewoond raak en uiteindelik begin om aandag te gee en na die storie te luister. Hul konsentrasie sal toeneem en hulle sal vir langer tydperke kan fokus. Dit sal vir hulle baie nuttig wees om vir langer tydperke te kan konsentreer sodra hulle skool toe gaan en begin leer.

7. Lees stel kinders in staat om te leer van ’n groot verskeidenheid onderwerpe.

Sprokies, geskiedenis, natuur, biologie, die buiteruim, wetenskap, sport, kuns, kultuur, kos en alle ander aspekte van die mensdom… Verskillende boeke wat verskillende onderwerpe dek sal aan kinders baie inligting deurgee en hul kennis verbreed. Hulle sal meer veelsydige en afgeronde kinders word as hulle blootgestel is aan soveel moontlike onderwerpe. Deur te lees sal hulle die wêreld beter verstaan; hulself beter verstaan.

8. Lees brei kinders se verbeelding en kreatiwiteit uit.

Lees skep die geleentheid vir ’n kind se verbeelding om te verbreed. Dit is iets merkwaardig om te aanskou. Wanneer hulle ’n storieboek lees, gebruik hulle hul verbeelding om in te dink hoe die karakters lyk, hoe hulle optree, hoe hulle praat, ens. Kinders se gedagtes vorm hierdie karakters volgens hoe hulle die woorde interpreteer. Hulle dompel hulself in hierdie denkbeeldige wêreld. Hul gedagtes word gevul met opwinding en wonder. Jy kan dit in hul oë sien. Sodra hulle daardie vonk vind, ongeag die tipe boeke wat hulle geniet om te lees, kan jy verseker wees dat hulle omtrent enigiets kan verbeel! Hulle kan sommige van hierdie wonderlike idees oor bring na die werklikheid en dit gebruik om hulself kreatief uit te druk. Hul gedagtes sal oplossings op unieke maniere kan vind – en dit is geensins beperk tot slegs kuns, musiek en letterkunde nie. Wiskunde, ekonomie, ingenieurswese, argitektuur, wetenskap, sport ens. benodig ook kreatiewe denke om vorentoe te beweeg en unieke idees te ontwikkel wat daardie spesifieke velde sal verbeter. Dit alles net deur boeke te lees!


Noudat ons bespreek het waarom dit belangrik is vir elke kind om te leer lees, wil ons die kwessie van ongeletterdheid in ons land aanspreek en hoe ons as ouers iets daaraan kan en moet doen. Eerstens, baie ouers is nie altyd seker wanneer, waar en hoe om te begin om hul kinders te leer hoe om te lees nie. Baie ouers is besig met hul werkskedules wat hulle nie altyd toelaat om soveel tyd met hul kinders te spandeer nie. Gevolglik begin hulle nie vroeg genoeg nie en wanneer hul kinders uiteindelik skool toe gaan, plaas hulle daardie verantwoordelikheid op die onderwysers. In ons volgende blog sal ons bespreek hoe jy te werke moet gaan om eintlik jou kinders te leer hoe om te lees. In hierdie artikel wil ons egter seker maak dat jy met ’n besige skedule die tyd kan inpas om hulle te help om hul leesvaardighede te beoefen.

Hoe om tyd te maak om lees te beoefen:

  1. Lees vroeg in die oggend voor skool.
  2. Lees die aand na huiswerk voltooi is.
  3. Skeduleer leestyd in jou kalender.
  4. Sluit aan by ’n boekklub of begin ’n boekklub met vriende wat dieselfde tipe boeke geniet.
  5. Herinner jouself daaraan om jou spoedlees te beoefen tydens kort ’n ruskansie.



“Hoe meer jy lees, hoe meer kennis het jy. Hoe meer jy leer, hoe meer plekke besoek jy.” – Dr. Seuss. Ons hoop jy voel aangespoor om jou leesreis te begin! Ons glo dat wanneer die volgende PIRLS gepubliseer word ons kinders groot vordering sou maak en dat die geletterdheidsyfers in ’n positiewe rigting gedraai is. Laat weet ons hoe jy voel oor hierdie statistieke en jou gedagtes rondom hoe ons die probleem kan oplos. Het enige van jou kinders probleme om te leer hoe om te lees? Ons sal dit waardeer as jy enige advies oor tegnieke wat gehelp het met hul leesvaardighede deel. 




Maandag, 09 April 2018

Het jy motivering nodig na die skoolvakansie?

10 Maniere hoe jy gemotiveerd en vasberade kan bly om hierdie jaar 'n sukses te maak.

 

Die nuwe kwartaal het begin. Sommige was dalk gedurende die skoolvakansie ’n bietjie onaktief gewees en het ’n bietjie van hul vasberadenheid om hard te werk verloor. Ons het probeer om jou uit te help met nuttige idees om jou brein aktief te hou gedurende die vakansie, maar dit is verstaanbaar om te voel dat jy nie heeltemal gereed is vir jou besige skedule en swaar werkslading nie.

Ons is net vier maande in die jaar in en nou is dit beslis nie die tyd om agter te raak nie. Het jy enige van jou Nuwejaarsvoorneme al bereik? Is jy op koers met jou akademiese prestasie? Is jou produktiwiteit op sy hoogtepunt?

As jy “nee” geantwoord het by enige van die bogenoemde vrae, het jy ’n bietjie motivering nodig. Jy het baie om te doen en daar is nog baie tyd oor om alles te bereik wat jy hierdie jaar beplan het om te doen!

Hier is ons 10 maniere om gemotiveerd en vasberade te bly om hierdie jaar ’n sukses te maak:


1. Herorganiseer.

Een van die beste maniere om jou motivering te herstel, is om van al die oortollighede ontslae te raak. Begin deur jou rugsak en pennesakkie skoon te maak as jy dit nog nie gedoen het nie. Gooi gebruikte papiere en leë penne weg. As jy voel dat jy ’n splinternuwe begin nodig het sorter jou hele kamer uit, en veral jou lessenaar.

2. Herskryf jou doelwitte.

Hersien die doelwitte wat jy vir hierdie jaar opgestel het. Is dit nog haalbaar en watter plan kan jy maak om jou doelwitte te bereik?

As jy geen doelwitte opgestel het nie, kyk na ons blog artikel wat jou sal verduidelik hoe om doelwitte op te stel en hoe om dit reg te kry. (Blog 1: ‘Hoe om nuwejaarsvoornemens op te stel wat jy werklik kan bereik’).

3. Stel ’n splinternuwe skedule op.

Stel ’n nuwe skedule op wat die tyd en datums van hierdie kwartaal se toetse en buitemuurse aktiwiteite insluit. Beplan jou dae en weet wanneer jou take ingedien moet word, ken die toetsdatums en wanneer daar rugby-, netbal- en hokkiewedstryde is. Lees ons blog oor hoe om ’n skedule op die regte manier op te stel. – Blog 3: ‘Vier wenke wat jou sal help om ’n skedule vir ’n suksesvolle skooljaar op te stel’.

4. Fokus op jou gesondheid.

Wy jouself toe hierdie kwartaal om gesond te bly, veral aangesien die aande koeler is, wil ons nie hê dat jy siek word nie. Handhaaf ’n gebalanseerde lewenstyl wat ’n gebalanseerde dieet en gereelde oefening insluit. As jy meer inligting verlang oor wat ’n gebalanseerde lewenstyl is, lees ons blog “Wat behels ’n gesonde en gebalanseerde leefstyl?” (Blog 10).

5. Kry ’n goeie nagrus in.

Om genoeg slaap in te kry is noodsaaklik vir die groei van kinders en tieners. Dit is veral belangrik die aand voordat die nuwe kwartaal begin. Sit jou klere uit en pak jou skooltas die vorige aand sodat jy nie die volgende oggend gespanne is dat jy laat sal wees nie.

6. Omring jouself met positiewe mense.

Om jouself te omring met ’n goeie portuurgroep sal jou nie net in ’n goeie bui sit nie, maar jou punte sal ook daardeur verbeter. Dit is algemeen aanvaar deur sielkunde dat ons vriende en mense met wie ons onsself omring ’n impak op ons prestasie het. As jy jouself omring met mense en vriende wat altyd kla, sal jy kort-voor-lank ook begin kla. Die teenoorgestelde is ook waar, as jy jouself omring met positiewe en motiverende mense, sal jy ook gemotiveer word.

7. Ontvlug afleidings.

Jy het moontlik hierdie vakansie baie tyd aan stokperdjies en sosiale media spandeer. Dit is egter nou die tyd om jou prioriteite uiteen te sit vir ’n suksesvolle kwartaal – dit sluit in minder tyd voor die televisie en meer tyd om op jou skoolwerk te fokus.

8. Moenie alles vergeet wat jy tot dusvêr geleer het nie.

Jy het die vorige kwartaal so hard gewerk. Dit sou jammer wees as al die kennis wat jy die afgelope paar maande opgedoen het, vergeet word. Begin om weer deur jou studie-notas van die vorige kwartaal te lees – onthou dat elke onderwerp op die vorige een bou. Dit is belangrik om ’n goeie basis van kennis te handhaaf.

As jy jou vorige toetse terug ontvang – gaan deur jou antwoorde en beoordeel wat jy geskryf het. Verstaan waarom jy foute gemaak het en as jy steeds nie die werk verstaan nie, vra jou onderwyser om dit weer aan jou te verduidelik.

9. Raak opgewonde oor die nuwe kwartaal.

“Optimisme is 'n geluksmagneet. As jy positief bly, sal goeie dinge en goeie mense na jou getrek word.” - Mary Lou Retton. Opgewondenheid en optimisme sal jou nooit misluk nie. As jy opgewonde is om iets nuuts te leer, gaan jy na die klasse toe met ’n positiewe uitkyk en vra vrae omdat jy werklik wil leer en jouself verbeter. Jou brein sal dan begin om die proses van leer en studeer te geniet. As jy jouself leer hoe om optimisties te wees, sal jou punte verbeter, omdat jou verstand glo dit is pret en wil goed doen. Trek goeie dinge, goeie punte en goeie mense in jou lewe nader, bloot deur opgewonde te raak oor die lewe.

10. Streef vir vooruitgang, nie perfeksie nie.

Moenie bekommerd wees om perfek te wees en perfekte punte te kry nie. Die enigste vraag wat jy moet beantwoord is: “Gee jy jou beste poging en doen jy beter as gister?” As jy JA hard en duidelik kan verklaar, dan is jy op die regte pad! Hou aan, jy doen goed. Die res kom met tyd!



Verbind jouself hierdie nuwe kwartaal om jou beste te gee. Hou by jou nuwe skedule en raak opgewonde oor die lewe. “Jou vermoë om jouself te dissiplineer om duidelike doelwitte te stel en daagliks daaraan te werk, sal meer doen om jou sukses te verseker as enige ander enkele faktor.” - Brian Tracy.

Laat weet ons hoe en waaruit jy nuwe motivering vir hierdie kwartaal sal kry?