Maandag, 29 Januarie 2018

Bly gemotiveerd en bly op die regte spoor met jou skoolwerk.

Bly gemotiveerd en bly op die regte spoor met jou skoolwerk.


Moenie oorweldig voel deur moeilike leermateriaal nie.




Ons is almal al hier gewees – jy worstel met ’n sekere onderwerp; jy sien hierdie groot berg van werk voor jou; jy voel lus om op te gee.  Hoe kan jy hierdie oorweldigende gedagtes hanteer? Hoe bly jy gemotiveerd en waar begin jy?  

Begin klein, maar begin dadelik.
’n Reis van 'n duisend myl begin met ’n enkele tree.  Soms sien ons net ’n hoë hoop werk om te doen.  Ons weet nie hoe ons ooit alles gedoen gaan kry nie.  Die geheim is eenvoudig om te begin.  Selfs as jy net een som doen of een bladsy lees of een woord skryf, is jy steeds nader aan die bereiking van jou doel as wat jy voorheen was.

Sien die groter prentjie raak.
Baie leerders sukkel om die groter prentjie te sien wanneer hulle by ’n klein struikelblok kom.  Byvoorbeeld, daar is dalk een wiskundige vergelyking waarmee hulle sukkel en omdat hulle nie hierdie enkele probleem kan oplos nie, gee hulle vir ewig wiskunde op.  As jy wiskunde opgee, beperk jy jou opsies later.  Jy benodig wiskunde om verskeie dissiplines by die universiteit te studeer.  Nie net dit nie, maar sekere dele van jou brein word gestimuleer wanneer jy ’n wiskundeprobleem probeer oplos.  Wiskunde is ook baie belangrik vir baie ander dissiplines, soos wetenskap, ekonomie, rekeningkunde ens.  Daardie studierigtings hou weer verband met ander.  Die ontwikkeling en stimulering van alle dele van jou brein is noodsaaklik om jou volle potensiaal te bereik.  Die afwesigheid van een van hulle is soos ’n ontbrekende stuk van ’n legkaart.  Dit is jou taak om uit te vind waar en hoe elke stukkie van die akademiese legkaart in mekaar pas.  Moenie net fokus op ’n klein probleem nie, weet dat jy werk vir iets groter en dat jy groter is as enige struikelblok in jou pad.  

Moenie bang wees om foute te maak nie.
Moenie bekommerd wees om foute te maak nie.  Vanuit ’n akademiese oogpunt is die enigste manier om vordering te maak, om uit jou foute te leer en dit nie te herhaal nie.  Trouens, hoe meer foute jy maak terwyl jy huiswerk doen en vorige of voorbeeld toets- en eksamenvraestelle uitwerk, hoe minder foute sal jy in die werklike eksamen maak.  Jy sal leer wat jy verkeerd gedoen het en hoekom dit verkeerd is.  Jy sal die beginsels en begrippe verstaan, nie net die regte antwoord leer en dit direk na die toets vergeet nie.  

Omring jouself met eendersdenkende mense.
Daar is baie studente wat net soos jy baie hard werk, hulle probeer ook om goeie punte te kry en voel ook gestres.  Vind daardie mense!  Hulle sal jou aanmoedig en inspireer om voort te gaan.  

Vra vir hulp.
Jou onderwyser sal altyd probeer om te help - dis hoekom hulle daar is.  Verduidelik aan jou onderwyser presies waarmee jy sukkel en waarom jy sekere areas van die werk nie verstaan nie.  As jy weet dat een van jou eweknieë regtig goed doen in ’n sekere vak, moenie huiwerig wees om vir hulp te vra nie.  Mense hou daarvan om hul kennis te deel.  Jy kan ook dalk ’n nuwe vriend en studievennoot maak.  

Dit sal ook verbygaan.
Om te leer vir toetse en werk kan ’n onaangename ervaring wees.  Die toets sal egter kom, ongeag of jy gereed is of nie.  Gee dit alles wat jy het, sit die werk in en sodra dit verby is kan jy weer ontspan.


Onthou dat harde werk altyd betaal.  Jim Watkins het gesê: ’n Rivier kerf deur die rots, nie as gevolg van sy krag nie, maar as gevolg van sy volharding.  Bly volhard met jou studie en moet nooit opgee nie.  Laat ons weet wat jou motiveer en hoe jy moeilike vakke benader.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking