Maandag, 15 Januarie 2018

Vier wenke wat jou sal help om 'n skedule vir 'n suksesvolle skooljaar op te stel.

Vier wenke wat jou sal help om 'n skedule vir 'n suksesvolle skooljaar op te stel.


Wat moet jy doen gedurende die eerste week van skool?  Stel natuurlik jou skedules op en beplan vooruit terwyl jy nog tyd aan jou kant het! 



Het jy al ooit die bekende gesegde van Benjamin Franklin gehoor “As jy misluk met jou beplanning, beplan jy om te misluk”? Benjamin Franklin het beslis die belangrikheid van beplanning verstaan en elke plan wat goed uitgewerk is, bevat 'n skedule. ’n Skedule is een van die belangrikste instrumente wat ons kan gebruik om ons doelwitte te bereik.

Stel 3 noodsaaklike skedules op.
Daar is 3 belangrike skedules wat jou sal help om jou aktiwiteite vir 'n gebalanseerde lewenstyl te organiseer:
  1. ’n Maandelikse kalender wat al die maande van die jaar en belangrike datums aandui.  Jy kan jou gratis 2018 Skoolkalender wat al die belangrike datums insluit van ons webtuiste aflaai.  Jy moet ook alle spesifieke gebeurtenisse waarvan jy reeds weet by hierdie schedule byvoeg.
  2. ’n Weeklikse skedule wat al die sport-, kultuur- en buitemuurse aktiwiteite wat jy vir elke dag van die week het aandui, asook belangrike toetse en opdragte wat opduik.
  3. ’n Daaglikse beplanner wat ’n “om te doen” lys, huiswerk en spesifieke take bevat wat op daardie dag voltooi moet word.
Beplan hoeveel tyd jy benodig vir elke aktiwiteit.
’n Gesonde, gebalanseerde leefstyl behoort jou skoolwerk, sport- en kultuuraktiwiteite, tyd vir familie en vriende, sowel as vryetyd, te bevat. In jou skedule moet jy aandui die hoeveelheid tyd jy gedurende die week aan elke aktiwiteit moet spandeer.  Daar is egter siklusse wat voorkom wanneer jy jou skedule moet aanpas.  Wanneer daar ’n groot toets opduik, moet jy huiswerk en leerwerk vir die toets prioritiseer. Tydens skoolvakansies kan jy baie meer tyd spandeer op stokperdjies en met jou familie en vriende. Die sleutel is om al die belangrike aktiwiteite te balanseer en jou skedule aan te pas om ’n gebalanseerde leefstyl te skep.

Bestuur jou daaglikse skedule.

  1. Beplan jou dag die vorige aand deur die aktiwiteite neer te skryf wat jy weet daardie dag gedoen moet doen.
  2. Laat genoeg tyd om huiswerk te doen wat jy op dag ontvang het.
  3. Skryf baie spesifieke doelwitte neer. Byvoorbeeld, moenie net skryf “Doen huiswerk” nie, maar wees spesifiek deur te skryf “Doen wiskunde huiswerk somme 1 - 10 bladsy 7.”
  4. Doen die moeilikste taak eerste.  Wanneer jy die moeilikste taak eerste voltooi, sal jy onmiddellik verlig en gemotiveerd voel om die volgende taak te doen.
  5. Moenie meer as een taak op dieselfde tyd probeer doen nie.  Daar is 'n Ierse spreekwoord wat sê: “As jy twee hase jaag, sal jy nie een vang nie.” Dit beteken dat as jy twee of meer take gelyktydig probeer doen, sal jy nie een van die take goed doen nie. Fokus eerder op een ding op 'n slag en elke taak sal vinniger en meer akkuraat voltooi word.
Inkorporeer vrye tyd en prettige aktiwiteite in jou skedule in.
Niemand kan voortdurend hard werk en nie moeg word nie.  As jy moeg word, word jy traag en werk ondoeltreffend.  Jy kan maklik agter raak met jou skedule en sperdatums mis.  Die beste manier om huiswerk te doen en te studeer, is 40 minute se werk met 10 minute tussenposes.  Onthou ook om jouself te vergoed met 'n langer ruskans nadat jy klaar is met ’n onderwerp.  Beloon jouself as jy alles van jou “om te doen” lys voltooi het, want al hierdie klein prestasies sal jou nader bring om jou doelwitte te bereik.  Vier ook jou groot prestasies, byvoorbeeld wanneer jy goeie punte vir jou toets kry, want dit sal jou gemotiveerd hou vir die volgende toets.


Om te volhard met ’n skedule kan soms moeilik wees en vereis baie self-dissipline, maar op die lang duur help dit om groot sukses te behaal.

Gebruik jy enige van hierdie noodsaaklike skedules en is daar ander skeduleringsmetodes wat jy gebruik om jou te help om by ’n plan hou?

Maandag, 08 Januarie 2018

Hoe om die eerste dag van ’n nuwe skooljaar aan te pak.

Hoe om die eerste dag van ’n nuwe skooljaar aan te pak.


Die eerste skooldag kan uitdagend wees, maar jy kan dit met gemak aanpak...



Ons het almal ’n visie wat die perfekte eerste skooldag moet wees.  Tydens die vakansie voel ons nie gespanne nie, maar ’n paar dae voordat skool begin skop dit in en ons dink aan die ergste moontlikheid wat kan gebeur.  Wie sal jou registeronderwyser wees?  Sal jou vriende in jou klas wees en indien nie, langs wie gaan jy sit?  Sal jy jou klaskamers kan vind?  Sal jy inpas of sal jy op gepik word?  Hoe voorkom ons so ’n klein paniekaanval?  

Aanvaar dat nie alles volgens plan sal verloop nie.  Die eerste dag van die skool kan ’n bietjie onvoorspelbaar wees.  Dit is normaal om ’n bietjie senuweeagtig te voel oor al die veranderlikes en onsekerhede.  Daar is egter baie dinge wat jy op jou eerste skooldag kan beheer.  En die dinge wat jy kan beheer moet onder beheer wees.  Hier is ons beste raad oor hoe om voor te berei vir jou eerste skooldag.  

Moenie tot die laaste minuut uitstel om jou skoolvoorraad te kry nie.
Om jou skoolvoorrade te kry, is 'n vervelige taak. Daarom stel ons voor dat jy vroegtydig jou skryfbehoeftes en handboeke kry, sodat jy nie in lang toue by 'n skryfbehoefte winkel hoef te wag nie, of oor baie ander dinge wat gedoen moet word te stres en vergeet om helfte van jou lysie by jou inkopiemandjie te voeg nie.  Goeie raad is om jou skryfbehoeftes met jou naam en van te merk. Jy mag dalk nie dink dit is nou baie “cool” nie, maar jy sal wens dat jy dit gedoen het as jy jou sakrekenaar net voor ’n groot toets verloor het en nie 'n manier het om dit van iemand anders terug te kry nie. Word opgewonde vir die eerste dag van skool deur jou boeke en lêers te versier.  Jy kan ook vroegtydig belangrike datums in jou huiswerkdagboek invul. Al die belangrike datums is gratis op ons 2018 skoolkalender beskikbaar.

Jy moet verseker weet hoe laat jy moet opstaan.
Om op jou eerste dag laat vir skool te wees, sal jou net meer gestres maak. Daarom moet jy vroeg genoeg wakker word om jouself genoeg tyd te gee om reg te maak vir die skool. Maak seker dat jy jouself minstens een uur en 10 minute gee om op te staan, ’n lekker ontbyt te eet, aan te trek en om ’n gesonde middagete in te pak voordat jy skool toe gaan. Voeg ook die beraamde reistyd wat jy nodig het om skool toe te gaan by. Maak seker dat jy ten minste 3 dae voor skool begin in ’n roetine kom om die tyd wat jy vir ’n normale skooldag sal opstaan te oefen.  

Wat klaar is, is klaar.
Die aand voor skool begin kan jy al jou skooltas pak en jou skooldrag neerlê. Dit sal jou help om vining reg te maak en in ’n kits aan te trek, want jou brein hoef nie te dink waar jou das of sokkies is nie.

Weet wat jy gaan eet by die skool vir middagete.
Moenie vergeet om vir middagete ’n kosblik in te pak nie.  Dit is noodsaaklik vir besige kinders en tieners wat steeds groei om gesond en gereeld te eet.  Gesonde eetgewoontes beteken nie om vir ure ’n maaltyd voorteberei of onaantreklike prei en seldery te eet nie. Met 'n bietjie navorsing, beplanning en voorbereiding kan jy elke dag van die week 'n maklike, gesonde en lekker kosblik inpak.  Maak seker dat jy al die bestanddele beskikbaar het. Pak ook ’n gesonde peuselhappie in en onthou om ’n bottel water saam te neem sodat jy gehidreer bly.  As jy middagete by die skool koop, maak seker dat jy die regte hoeveelheid geld by jou het.

Onthou dat mense eerste indrukke onthou.
Die belangrikste ding om die dag voor skool voor te berei, is jou verstand.  As jy die eerste periode met ’n positiewe houding in die klas inloop, sal jy voorbereid wees vir enigiets.  Onthou om te lag as dinge nie volgens plan gaan nie - almal is net so senuweeagtig soos jy. Stel jouself aan nuwe vriende voor, onthou nuwe gesigte en nuwe name - hulle sal beslis joune onthou.


Die eerste dag van die skool kan uitdagend wees, maar soos Penelope Ward gesê het, “Vervang die vrees van die onbekende met nuuskierigheid” en jy sal heeltemal reg wees.

Hoe berei jy gewoonlik voor vir die eerste skooldag? Het jy enige interessante ervarings op die eerste skooldag gehad?


Maandag, 01 Januarie 2018

Hoe om nuwejaarsvoornemings op te stel wat jy werklik kan bereik.

Hoe om nuwejaarsvoornemings op te stel wat jy werklik kan bereik.

Kry die maksimum uit jou 2018 skooljaar uit.



Wanneer mens dink aan die nuwe jaar wat voorlê, is dit ’n opwindende tyd vir almal.  Elke persoon wil hulself op een of ander manier verbeter - ons is immers net mens, ongeag of ons ons foute aan ander erken.  Gedurende die vakansie het ons, ons kragte herstel en voel gedrewe om ’n beter weergawe van onsself te word en om ons drome te bereik.  Om een of ander rede word die eerste Januarie as die perfekte geleentheid beskou om ons ‘beste self’ na te strewe.  Dit beteken die afskeid van ons verlede en alles wat ons terug hou, sowel as om nuwe doelwitte te stel. 

Alhoewel die opstel van doelwitte baie belangrik is vir ’n suksesvolle lewe, is die realiteit dat slegs 8% van mense wat nuwejaarsvoorneme gemaak het dit sal bereik.  Teen Februarie het 80% van mense reeds hul nuwejaarsvoorneme opgegee en teruggeval na die ou gewoontes van hul verlede.

Is verandering regtig so moeilik om te maak?  Is daar een of ander manier hoe ons die 8% kan word?  Hoe kan ons volhard om ons doelwitte te bereik? 

Navorsing toon dat die volgende metodes jou kanse sal verbeter om jou nuwejaarsvoorneme te verwesenlik.

Die sleutel tot sukses is om jou doelwitte behoorlik te definieer.
Die eerste stap, voordat jy met jou reis kan begin om ‘jou beste self’ te word, is om baie spesifieke doelwitte te stel.  Jy sal niks bereik as jy nie weet wat jy wil bereik nie.  As jy nie ’n spesifieke eindbestemming het nie, sal jy maklik jou fokus verloor en afwyk van jou koers. 

Wat wil jy bereik?  Skryf jou doelwitte neer in eksplisiete detail.  Skryf neer teen wanneer jy dit wil bereik en hoe jy dit gaan doen.  Dink aan al die moontlike ‘beste weergawes van jouself’.  Selfs al kom sommige idees te ambisieus na vore en maak dit jou angstig dat jy dalk kan misluk. 

Nadat jy jou doelwitte gefinaliseer en gedefinieer het, skryf dit netjies oor of tik dit uit.  Druk drie (3) kopieë uit.  Plaas een kopie langs die spieël waarin jy in die oggend kyk, een langs jou bed en een langs die deur waardeur jy die meeste loop.  Hoekom is dit belangrik?  Dit neem ongeveer 21 interaksies om ’n gewoonte te vorm.  As jy 3 keer per dag vir 21 dae in ’n ry na jou nuwejaarsdoelwitte kyk, sal jou brein ’n baie sterk konneksie met hierdie doelwitte vorm.  Diep in jou onderbewussyn sal die wortels gevestig word.  Sonder om aktief daaraan te dink, sal jou verstand begin om strategieë uit te beplan, probleme op te los en kreatiewe maniere te vind om jou drome na te streef en dit ’n realiteit te maak.  Die volgende keer as jy bewustelik nadink oor jou doelwitte en die struikelblokke hoe om dit te oorkom, sal dit wees asof jy al die antwoorde het. 

Moenie jou doelwitte aan ander mense bekend maak nie.
Baie mense sal sê dat jy jou doelwitte met familie en vriende moet deel.  Moenie dit doen nie.  Wanneer jy vir ander mense jou doelwitte vertel, ervaar jou brein ’n oomblik van onmiddellike bevrediging.  Deur mense te vertel wat jy uiteengesit het om te doen, het dit dieselfde euforiese effek op die brein as om dit werklik te doen.  Elke keer as jy vir iemand jou doelwitte vertel, voel dit vir jou brein asof jy dit alreeds bereik het.  Jou dryfkrag om jou droom te bewaarheid word baie verminder en jy sal waarskynlik nie daardie doel bereik nie.  Jy kan egter een persoon kies, slegs een persoon, aan wie jy jou doelwitte en drome bekend kan maak.  Hierdie persoon moenie ’n vriend of iemand wees wie nie ook vasberade is om hul eie doelwitte te bereik nie.  Hulle sal jou toelaat om slap te lê, aangesien hulle nie self tred hou nie.  Hierdie persoon moet iemand wees wie jy respekteer en vertrou.  Iemand met gesag wat ook vir jou omgee - soos ’n ouer of mentor.  Hulle kan jou gemotiveerd hou en jou aanspreeklik hou om jou doelwitte te bereik.  Onthou egter dat slegs jy jou doelwitte kan bereik.  Jy moet die moeite doen.  Jy is die enigste een wat jou drome kan bewaarheid.  Jy kan nie rondsit en niks doen en verwag om resultate te sien nie. 

Breek groot drome op in kleiner doelwitte.
Die voltooiing van jou skoolonderrig is net deel van ’n veel groter droom wat elke kind het.  Miskien weet jy al watter beroep jy eendag wil beoefen, of dalk nog nie.  Dit is wel belangrik om in gedagte te hou dat alles wat jy nou doen inpas by ’n groter plan.  Jy sal uitstekende punte op skool moet behaal om studie toelating by die universiteit te bekom.  As dit jou droom is om ’n dokter of veearts te word en jy is passievol daaroor om lewens te red, is jy waarskynlik reeds geïnteresseerd in biologie en wetenskap, maar ongelukkig kan jy nie wiskunde vermy nie.  Selfs as jy nie baie daarvan hou nie, sal jy hard daaraan moet werk.  Vooruitstrewende argitekte moet hul megastrukture volgens die wette van fisika en wetenskap ontwerp.  Lugdiens-ingenieurs moet soms hul gedagtes uit die ruimte kry en werk met ’n ekonomiese begroting.  Verkies jy die rugbyveld bo rekeningkunde en sou jy eerder ’n sportheld wou word as om kantoorwerk te doen?  Dan moet jy daagliks oefen en die nodige vaardighede verbeter, maar onthou dat sport net een helfte van die wiskundige vergelyking is.  Jy kan nie professioneel meeding as jy in jou 50’s is nie.  Jy moet ekonomie verstaan en jou inkomste belê.  Jy kan iemand aanstel om dit vir jou te doen, maar jy sal nooit weet of jy mislei en bedrieg word nie.  Niks is meer teleurstellend as ’n goeie sportman wat slegte besigheidskeuses gemaak het nie.  Dieselfde geld vir ander buitengewone beroepe.  As jy groot sukses bereik as ’n popster, moet jy taal-vaardighede besit, aangesien jy baie regskontrakte sal moet lees.  Taal is nie net vir outeurs of prokureurs nie. 

Noudat jy besef jy moet aandag aan jou skoolonderrig gee om jou doelwitte te bereik, gaan ons bespreek hoe jy jou studies moet aanpak om dit jou beste skooljaar te maak. 

Gestel dat jy teen die einde van die jaar ’n gemiddeld van 80% vir al jou vakke wil behaal.  Jy kan eenvoudig nie 50% deur die jaar kry en hoë punte vir jou finale eksamen verwag nie.  Groot doelwitte word slegs bereik deur kleiner daaglikse prestasies wat voortdurend na jou beste vermoë uitgevoer moet word.  As jy ’n onderskeiding wil behaal vir al jou vakke, moet jy jou huiswerk elke dag doen; jy moet elke dag leer.  Jy moet voortdurend hard werk, nie net op die dae wanneer jy gemotiveerd voel nie.  Daarboonop moet jy ekstra doen.  As jy jou huiswerk doen en hard studeer, maar jy sukkel steeds met ’n onderwerp, moet jy meer hulpbronne aanwend.  Jy kan hulp van ’n tutor kry, kyk na- en lees handleidings en studiegidse.  Jy kan met behulp van jou Afrikaanse Skoolprojekte subskripsie deur oefentoetse en voorbeeld eksamenvraestelle werk. 

As jy jou beste poging aanwend, sal jy suksesvol wees.  Arnold Schwarzenegger het gesê, “Jy kan nie die leer van sukses met jou hande in jou sakke klim nie.”

Motiveer jouself daagliks.
As ’n totaal van 92% mense hul nuwejaarsvoorneme opskort, moet jy deel van die 8% van mense wees wat hul doelwitte voortsit.  Dit beteken om jouself daagliks te motiveer.  Daar sal dae wees wanneer jy nie wil huiswerk doen of leer nie; oefen vir die atletiek, na die koor oefening gaan, of die viool wil speel nie. Party dae gaan jy moeg, gedreineer of net nie in die bui wees vir dit nie, maar jy gaan nie opgee nie!  Jy moet jouself herinner dat jy in die top 8% van die wêreld is wat by hul plan hou.

Maniere om dit te oorkom is om motiverende aanhalings te soek en dit oor jou slaapkamer se mure te plak.  Hou ’n dagboek met foto’s van jou helde.  Maak ’n visiebord om jou aan doelwitte te herinner.  Herinner jouself daaraan dat jy waardig is om elke doel en droom wat jy het te bereik. 

“Mense sê dikwels dat motivering nie duur nie.  Wel, om te bad duur ook nie - dit is hoekom ons dit daagliks aanbeveel.” - Zig Ziglar

Laastens, geniet dit!
Om hard te werk om jou doelwitte te bereik is nie veronderstel om neerdrukkend te wees nie - dit moet pret wees!  Visualiseer jouself met alles wat jy wil hê.  Visualiseer hoe jy sal voel wanneer jy daardie doel bereik.  Stel jou voor hoe goed jy gaan voel wanneer jy vinniger hardloop, goeie punte kry, hoër note sing of beter sport speel en wanneer jy jouself trots maak!  Wees opgewonde en geïnspireerd omdat ons een lewe gegee is en om te lewe is goed - selfs al is dit sommige dae moeilik.  Ons moet daarna streef om ons beste self te word, want ons verdien om te wees wie ons bedoel is om te wees.  Steve Jobs het gesê: “Die enigste manier om werklik tevrede te wees, is om te doen wat jy dink goeie werk is.  En die enigste manier om goeie werk te doen, is om lief te wees vir dit wat jy doen.”

Nuwejaarsvoorneme is pret en opwindend om te maak.  Ons sal graag jou storie wil hoor en uitvind wat jou planne is om jou nuwejaarsvoorneme na te streef.  Hoe was jou lewe in die verlede en hoe lank duur jou nuwejaarsvoorneme normaalweg?  Miskien het jy alreeds van hierdie struikelblokke oorkom en begin om aan die toekoms te bou wat jy vir jouself wil hê.  Het jy enige advies en motiverende aanhalings wat jou geïnspireer het om ’n kopskuif te maak?  Deel dit asseblief met ons!  Ons wens aan almal ’n wonderlike Nuwejaar toe!

Mag 2018 jou beste jaar ooit wees! Ons begin 'n nuwe blogreeks om jou regdeur die jaar te ondersteun!

Gelukkige en Voorspoedige Nuwe Jaar!

Ons wens vir jou en jou gesin baie seëninge en vreugdevolle oomblikke in 2018 toe.  Mag hierdie blydskap die hele jaar duur!

Ons stel baie belang in die opvoeding en welsyn van elke ontwikkelende kind.  Hulle hou die sleutel tot sukses vir die toekoms van die mensdom - hulle sal ons samelewing bevorder op ondenkbare maniere.  Dit was nog altyd ons doel om leerders te ondersteun in die voorbereiding van hul toekoms.  Dit is ons wens dat elke kind hul volle potensiaal sal bereik!

Vanjaar beplan ons om nog meer waarde toe te voeg aan jou kind se opvoeding.  Afrikaanse Skoolprojekte het 'n nuwe blogreeks begin wat elke Maandag vir die hele 2018 sal verskyn.  Ons doel is om waardevolle advies en wenke te deel om jou kind se leerervaring te verbeter.  Ons wil leerders help om op hul beste te presteer, nie net in hul akademie nie, maar op alle terreine wat nodig is vir hul ontwikkeling om gesond, gelukkig en suksesvol te wees.  Ons wil leerders, sowel as ouers en onderwysers regdeur die jaar motiveer en inspireer.

Die blog sal die onderwerpe dek wat van toepassing is op die skoolkalender, maak dus seker dat jy ons Blog volg vir die weeklikse artikels.

Ons wens jou 'n skouspelagtige nuwe jaar toe.
Mag 2018 jou beste jaar ooit wees!