Maandag, 19 Februarie 2018

7 Tegnieke wat jong kinders sal help om stres te hanteer.

7 Tegnieke wat jong kinders sal help om stres te hanteer.


Stres van skoolwerk en eksterne faktore het vele negatiewe uitwerkings op die ontwikkeling van kinders.




Soms kan die jong lewe van ’n besige skoolkind oorweldigend wees – skoolwerk, sport, kultuur, ander buitemuurse aktiwiteite, familie, vriende en alles tussenin… Ons voel gestres en ons wil net hê dat die lewe ons ’n kans moet gee om asem te skep. Tog stop die lewe vir niemand nie! Dit is ons verantwoordelik om maniere te vind hoe ons stres kan hanteer en steeds ons gelukkige en unieke self kan wees.

William James het gesê: “Die kragtigste wapen teen stres is ons vermoë om een gedagte bo ’n ander te kies.” Ons is in beheer van ons gedagtes en ons kan beslis ons stresvlakke beheer wanneer dit hand uitruk. Hier is 7 maklike tegnieke om jou te help om stres te hanteer.

1. Bestuur jou tyd.
Die meeste mense sê aan kinders en tieners om hul tyd goed te bestuur, maar niemand wys hulle regtig hoe nie. Ons derde blog van 15 Januarie 2018 - ‘Vier wenke wat jou sal help om ’n skedule vir ’n suksesvolle skooljaar op te stel’ verduidelik vir jou alles wat jy moet weet rondom die opstel van ’n skedule. Behalwe om ’n skedule op te stel rondom jou skoolwerk, studietyd en buitemuurse-aktiwiteite, moet jy ook rustyd skeduleer. Dit kan enigiets wees vanaf ’n 15 minute ruskans tot ’n volle dag afvat oor die naweek om niks anders te doen as om te herlaai nie.

Bestuur jou tyd goed deur goed georganiseerd te wees. Hou ’n dagboek waarin jy jou aktiwiteite (en die vereiste tyd) neergeskryf. As jy besef dat jy gedurende die week te veel aktiwiteite het, kan dit ’n goeie besluit wees om met een of twee aktiwiteite af te skaal. Dit is nie die moeite werd om jouself siek te maak a.g.v. stres omdat jy nie alles kan doen nie, want jy sal later eindig om niks te doen nie!

Wanneer jy jou tyd bestuur, onthou om net te fokus op die dinge wat jy regtig kan beheer. Soms kan ons baie stres oor die onsekerhede en dan stresvolle gebeurtenisse in ons gedagtes uitbeeld oor alles wat moontlik verkeerd kan gaan en dan vergeet ons waarom ons dit in die eerste plek wil en moet doen. Kies om daardie gedagtes vry te laat en fokus slegs op dit waaroor jy die mag het. Jy het die mag oor baie dinge – soos jou produktiwiteit en dit waarop jy tyd mors.

2. Sien om na jou liggaam.
Fisiese oefening is een van die grootste stresverligters in die wêreld. Dit is omdat die hormoon endorfien geproduseer word wanneer jy oefen. Endorfien is ’n goed-voel hormoon wat jou gelukkig maak. As jy gelukkig is, voel jy outomaties minder gestres en sal jy beter presteer, ongeag die stawwe werklading. Strek of Joga is ook wonderlik vir spanningverligting omdat jy die spanning in stywe spiere verlig. Probeer hierdie eenvoudige stresverligtingtende strek-oefening: Lê plat op jou rug en lig jou bene op om teen die muur te rus sodat jy ’n ‘L’ vorm met die muur en vloer. Dit help met die verligting van spanning in jou dyspiere en lae rug (waar jy baie stres stoor gedurende die dag wanneer jy by jou lessenaar sit).

Massering help om ontslae te raak van vasgekeerde stres en ander gifstowwe in jou liggaam. Jy kan ook vir ’n massering gaan by ’n opgeleide masseerterapeut of selfs jou eie hande, nek of voete masseer. Jou voete stoor baie stres aangesien dit drukpunte het waar die senuwees verbind word. Neem ’n gholfbal of enige ander klein bal en plaas dit onder jou voet en druk liggies daarop. Rol jou voet oor die bal in sirkels om die druk te verlig.

Dit is nie net belangrik om uiterlik na jou liggaam om te sien nie, maar ook te kyk na dit wat jy binne jou liggaam sit. Daar is baie kosse en drink-goed wat stress verlig. Ons het ’n paar hieronder gelys, maar dit is beslis nie beperk tot slegs hierdie nie:

Aspersies, Avokado, Bloubessies, Amandel- en Kasjoeneute, Lemoene, Salm, Spinasie, Knoffel, Hawermout, Kamille Tee, Donker-sjokolade (dit reguleer vlakke van die streshormoon kortisol en stabiliseer jou metabolisme), asook ander kosse ryk aan Magnesium en Omega 3 Olies.

Kry genoeg slaap. Groeiende kinders benodig ten minste 8 ure goeie slaap om te herstel na ’n besige dag, om te groei en vir hul brein om te funksioneer. Kyk na jou slaappatrone. Gaan slaap en word wakker elke dag op dieselfde tyd. 

3. Leer om asem te haal.
As jy die tyd neem om diep asem te haal wanneer jy in stresvolle situasies is, kan jy jou stresvlakke verlaag. Wanneer jy diep inasem gaan meer suurstof na jou brein. Dit help jou brein om helder en beter gedagtes te dink. Dit kalmeer ook jou respirasie en verlaag jou hartklop. Volgende keer as jy gestres voel, probeer hierdie asemhalingstegniek:

Sit stil op die vloer of jou bed met jou bene gekruis. Begin diep inasem – moenie jou skouers lig nie, hou jou bolyf en bors stil. Fokus slegs op jou asemhaling. Laat jou maag gevul word met lug en druk jou diafragma af. Die inaseming moet net jou maag uitstoot. Terwyl jy inasem tel stadig van 1 tot 4 en hou dan jou asem vir 3 tellings. Asem uit. Blaas stadig al die lug uit jou liggaam met ’n eweredige uitaseming. Onthou om jou bolyf stil te hou. Terwyl jy uitasem, tel stadig vanaf 1 tot 5. Herhaal hierdie oefening vir ’n minuut en jy sal begin om ontspanne te voel.

4. Praat daaroor.
Soms wanneer ons gestres voel, is ons geneig om van ons geliefdes af te sluit. Dit is baie belangrik om te kan praat oor die spanning wat jy ervaar met iemand wat jy liefhet en respekteer. Vertel aan hulle wat jou gestres laat voel. Vra vir ’n drukkie en vir hulp as jul verhouding dit toelaat. Jy kan ook begin om in ’n dagboek oor jou ervarings te skryf. Dit help jou om enige onderdrukte gevoelens vry te laat. Om dit eenvoudig neer te skryf of om daaroor te praat in ’n veilige omgewing help om jou stresvlakke te verlaag.

5. Soek die son op.
Wanneer jy tyd in die natuur spandeer sal gevoelens van vrees, woede en angs verminder. Wanneer jy elke dag ’n paar minute in die natuur sit, of selfs kaalvoet op die gras loop, word jou fisiese welsyn dramaties verhoog. Dit verlaag bloeddruk, kalmeer jou hartklop en verlig spanning in jou spiere en verminder streshormone.

Wanneer jy met direkte sonlig in aanraking kom produseer jou liggaam serotonien. Serotonien help om jou buie, eetlus en vertering, slaappatrone en geheue te reguleer en te balanseer. Sonlig gee ook jou liggaam ’n vitamien-D hupstoot wat help om sterk bene op te bou. Wees egter versigtig vir die son - 15 tot 30 minute van sonlig sal ’n goeie uitwerking op jou stresvlakke hê, maar onthou altyd jou sonblok!

6. Ruik die rose.
Aromaterapie het bewys dat sekere reuke ’n kalmerende effek op mense onder spanning het, byvoorbeeld:

Laventel het kalmerende eienskappe en help om stres te beheer; dit verlig spanning, hoofpyn en depressie.
Bloekom help teen geestelike moegheid en verhoog energie.
Kruisement verlig pyn, verhoog energie en ontspan die senuwees.
Jasmyn tree op as ’n anti-depressant, aangesien dit gevoelens van selfvertroue en nuwe energie skep.
Kaneel stimuleer konsentrasie en fokus en veg teen geestelike moegheid.
Sitrus vernuwe, stel gerus en kalmeer die senuwees.

As jy van enige van hierdie reuke hou, kry ’n vloeibare borrelbadseep wat lekker ruik of ’n geurige kers wat jou kan help met die verligting van stres.

7. Neem ’n ruskans om iets lekker te doen!
Om iets te doen wat pret is, kan baie dinge behels! Jy hoef nie altyd omring te word deur vriende by ’n partytjie nie. Jy hoef ook nie baie geld te spandeer op speletjies of ver weg te gaan om pret te hê nie! Om iets te doen wat lekker is, kan dalk beteken om iets te doen wat jy nog nie voorheen gedoen het nie. Dit kan beteken dat jy versteekte talente ontdek of iets doen wat jy nog altyd wou probeer. Miskien kan dit pret wees om by ’n hondeskuiling uit te help of om familielid te besoek wie jy lanklaas gesien het. Luister na jou hart en doen wat die beste is vir jou.


Hierdie 7 tegnieke sal help om jou stres geweldig te verminder. Stres is nie gesond vir jou nie en kan later baie negatiewe effekte hê as dit onbehandeld gelaat word. Onthou altyd om professionele hulp te kry as jy dit nodig het!

Deel met ons hoe jy stres hanteer. Steek jy ’n kers aan wat lekker ruik wat jou kalmeer? Geniet jy dit om te stap in die natuur om jou stres te verlig? As jy ’n vriend of iemand naby jou het wat met stres sukkel, deel hierdie artikel met hulle – jy kan dalk dit verhoed dat hul uitbrand!


Maandag, 12 Februarie 2018

Valentynsdag idees vir jou kinders.

’n Paar goeie idees hoe jy vir jou kinders kan wys dat jy hulle baie lief het hierdie Valentynsdag.




Al wat jy nodig het, is liefde!  Maar ’n bietjie sjokolade af en toe maak nie seer nie.” – Charles Schulz 

Hierdie week is Valentynsdag! Ons wens vir jou vir ’n wonderlike week, vol liefde en gelukkige oomblikke toe. Valentynsdag beteken om tyd te spandeer saam met die mense vir wie jy lief is!



Hier is ’n paar goeie idees hoe jy vir jou kinders kan wys dat jy hulle baie lief het hierdie Valentynsdag:


1. Maak Valentynsdagkaartjies
Dit is nie oud-modies om ’n handgemaakte kaartjie te gee om te sê dat jy omgee vir iemand nie! Versier Valentynsdagkaartjies saam met jou kinders. Knip papierhartvorme uit en wees kreatief met ander versierings. Skryf ’n spesiale boodskap binne in of skryf selfs jou eie gedig. 




2. Los ’n Geheime Briefie
Skryf ’n klein briefie en sit dit in jou kinders se skooltasse of pennesakkies om vir hulle te sê dat jy hulle lief het. Sê dat jy trots is op alles wat hulle bereik het en dat hulle jou as ’n ouer uiters gelukkig maak. 



3. Kreatiewe Kosblik
Hart-vormige toebroodjies is maklik om te maak, maar baie oulike Valentynsdag kosblik-happies. Sny hartvormige volgraantoebroodjies met ’n hartvormige koekiesnyer. Jou kinders sal beslis geliefd voel en aan jou dink tydens skool. 


4. Soet Gevriesde Lekkernye
Neem jou kinders vir ’n roomys, bevrore jogurt of yslollie! Geen kind kan ongeliefd voel as hy of sy aan ’n roomys smul nie! Jy kan selfs kreatief wees en jou eie gesonde yslollies met lekker vrugte maak.



5. Hartvormige Koekies
Bak hartvormige koekies saam met jou kinders wanneer hulle van die skool af kom. Dit is ’n prettige aktiwiteit vir hul om die versierings bo-op te sit.



6. Kyk hul Gunsteling Film
Nadat jou kinders hul huiswerk voltooi het, kyk hul gunsteling-animasiefilm saam met hulle. Ons stel voor ‘Lady and the Tramp’ of ‘Beauty and the Beast’.




Geniet jou Valentynsdag saam met jou familie en geliefdes.



 

5 Wenke om jou selfvertroue binne en buite die klaskamer op te bou.

5 Wenke om jou selfvertroue binne en buite die klaskamer op te bou.


Selfvertroue speel ’n belangrike rol in jou dryfkrag om akademies te presteer.



Word jy senuweeagtig wanneer jy toesprake moet lewer? Stres jy voor ’n groot sportbyeenkoms? Wat van as jy met iemand praat waarvan jy hou of vir iemand vir hulp vra? Het jy al ooit so onseker gevoel oor jouself dat jy van ’n situasie wou weghardloop? Almal het al op ’n sekere stadium in hul lewe so gevoel.

Om goed te presteer en op baie gebiede van ons lewens sukses te behaal, moet ons ’n sekere vlak van selfvertroue handhaaf. Hoe word ons selfversekerd?

Voordat ons verder gaan, wil ons ’n duidelike onderskeid tref tussen selfvertroue en selfbeeld. Selfbeeld en selfvertroue loop hand aan hand, maar dit is nie dieselfde nie. Selfbeeld het baie te doen met jou interne waardes en selfrespek. In verlede week se blog ‘Hoe om ’n gesonde selfbeeld te ontwikkel’ het ons die baie maniere bespreek hoe ons ons selfbeeld kan bevorder.

Selfvertroue aan die ander kant is gebaseer op die vertroue wat ons in ons eie vermoëns, vaardighede, eienskappe en talente het. Selfvertroue kan bepaal word deur die manier hoe jy oor jouself voel wanneer jy sekere take uitvoer. Is jy middelmatig, voldoende of uitsonderlik met die uitvoering van daardie bepaalde taak? Hou jy daarvan om dit te doen, en indien wel, is jy gemotiveerd om harder te wil werk aan daardie spesifieke vaardigheid om selfs beter te presteer? OF, haat jy om dit te doen? Is jy heeltemal onbekwaam daarmee en probeer jy om dit ten alle koste te vermy? Word jy gespot omdat jy dit heeltemal verkeerd doen en laat dit jou minderwaardig voel? Soos ons reeds genoem het, kan jou talente en vermoëns (of die gebrek aan hierdie vaardighede) die manier waarop jy jouself beskou, beïnvloed. Dit kan op die lang-termyn jou selfbeeld beïnvloed, maar dit bly wel twee verskillende konsepte en albei kan afsonderlik verbeter word.

Die vraag is, as selfvertroue gebaseer is op die vertroue wat ons in ons eie vermoëns en talente het, hoe verhoog ons hierdie vertroue in onsself? Ons kan ons selfvertroue haak (‘hack’) deur ons omgewing te verander, deur die manier waarop ons dink – en snaaks genoeg – deur ons eie liggame aan te pas. “Met selfvertroue kan jy werklik hoë hoogtes bereik; sonder selfvertroue is selfs die eenvoudigste prestasies buite jou bereik.” - Jim Loehr.


Hier is ons 5 beste wenke wat jou sal help om jou vertroue op te bou sodat jy hoë hoogtes kan bereik!

1. Positiewe gedagtes en positiewe aksies.
Ons brein is die grootste super-rekenaar wat ooit gebou is – dit is in staat om wonderwerke te verrig. Ons verstand beheer ons liggame – en dus ons prestasies en sukses. Die goeie nuus is dat ons self ons gedagtes beheer! Wanneer jy positiewe gedagtes dink oor enige situasie sal dit ly tot positiewe optredes. 

Om eksamen te skryf is stresvol, maar om met ’n positiewe ingesteldheid in te gaan, neem jy al klaar van die druk af. As jy begin met die skryf van jou toets en by jouself dink: “Ek gaan misluk, maak nie saak hoe hard ek probeer nie,” raai wat – dan gaan jy waarskynlik baie sleg doen in die toets! Druk die skakelaar vanaf die negatiewe ingesteldheid en sê eerder: “Ek het baie goed voorberei vir hierdie toets. Ek het die wysheid om enige probleem op te los.” Jou positiewe gedagtes sal positiewe aksies tot gevolg hê en dit sal lei tot ’n positiewe lewe.

2. Versorg jou fisiese liggaam.
Jou fisiese gesondheid speel ’n geweldige rol in jou selfvertroue. As jy fisies gesond is, sal jy meer energie hê om take te voltooi en sal jy outomaties beter presteer. Jy sal meer in beheer voel van jou liggaam en dus jou liggaam vertrou om die dinge te doen wat jy in staat is om te doen. Jy sal selfs beter doen in enige nuwe aktiwiteite wat jy nog nie voorheen gedoen het nie, want jy sal vertroue in jouself hê en jy sal jou liggaam (en jou vaardighede) vertrou om dit uit te probeer.

Om na jou fisiese gesondheid om te sien deur te oefen, verbeter jy nie net jou algemene liggaamsbeeld nie, maar oefening het ook baie sielkundige voordele. Wanneer jy oefen produseer jou liggaam endorfiene wat jou goed laat voel en ook stres verlig. Stres belemmer jou om jou beste te lewer. As jou liggaam voortdurend onder stres geplaas word, sal dit oor die langtermyn ander gesondheidsprobleme veroorsaak. Oefening verhoog ook jou konsentrasievermoëns – wat akademiese vaardighede soos lees, skryf, leer, memorisering en kreatiewe probleemoplossing bevorder. Jy sal in staat wees om meer duidelik te fokus op die beoefening van ’n musiekinstrument of die behoud van jou gedagtegang wanneer jy ’n toespraak lewer. Dit is alles baie belangrike faktore wat bydra tot selfversekerdheid. 

Goeie fisiese gesondheid verseker ook ’n goeie immuunstelsel, wat beteken dat jy nie baie dikwels siek word nie. Jy kan eerder jou tyd produktief bestee, werk om jou vaardighede te verbeter en jou doelwitte te bereik – in plaas van om in die bed te lê en gedagtes te hê van selftwyfel en selfkritiek.

Ons kan ook na ons liggame omsien deur deur onsself te versorg. ’n Goeie haarstyl, om jou tande te borsel of selfs ’n lang borrelbad te neem, kan jou selfvertroue ook ’n goeie hupstoot gee! Jy sal baie beter voel oor jouself en minder bewus wees van jou voorkoms wanneer jy goed versorg is. Persoonlike higiëne is ook goed vir jou gesondheid, want dit hou bakterieë, virusse en siektes weg. Jy moet egter nie obsessief raak oor jou higiëne nie. Moet nie bekommerd wees oor al die nuutste modeneigings nie. Jy hoef beslis nie soos ’n supermodel te lyk om selfversekerd te wees nie, maar jy moet jouself versorg! Wees die beste jy! Jy het een liggaam. Dit is die enigste liggaam wat jou kan help om jou doelwitte te bereik – so jy kan netsowel jouself en jou liggaam met respek behandel!

3. Elimineer selftwyfel.
Selftwyfel kom gewoonlik voor wanneer ons nie ten volle voorbereid is vir die taak wat voor ons lê nie. Wees ten volle voorbereid! Elimineer onsekerhede deur middel van oefening. Oefen! Oefen! Oefen!

Byvoorbeeld, as jy ’n toespraak moet lewer, oefen die toespraak totdat jy elke woord ken. Die enigste manier om te weet dat jy nie jou woorde sal vergeet of stotter en verhoog-vrees kry nie, is as jy die toespraak soos die palm van jou hand ken. Jy moet elke woord heeltemal verstaan, sowel as die onderwerp waaroor jy praat. Selfs as jy ’n woord verander of vooruit spring in jou toespraak, moet jy weet waar jy is en weer jou koers kan vind sonder om weer te begin.

Wanneer ’n toets opduik, leer hard en wees ten volle voorbereid vir enige vrae wat aan jou gestel word. Dit is bewys dat selftoetsing die enigste manier is om te verseker dat jy voorbereid is vir ’n toets. Jy bevestig dat jy bevoeg is met die werk deur ’n oefen toets te slaag. Die beste manier om jouself vir toetse of eksamens voor te berei, is deur gebruik te maak van jou Afrikaanse Skoolprojekte subskripsie vir oefen eksamenvraestelle. Die vrae word op dieselfde manier gevra en teen dieselfde standard gestel soos deur ’n ware eksamen vereis. Wanneer jy deur die vrae werk en leer hoe om elke vraag te beantwoord sal jy vinnig jou selfvertroue vir die vak opbou. Om eksamen te skryf is netsoveel ’n tegniek as wat dit gaan om werklik slim en kundig wees – dit is iets wat jy kan aanleer! 

As jy twyfel in enige van jou klaswerk of buitemuurse aktiwiteite, moenie bang wees om vir hulp te vra nie. Dit is hoekom jou onderwysers daar is – om jou te help! Moenie in stilte voort sukkel nie, vra jou onderwysers, vriende en ouers om hulp.

Onthou dat almal foute maak, so as jy misluk – tel jouself weer op. Daar is ’n Japannese spreekwoord wat lui: “Val neer sewe keer, staan op agt.” Dit beteken dat dit nie saak maak hoeveel keer jy misluk nie, jy moet egter nog een keer probeer.

4. Beheer jou lyftaal.
Wat het postuur of lyftaal met selfvertroue te make? Dit blyk baie! Amy Cuddy is ’n navorser aan die Harvard Universiteit en sy bestudeer lyftaal, postuur en die manier waarop hormone ons vertroue kan beïnvloed. Dit is algemeen bekend dat jou selfvertroue ’n beduidende uitwerking op jou lyftaal het. Byvoorbeeld, as jy selfversekerd voel, is jy meer geneig om jou liggaamshouding oop te maak, wyer en langer te staan en jou arms oop te maak. Jy voel ontspanne. So jou selfvertroue beïnvloed jou lyftaal. Cuddy het egter bewys dat dit ook andersom is - jou lyftaal kan ook jou selfvertroue beïnvloed! Dit is wonderlike nuus vir enigiemand wat al ooit selftwyfel ervaar het, want nou het ons ’n tegniek wat ons kan gebruik om ons gedagtes te laat glo dat ons meer selfversekerd voel as wat ons eintlik is. Ons kan ons postuur aanpas en ons lyftaal verander.

Hier is drie maniere om jou selfvertroue te verbeter deur jou liggaamstaal aan te pas:

  • Krag-posering.
    ’n Krag-posering, verduidelik Cuddy, is ’n houding wat jou testosteroon sal verhoog (’n hormoon teenwoordig in alle dominante en kragtige primate) en verlaag jou kortisol (’n hormoon wat verband hou met stres). Dit is die tipiese “Wonder Woman” posering. Staan bene skouer-breedte uitmekaar, plaas jou hande op jou heupe, maak jou rug reguit, maak jou binnevorm styf en lig jou ken effens op. Wanneer jy so staan vir ongeveer 2 minute sal jou testosteroon vlakke toeneem, jou kortisol sal afneem en jy sal begin om meer selfversekerd te voel. Doen dit vir 2 minute lank in die oggend voor ’n toets in jou kamer of vinnig in die badkamer voordat jy ’n toespraak voor baie mense lewer. Dit sal ook goed werk voor ’n hokkie- of rugbywedstryd. Dit sal merkwaardige resultate lewer.
  • Postuur
    Skoolkinders sit baie ure per dag in die klaskamers en agter hul lessenaars na skool. Baie volwassenes spandeer ook lang ure agter rekenaars by die werk. Dit is ’n noodsaaklike deel van ons moderne samelewing. Om te sit is nie as sulks skadelik nie, maar ongelukkig wanneer jy vir soveel ure in die verkeerde posisie sit kan dit newe-effekte hê, nie net op jou rug en nek nie, maar dit dra ook by tot ’n slegte postuur – wat uiteindelik negatief sal weerspieël op jou selfvertroue.

    Ons het gewoond geraak om onsself kleiner te maak wanneer ons sit. Ons leun bukkend oor en kruis ons arms, bene of enkels of raak aan ons nekke of bors. Wat jy dalk nie agter kom nie, is dat dit aksies is wat ons natuurlik doen wanneer ons kwesbaar voel of beskerming nodig het. As jy jouself kleiner maak, stuur jou liggaam seine na jou brein wat jou laat glo dat jy in gevaar is. Dit verhoog dan jou kortisolvlakke. Soos ons reeds genoem het, is dit sleg omdat kortisol verband hou met stres.

    Een van die maklikste maniere om jou selfvertroue te verbeter, is deur ’n geringe aanpassing van die posisie waarin jy sit. Begin deur jouself daaraan te herinner om regop te sit, ontspan jou skouers en maak jou bors en rug oop. Jy sal minder gespanne voel in jou spiere as jy ontspan en dus sal jou stresvlakke laer wees – wat goed is vir jou fisiese en geestelike gesondheid. Jou selfvertroue sal vinnig verbeter.
  • GlimlagJy kan dink dis een van die mees verspotte wenke, maar om jouself te dwing om te glimlag of lag – al is jy nie in die bui of vind iets snaaks nie – het dit ’n beduidende impak op jou selfvertroue. Die ‘Facial Feedback Study’ deur Strack, Martin en Stepper het bewys dat wanneer jy ’n potlood tussen jou tande plaas terwyl jy voorgee dat jy glimlag, het dit presies dieselfde impak op jou hormone as wat jy werklik glimlag. As jy voorgee om te glimlag produseer jy dopamien, die goed-voel hormoon, wat presies dieselfde is as wanneer jy natuurlik glimlag. As jy van hierdie nuttige wenk gebruik maak tydens ’n stresvolle tydperk, sal jou liggaam in dopamien toeneem en uiteindelik jou liggaam se stresreaksie verminder, ongeag of jy regtig gelukkig is of nie.

Amy Cuddy het verduidelik dat ons nie gewoonlik ontspanne en selfversekerd voel tydens tye van stres en paniek nie, maar met hierdie eenvoudige wenke kan ons dit “namaak totdat ons dit regtig maak.” As ons voortgaan om ons liggame te haak (‘hack’) om ons gedagtes te beïnvloed, kan ons dit selfs “namaak totdat ons dit word!” Muhammad Ali het dit die beste gestel: “Om ’n groot kampioen te wees, moet jy glo jy is die beste. Indien jy nie is nie, maak asof jy is.”

5. Visualiseer.
Visualisering is een van die grootste selfvertroue aanspoorders wat ooit uitgevind is. Dit is opgeneem deur groot sporthelde, presidente en wetenskaplikes. Visualiseer dat jy die resultate wat jy wil hê bereik. Hierdie suksesvolle mense het hul selfvertroue verhoog deur te visualiseer hoe hul, hul take met perfeksie verrig. Hulle het ook die gevoelens wat hulle sal ervaar wanneer hulle hul doelwitte bereik gevisualiseer. 

Wayne Rooney van Manchester United het eenkeer verduidelik dat hy die nag voor ’n wedstryd in sy bed lê en visualiseer hoe hy ’n punt aanteken. “Jy probeer om jouself in daardie oomblik te plaas en jy probeer om jouself voor te berei, om ’n ‘herinnering’ voor die spel te hê.” Sommige noem dit ‘die repetisie van die ervaring’ – om jou verstand tot nader aan die werklikheid te verlig – ’n werklikheid waar jy jouself kan sien how jy jou doelwitte bereik, toesprake lewer of toetse skryf. Ander groot atlete wat hierdie tegniek gebruik sluit in Muhammad Ali, Michael Phelps, Jessica Ennis-Hill, Andy Murray en Conor McGregor. 

Bob Proctor het gesê: “As jy dit in jou gedagtes kan sien, sal jy dit in jou hand hou.” Sien jouself as die selfversekerde persoon wie jy wil wees. Gee jouself daardie motiverende praatjie, vertel jouself dat jy aantreklik, intelligent en vindingryk is – en sal jy dit baie gou word!


Het jy al van hierdie tegnieke voorheen probeer en dink jy dat dit jou selfvertroue verbeter het? Ons sal graag jou verhaal oor selfvertroue wil hoor. As jy dink ’n vriend kan doen met ’n hupstoot met hul selfvertroue, hoekom deel jy nie hierdie artikel met hulle nie? Jy mag dalk iemand se lewe verander!


Maandag, 05 Februarie 2018

Hoe om ’n gesonde selfbeeld te ontwikkel.

Hoe om ’n gesonde selfbeeld te ontwikkel.


’n Positiewe selfbeeld verseker ’n gesonde lewenstyl.




Jou selfbeeld ontwikkel en verander soos wat jy lewenservarings opdoen en ouer word. Jy vind uit wat jou talente is en wat jy geniet om te doen. Jy raak ook bewus van die areas waarin jy nie goed presteer nie en ook van dit waarvan jy nie hou om te doen nie. Jy groei en leer. Jou idees oor die wêreld en jou belange verander. Mense kom in jou lewe in en maak jou oë oop vir nuwe dinge. Ongelukkig sal sommige mense ook probeer om jou af te trek. Dit is deel van die lewe – ’n werklikheid wat onvermydelik is. Al hierdie ervarings dra by tot wie jy is en bepaal hoe jy jouself sien en oor jouself voel. Jou selfbeeld beïnvloed die besluite wat jy maak, jou verhoudings met ander en uiteindelik die persoon wat jy is. Dit is dus noodsaaklik om jouself te verstaan. Jy moet jou selfbeeld aktief evalueer en as jy dalk ’n swak selfbeeld het, moet jy daaraan werk en maniere vind om jou selfbeeld te versterk as dit jou daaglikse lewe negatief beïnvloed. Dikwels is ’n swak selfbeeld ’n vervormde siening van jouself. Al wat jy moet doen is om jou gedagtes en persepsies te verander oor hoe jy dink jy behoort te wees. Hierdie negatiewe sienings hou jou terug om jou potensiaal te bereik. Jou onvolmaakthede en tekort aan vaardighede het baie min te doen met wat jy kan en nie kan bereik nie.



Selfbeeld is nie altyd dieselfde as om selfvertroue te hê nie. Selfvertroue het baie te doen met die vertroue wat jy in jou vermoë het om goed te presteer in sekere areas sowel as die eienskappe en talente wat jy besit. Selfvertroue (of die gebrek daaraan) kan in die volgende scenario geïllustreer word: Jy is vol vertroue in die kunsklas. Jy geniet dit om te verf en presteer goed in die kunsklas. Jy is egter twyfelagtig oor jouself en jou vermoëns wanneer dit by sport kom. Jy is nie atleties nie, jy het geen balvaardigheid nie en het geen hand-oog koördinasie nie. Vir sommige kan die gebrek aan vertroue in hul vermoëns op die sportveld ’n mate van tydelike stres vir hul veroorsaak sonder om ’n swak selfbeeld te veroorsaak. Sommige aanvaar dit dat hulle nie talentvol is in daardie gebied nie en hulle fokus op dit waarmee hulle wel goed is – soos skilder en teken – en hulle verbeter daardie vaardighede. Sulke individue is steeds gelukkig en het ’n goeie selfbeeld. Waarom is dit dan so? Selfbeeld het baie meer te doen met jou interne waardes en selfrespek wat diep in jou gewortel is.




Oor ’n langer tydperk kan ’n swak selfbeeld ’n invloed hê op jou vermoë om goed te presteer in gebiede waarin jy gewoonlik goed is – wat jou selfvertroue negatief kan beïnvloed. Wanneer jy ook voortdurend in situasies geplaas word waar daar van jou verwag word om goed te presteer in gebiede waarin jy nie besonders goed is nie, kan jou selfbeeld daaronder ly, omdat jy sal begin om te glo dat jy in niks goed is nie. Ons wil egter jou herinner daaraan dat jy afsonderlik aan jou selfbeeld en selfvertroue kan werk. 




Noudat jy die verskil tussen selfvertroue en selfbeeld ken deel ons fundamentele beginsels wat jou sal help om ’n positiewe selfbeeld te vorm:




Weet dat jy ’n wonderwerk is.

Die kans dat jy in hierdie spesifieke tyd, plek en omstandighede gebore is, is 1 in 400,000,000,000. Dit beteken dat jy letterlik ’n wonderwerk is! Dink daaroor. As dit die geval is kan jy nie die feit ignoreer dat jy ’n spesifieke doel op aarde het nie. Hierdie wêreld sou nie volmaak wees sonder jou nie. Ons Skepper het jou in hierdie spesifieke tyd en plek gemaak met ’n rede. Dit is jou plig om uit te vind wat jou doel in die lewe is en elke dag te streef om daardie doel te bereik. Jou tyd is beperk, so maak die meeste daarvan. Erken dat jy ’n wonderwerk en ’n unieke mens is. Jy is waardig van ’n pragtige en voorspoedige lewe! Niemand kan of mag jou ooit laat voel asof jy hierdie lewe nie verdien nie.



Aanvaar jouself, ongeag jou onvolmaakthede.

Self-aanvaarding is die sleutel tot ’n gesonde selfbeeld. Soms kan dit moeilik wees om jouself te aanvaar, want jy wil dalk iets verander oor jou voorkoms, vermoëns of talente. Miskien wil jy vinniger hardloop, miskien wil jy minder skaam wees voor vriende of dalk het jy dit net nog nie reggekry om van jou sproete te hou nie. Dit is alles normale gedagtes wat elke kind en tiener op een of ander stadium in hul lewe ervaar. Alhoewel jy altyd moet probeer om jouself te verbeter in alle aspekte van jou lewe, moet dit nie ’n obsessie word of jou verhinder om jou lewe te leef nie. Ons het almal foute en die wêreld is vol foute. Skoonheid, jeug, krag en voorkoms is subjektiewe eienskappe. Ja, natuurlik is dit belangrik om na ons liggame om te sien; om ons talente te geniet en te bevorder; maar onthou dat alles met tyd vervaag. Dit is dus meer belangrik om onsself lief te hê en om met onsself te kan saamleef - leer dus om mekaar lief te hê met al ons onvolmaakthede. Selfverbetering moet gemotiveer word deur jou dryfkrag om jou doel op aarde te vervul en om te doen wat jy bestem was om te doen. Vind daardie magiese vonk wat in jou brand en hou die vlam lewendig. Lucille Ball het dit die beste gestel: “Wees eerstens lief vir jouself en alles anders sal in plek val. Jy moet werklik jouself liefhê om enige iets in hierdie wêreld gedoen te kry.”



Leef in die oomblik.

Elke dag wat jy beleef, ervaar die lewe werklik. Wees bewus van jou omgewing. As jy eet – proe regtig die smaak in jou mond. As jy na vriende luister, moet jy aan hulle jou volle aandag gee. As jy in die oomblik leef, sal jy minder oor die toekoms en die verlede stres. Wat ook al jy doen in jou daaglikse aktiwiteite, wees ten volle aanwesig.



Positiewe gedagtes oor jouself sal lei tot ’n positiewe lewe.

Ons selfbeeld word gevorm deur ons gedagtes oor onsself. Praat met jouself soos wat jy met ’n vriend sou praat. As jy ’n positiewe gedagte oor jouself gedink het, skryf dit neer of sê dit hardop. As jy ’n negatiewe gedagte oor jouself het – laat jouself toe om daardie gedagte dink, maar voeg daarna die woord “maar” by jou sin. Byvoorbeeld: “Ek is nie goed in wiskunde nie, MAAR ek leer om breuke te doen en ek maak eintlik geweldig baie vordering.”



Skryf elke aand 3 dinge neer wat jy glo jy daardie dag goed gedoen het. Dit kan iets wees wat jy bereik het of selfs iets positief oor jouself. Skryf enigiets al is dit net iets klein. Elke dag moet jy iets nuuts skryf. Byvoorbeeld:




Dag 1

  1. Vandag het ek die deur oopgehou vir ’n vriend wat swaar boeke gedra het.
  2. Ek het ’n baie snaakse grap vertel en my broers en susters het uit hul buik gelag.
  3. Ek het beter in my Engelse toets gedoen as ooit vantevore het, al het ek slegs 60% behaal.

Dag 2
  1. Ek het opgestaan vir ’n boelie wat my vandag gespot het.
  2. Ek het vir ’n vreemdeling geglimlag en toe glimlag sy terug.
  3. Ek het ’n mooi prentjie van ’n motorfiets geteken – ek vertrou ek sal goed doen in kunsklas hierdie kwartaal.

Fokus nie net op die groot dinge wat jy goed doen nie, maar ook op die klein dingetjies. Die wetenskap agter hierdie is dat wanneer jy voortgaan om te fokus op die goeie dinge wat jy op daardie dag gedoen het, jou brein die volgende dag sal begin soek na meer goeie dinge. Sielkundig sal jy jou gedagtes aanpas vir ’n beter selfbeeld, bloot deur aan die klein dingetjies wat jy goed gedoen het erkenning te gee.



Versprei positiwiteit so ver as wat jy gaan.

Hef ander mense op. Soek vir die goedheid in ander. Moenie net aan hulle komplimente gee bloot ter wille van ’n gesprek met hulle nie – maar let op die goeie dinge wat hulle doen, erken dit en vertel aan hulle dat jy trots op hulle is.




Begin vandag deur klein veranderings aan jou gedrag te maak om jou selfbeeld te bou. Jy is waardig van geluk, liefde en sukses. Jy is ’n geskenk aan hierdie wêreld! Dit maak nie saak wat jou agtergrond of herkoms is nie, hierdie wêreld sal nie dieselfde sonder jou wees nie en jy word benodig om ’n verskil in die wêreld te maak. “Mense is soos gebrandskilderde vensters. Hulle skitter en skyn as die son uit is, maar wanneer die duisternis kom word die ware skoonheid slegs geopenbaar as daar lig van binne is.” - Elisabeth Kübler-Ross. Laat jou lig van binne skyn!