Maandag, 22 Januarie 2018

Vyf redes waarom jy nou moet hard werk om later die vrugte te pluk.

Vyf redes waarom jy nou moet hard werk om later die vrugte te pluk.


Bou jou toekoms op 'n stewige fondasie.



Alle prestasies is gebou op 'n stewige fondasie van harde werk en deursettingsvermoë.  Die beste manier om jou sukses in die klaskamer te verseker is om te begin werk van dag een af.  Dit is soms baie maklik om te besluit om huiswerk uit te stel of om later te studeer, want daar is eers ’n eksamen in die volgende paar maande.  ’n Paar maande kan egter vinnig in een maand verander, een maand verander vinnig in ’n week en voordat jy dit weet, is dit die dag voor jou eksamen.  Jy het vir te lank uitgestel.  Moenie dat uitstel afstel word nie.  Hier is 5 redes waarom jy nou moet werk.  
  1. As jy hard werk van die begin af, kom jy in die gewoonte om hard en doeltreffend te werk.  As jy reeds in die gewoonte is om hard te werk, is dit nie vreemd vir jou om vir die eksamen te leer nie.  Op hierdie manier werk jy meer produktief oor die langtermyn.
  2. Doen jou huiswerk vanaf dag een sodat jy vertroud raak met die inhoud van die werk.  Wanneer jy dan begin om te leer vir jou toets, weet jy reeds watter onderwerpe moeiliker is en watter modules jy meer tyd aan moet spandeer.  Jy kan makliker vooruit beplan en onderwysers en tutors vroegtydig vind om jou te help met die moeilike onderwerpe.
  3. Al jou studies bou bo-op mekaar.  Graad 11-wiskunde is byvoorbeeld meer kompleks as Graad 10-wiskunde, maar die grondslag van jou Graad 10-wiskunde moet solied wees sodat jy Graad 11 se werk kan verstaan.  As jy nou hard werk, sal jy ’n sterker akademiese fondasie hê, nie net vir hierdie jaar se eindeksamen nie, maar ook vir die volgende jare.  
  4. Wanneer jy van die begin af hard werk vat jy die druk van jou af om vir eksamens te leer.  As jy al die leerwerk die aand voor ’n eksamen in jou brein prober prop, sal jy gespanne wees. Daarom moet jy die skooljaar begin met goeie werksetiek, wat sal verseker dat jy die res van die jaar baie meer sal geniet.
  5. Uiteindelik sal harde werk lei tot goeie punte wat baie deure in jou toekoms kan oopmaak, insluitende geleenthede om te studeer aan ’n universiteit of werksgeleenthede.  Wie weet, deur jouself voortdurend op te bou deur hard te werk om jou doelwitte te bereik, kan jy die hoof uitvoerende beampte van ’n gesiene maatskappy word.  

As jy hard werk, gee jy jouself die beste geleentheid om suksesvol te wees.  Gary Player het gesê: “Hoe harder ek werk, hoe meer geluk het ek.”  Wanneer ons harde werk insit, sal ons beloon word.  

Stel jy ooit jou studies uit of probeer jy altyd van die begin af hard werk?  Deel met ons jou ervaring oor die voordele van harde werk. 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking