Maandag, 26 Februarie 2018

Sien die tekens van nood in tieners raak en hoe om hul sielkundige welstand te verseker.

Sien die tekens van nood in tieners raak en hoe om hul sielkundige welstand te verseker.


Tieners het baie druk om akademies te presteer terwyl hul liggame baie veranderinge ondergaan.


Vandag ervaar ons jeug stres op ’n baie groot skaal - selfs vanaf die vroeë ouderdom van 10 jaar. Dit is as gevolg van baie redes, insluitende hoër akademiese werklading, druk om uit te blink in sport-, kulturele- en ander buitemuurse aktiwiteite, sowel as sosiale vereistes.

As ouer wil jy hê jou kinders moet gelukkig en gesond wees. Sommige ouers is egter geneig om die hoeveelheid druk wat hul adolessente kinders ervaar, te onderskat. Dit is ’n ouer se plig om seker te maak dat hul kinders weet ouers het hul lief en dat hulle toegerus is met tegnieke oor hoe om stres te hanteer. Maureen Killoran het verduidelik dat: “Stres is nie wat met ons gebeur nie, dit is ons reaksie op wat gebeur, en ons reaksie is iets wat ons kan kies.” Sien ook ons vorige blog post ‘7 Tegnieke wat jong kinders sal help om stres te hanteer’ vir raad oor die onderwerp. 

Onthou dat elke kind stres op sy of haar eie manier hanteer. Nie alle vorme van stres is sleg nie, maar as die oorsaak van die probleem nie aangespreek word nie, kan dit baie negatiewe impakte hê en tot nood lei. Nood word beskou as uiterste angs, wat kan lei tot ongelukkigheid en ellende, en uiteindelik depressie.

’n Paar redes waarom adolessente nood ervaar:
  1. Druk a.g.v. akademiese prestasie en buitemuurse aktiwiteite.
  2. Kom nie met vriende oor die weg nie en/of word geboelie - dikwels is vorms van mishandeling (verbaal of fisies) ook betrokke.
  3. Druk van vriende, eweknieë en sosiale media-platforms om ‘cool’, gewild, mooi, slim, ens. te wees.
  4. Nie in staat om by ’n goeie universiteit in te kom om te studeer nie, weens die gebrek aan vaardighede, vermoëns, swak punte of fondse.
  5. Neem die rol van ’n ouer aan - wanneer hulle met ’n enkele ouer woon of wanneer albei ouers voortdurend werk, kan die oudste kind onder druk geplaas word om die tradisionele rol van ’n ouer aan te neem en hul broers en susters groot te maak en uiteindelik self te vining volwasse word.
  6. Bekommerd oor die gesin se finansiële toestand.

Byna alle hoof oorsake van nood is gewortel in vrees. Hierdie vrese kan veroorsaak dat tieners hul probleme oor-analiseer en buitensporig groter ervaar as wat dit eintlik is. Hulle versuim om hul omstandighede in perspektief te sien en versuim dus om die eenvoudige oplossing raak te sien. Dit beteken nie dat hul vrese ongegrond of onbelangrik is nie. Wat dit beteken, is dat ten spyte van die oorsake van hierdie probleme, daar altyd dinge is wat jy kan doen om te voorkom dat die nagevolge hul geestelik en fisies sal skade aandoen oor die langtermyn.

Die maklikste manier om tekens van nood raak te sien is om jou kind goed te ken en te verstaan en dan op te let na gedragsveranderinge buite sy of haar norm. As jy bekommerd is dat jou kind in nood is, kyk uit vir die volgende gedragsveranderinge:

Fisiese veranderinge.
  • Voortdurend bekommerd oor hul fisiese voorkoms. Wanneer adolessente deur puberteit gaan, verander hul liggame vinnig - soms te vinnig voordat hulle gemaklik voel in hul eie vel. Dit is normaal dat hierdie veranderinge ’n uitwerking op hulle sal hê en dit is normaal dat hulle besorg is dat hulle korrek ontwikkel. Maar om obsessief oor jou liggaam of voorkoms te wees is ongesond. Tieners kan Liggaam Dysmorfiese Versteuring en/of ander eet- en oefenverwante afwykings ontwikkel. Om obsessief oor hul voorkoms te wees kan hul ook weerhou om aandag te gee aan dit wat regtig belangrik is, soos om op te let in die klaskamer. Hul obsessies kan skade aan verhoudings met vriende en familie aan rig. Hulle kan ook dinge aan hul liggaam doen waaroor hulle later sal spyt wees.
  • Eetpatrone word versteur. Hulle eet baie meer of baie minder as gewoonlik. Tieners is geneig om te oor-eet wanneer hulle tydelike verligting in troos-kos vind. Dit is skadelik, aangesien wanneer hulle gewig optel, is dit nie net ’n gevaar vir hul fisiese gesondheid nie, maar hulle kan ook ’n lae selfbeeld ontwikkel. Nood kan ook veroorsaak dat tieners se eetlus verdwyn. Dit is ewe ongesond wanneer tieners nie eet nie. Hulle benodig gesonde, voedsame kos om te groei en gedurende die dag te funksioneer.
  • Verandering in oefenpatrone. Nood kan veroorsaak dat adolessente veel meer of veel minder oefen. Hulle kan obsessief begin oefen omdat hulle voel dit die enigste manier is om beheer oor hulself te hê, aangesien alles anders chaos in hul gedagtes is. Wanneer hulle begin om baie minder aktief te wees as wat hulle normaalweg is, kan dit wees a.g.v. ernstige stres wat moegheid, vrees, angs, lae motivering, lae selfbeeld en/of depressie veroorsaak.
  • Slaappatrone verander. Hulle slaap nie goed nie of wil voortdurend slaap. Stres kan tieners wakker hou gedurende die nag. Hulle lê wakker in hul beddens en is bekommerd oor hul probleme. Wanneer hulle nie genoeg slaap nie, herstel hulle nie heeltemal hul kragte nie. Dit kan hul prestasie in akademiese-, sport- en kulturele aktiwiteite, sowel as hul verhoudings negatief beïnvloed. Aan die ander kant kan stres ook hul terneerdruk. Dit kan uitputting en moegheid veroorsaak - wat veroorsaak dat hulle die hele dag wil omslaap en wanneer hulle wakker word, voel hulle steeds moeg.
  • Herhalende nagmerries. Tieners onder ernstige stres kan geneig wees om nagmerries te kry. Nagmerries kom ook algemeen voor na die blootstelling aan traumatiese gebeure. Dit is gewoonlik ’n normale reaksie op stres - as ’n manier vir jou brein om jou te help om deur hierdie negatiewe ervarings te werk. As dit egter aanhou kan dit ’n slaapsteurnis word wat bekend staan as ‘Nightmare Disorder’ (voorheen ‘Dream Anxiety Disorder’). Hierdie nagmerries kan baie realisties en vreesaanjaend wees. Wanneer dit die slaappatrone van adolessente begin versteur en selfs daaglikse nood veroorsaak, kan dit baie belangrike aspekte van ’n normale tiener se lewe benadeel.
  • Hoofpyne en maagpyne. Hierdie pyne wat dikwels beskou word as minder ernstige, tydelike pyn, is duidelike tekens van nood onder tieners as dit gereeld voorkom. Hul nood het gemanifesteer as fisiese pyn in hul liggame. Hoofpyn en maagpyn kan ’n gebrek aan aptyt, naarheid of selfs die ontwikkeling van maagsere veroorsaak. Dit kan hulle maklik weerhou om goed te doen in hul skoolwerk of om dinge te doen wat hulle gewoonlik geniet.
Veranderinge in emosionele stabiliteit.
  • Kan nie woede of hartseer beheer nie. As ouers moet ons toelaat dat tienders steeds hierdie emosies kan ervaar sonder om te voel dat hul veroordeel word daarvoor. Hierdie is nie net emosies wat met jong kinders geassosieer word nie. As hulle voel dat hulle nie hulself kan uitdruk nie, sal hulle afstand doen van jou af en vervreemd word.
  • ’n Diepe hartseer omring hulle of hulle spreek gevoelens van hopeloosheid uit.
  • Irrasionele optrede of irrasionele uitbarstings.
Verandering in hul optrede.
  • Hul punte daal, alhoewel hulle steeds dieselfde hoeveelheid tyd en energie bestee aan hul skoolwerk.
  • Boelie ander of word geboelie.
  • Druk om goed op die sportveld te presteer kan lei tot beserings, aangesien hulle hulself harder druk as wat hul liggame in staat is om te doen.

Veranderinge in higiëne.
  • Bad of stort nie gereeld nie en stel nie belang om aan hul voorkoms aandag te gee nie - alhoewel persoonlike higiëne en voorkoms nog nooit van tevore ’n probleem was nie.
  • Sweet abnormaal baie gedurende die dag vir geen rede nie – dit is nie a.g.v. sport of oefening nie. Hierdie tipe sweet staan bekend as ‘stres sweet’. Sweet tydens slaap is ook algemeen.

Verandering in vooruitsigte van hul waardes.
  • Onttrek uit familieaktiwiteite.
  • Spandeer nie meer tyd saam met vriende nie.
  • Het belangstelling in buitemuurse aktiwiteite en stokperdjies verloor.
  • Praat oor selfmoord.
  • Argumenteer baie met ouers.
  • Toon aggressiewe gedrag.
  • Begin dwelms of alkohol te misbruik as ’n manier om stres te hanteer.

Wanneer jou tienerkind oor ’n lang termyn in nood is, kan dit lei tot die afbreek van sy of haar immuunstelsel en die waarskynlikheid van depressie. Wees versigtig om nie jou tiener se emosies, vrese en stres as minder belangrik of ernstig as die van ’n volwassene te beskou nie. Herinner hulle daaraan dat jy hulle liefhet en dat hulle regverdig behandel word. Skep die vertroue dat hulle vrylik met jou kan praat oor enige stres en angs wat hulle ervaar.


As jy buitengewoon bekommerd voel oor jou kind, wend die professionele hulp van ’n dokter, psigiater en/of sielkundige aan. Jy kan ook die volgende hulplyne kontak:

Die Suid-Afrikaanse Depressie en Angsgroep
Vir berading navrae e-pos: zane@sadag.org
Beradinglyn: 011 234 4837
Selfmoordnoodlyn: 0800 567 567
24hr Hulplyn: 0800 12 13 14

Die Suid-Afrikaanse Lewenslyn
Nasionale Beradingslyn: 0861 322 322


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking