Maandag, 26 Maart 2018

5 Kreatiewe maniere om jou brein tydens die vakansie te stimuleer.

Skoolvakansies is daar om uit te rus, maar dit beteken nie dat jou brein onaktief moet wees nie.



Het jy al ooit teruggekom vanaf ’n skoolvakansie en dan is dit asof jy skielik vergeet het om te skryf – asof jou hand en verstand te lank gerus het? Dit gebeur gewoonlik as ons niks doen gedurende die vakansie wat kreatief en intellektueel stimulerend is nie.

Albert Einstein het gesê: “Kreatiwiteit is intelligensie wat pret het.” Daarom wil ons jou aanmoedig om iets kreatief hierdie vakansie te doen. Nie net om verveeldheid te vermy nie, maar om jou intelligensie verder te bevorder.

Hier is 5 kreatiewe maniere waarop jy jou brein hierdie vakansie kan stimuleer:


1. Legkaarte en kopkrappers.

Legkaarte kom in baie vorms voor. Jy kan begin met ’n tradisionele legkaart waar jy verskillende legkaartstukke saam moet plaas om ’n prentjie te vorm. Het jy al ooit ’n 1000-stuk legkaart probeer bou? Dit kan taamlik moeilik wees!

Die oplossing van ’n Rubik se kubus is ’n goeie kopkrapper. As jy hulp wil hê kan jy maklik YouTube-tutoriale opsoek vir formules oor hoe om ’n Rubik se kubus op te los.

Sudoku is een van die oudste en beste kopkrappers om jou brein te stimuleer. Dit is bewys dat Sudoku probleemoplossingsvaardighede bevorder en hoe om te dink in terme van die breër prentjie.

2. Storieboeke kan jou beste vriend word.

Om ’n storieboek tydens die vakansie te lees, sal nie net jou leesvaardighede verbeter nie, maar ook jou verbeelding stimuleer. Die groot verskil tussen televisie kyk en ’n storie lees, is dat die rolprent of televisieprogram elke detail van die storie gee – geen verbeelding is betrokke nie. Wanneer jy egter ’n boek lees moet jy self die gesigsuitdrukking van die karakter voorstel, hoe hul stem klink, watter soort skoene hulle dra en selfs hoe hul huis lyk. As jy nie lees nie, begin om kortverhale of selfs poësie te lees. Dit is net soveel pret en jy sal vinnig deur baie boeke hardloop.

Wat van om self ’n storie te skryf? Niemand geniet voorgeskrewe opstelle in Afrikaans of Engels nie, maar om jou eie storie te skryf sal ’n nuwe wêreld vir jou oopmaak. Jy kan sit en net begin skryf oor jou dag, jou drome of ’n tyd in die geskiedenis waarheen jy wil reis. Jy kan selfs poësie probeer skryf.

3. Speel ’n speletjie.

Daar is soveel bordspeletjies vandag om vanaf te kies en elkeen kan jou ’n waardevolle vaardigheid leer. Hier is ’n paar bordspeletjies wat ons aanbeveel:
Meesterbrein, Skrabbel, Monopolie, Skaak, Checkers en Jenga.

PlayStation, X-box en rekenaar speletjies is net so voordelig om kreatiwiteit te stimuleer! Hand-oog koördinasie en fyn motoriese vaardighede word ontwikkel wanneer hierdie speletjies gespeel word. Dit verminder stres, verbeter fokus en leer probleemoplossing- en deursettingsvermoë. Dit kan ook ’n kind se beplannings- en organisasievermoë verbeter. Die mees voor die hand liggende positiewe effek wat rekenaarspeletjies op kinders het, is die vermoë om gelyktydig opdragte uit te voer en aanpasbaar te wees in hul denke. Ons raai jou nie aan om die hele vakansie rekenaarspeletjies te speel nie – aangesien daar altyd ’n negatiewe uitkoms is van te veel van ’n goeie ding.

4. Skep iets met jou hande.

Wanneer jy kuns doen stimuleer jy die meeste van jou sintuie en beoefen konsentrasie. Probeer teken, verf of maak iets uit klei. As jy nie baie selfversekerd is in die kunsklas nie, is daar baie inkleurboeke wat nie net vir kleuters bedoel is nie. Jy kan begin om iets uit hout te maak, ’n boomhuis te bou of selfs met robot-Legos vir tieners te speel. Origami verg ook baie kreatiwiteit. Jy kan pragtige voorwerpe skep as geskenke vir vriende en familie. Die moontlikhede is eindeloos.

5. Leer hoe om 'n musiekinstrument te speel.

Die speel van 'n musiekinstrument is baie nou verwant aan intelligensie. Deur die klavier, dromme of enige ander musiekinstrumente te speel, moedig jy jou brein aan om beter te presteer oor die algemeen. Dit sal duidelik word in die meeste skoolvakke, veral analitiese vakke soos wiskunde en wetenskap. Deur te leer om ritme te hou en om elke noot perfek te speel, leer jy dissipline aan en verhoog jou kognitiewe breinaktiwiteit. Dit kan ook baie pret wees om saam met jou musikale vriende te speel.

Vir meer inligting oor die verband tussen die speel van ’n musiekinstrument en wiskundige vaardighede, lees die volgende artikel deur LiveScience.com: ‘Gee Musiek jou wiskunde vaardighede? Dit is ’n moeilike vergelyking’.



Ons glo hierdie is wonderlike maniere wat jou kan help om jou gedagtes aktief en vars te hou gedurende hierdie kort skoolvakansie. Laat weet ons as jy enige van hierdie speletjies speel, stories (of selfs poësie) skryf. Stuur vir ons ’n foto van jou voltooide legkaart of kunswerk! Ons sal graag wil sien hoe kreatief jy is.



Maandag, 19 Maart 2018

6 Eenvoudige dinge wat jy dadelik kan doen om jou te help met die voorbereiding van jou toetse.

Om te leer vir toetse kan vir sommige leerlinge voel soos ’n nagmerrie wat die werklikheid geword het. Die realiteit is egter dat om te leer net deel van die leerervaring is.




Akademiese onderrig is een van die belangrikste faktore wat sukses in ons lewe bepaal. Wanneer ons hard en ywerig studeer, bou ons baksteen vir baksteen aan ’n blink toekoms vir onsself. Malcom X het gesê: “Onderrig is die paspoort vir die toekoms, want môre behoort aan diegene wat vandag daaraan voorberei.”

Voorbereiding vir toetse kan egter stresvol wees en soms kan dit ons oorweldig. Daarom wil ons 6 maklike wenke deel oor hoe jy beter kan leer om akademies jou beste te presteer.



1. Verander jou gedagtes, verander jou lewe.

Jou ingesteldheid sal altyd die uitkoms bepaal. Dit maak nie saak hoe hard jy leer nie, as jy by die eksamenlokaal ingaan met die ingesteldheid van twyfel en glo dat jy dom is, dan is die kans groot dat jy nie jou bes doen nie. Daarom moet jy jou die woorde “kan nie” uit jou gedagtes vee en begin glo dat as jy die werk doen wat van jou vereis word, jy goeie punte sal kry.

2. Kleurkodering.

Die manier waarop jy jou studienotas maak sal ’n groot impak hê op hoe jy inligting onthou. Leer om met verskillende gekleurde glanspenne te werk. Byvoorbeeld: vir nuwe terminologie, gebruik die kleur pienk om jou werk uit te lig. Definisies kan pers wees. Name, plekke en datums kan oranje gemerk word. Wetenskaplike name kan groen wees. Ander belangrike inligting kan geel wees.

Nog ’n nuttige wenk om te weet is dat jy meer inligting sal onthou as jy ’n blou pen gebruik in plaas van ’n swart pen. Dit is as gevolg van hoe jou oë inligting ontvang en stoor.

3. Skryf dit uit.

Wanneer jy uit ’n handboek leer, moet jy leer hoe om goeie notas en opsommings te maak. Jy mag dink dat om jou werk uit te skryf sal te veel tyd neem, maar deur die inligting slegs eenkeer uit te skryf is dit die ekwivalent van om die inligting sewe keer te lees – want jy gee eintlik noukeurig aandag aan die woorde. Daarom as jy net ’n bietjie ekstra tyd spandeer om dit uit te skryf sal jy dit beter onthou. Hou egter in gedagte dat as jy op hierdie manier wil leer dat daar genoeg tyd aan jou kant moet wees. As jy nie dit so kan doen nie, kan jy altyd net die hoofopskrifte van elke onderwerp met sleutelpunte neerskryf.

4. Sê dit hardop.

Jy is sowat 50% meer geneig om inligting te onthou wanneer jy dit hardop sê in plaas van om net in stilte dit deur te lees. Ons raai jou aan om opsommingsnotas oor ’n sekere onderwerp te maak, dit een of twee keer aandagtig en in stilte deur te lees en dan dit hardop te lees. Jy kan ook in jou eie woorde dit wat jy hardop lees herhaal, deur dit aan jouself te verduidelik. Jy moet dit egter nie doen wanneer jy in ’n studie-groep is nie – jy sal die ander leerders se aandag aflei en hul steur.


5. Kies die beste tyd om te studeer.

As jy besluit oor ’n studie-tydraamwerk moet jy onthou om nie soveel as moontlik werk in die minste tyd probeer inprop nie! Ons brein kan nie al die inligting vir ’n toets die vorige aand stoor nie. Maak dus seker dat jy ten minste 5 dae voor die toets begin leer. As dit baie werk is en jy weet jy sal meer tyd benodig, beplan daarvolgens.

Die beste tyd van die dag om te leer word beskou as die vroeë oggende - aangesien ons breinfunksionaliteit op sy hoogste is. Om presies te wees, breinfunksionaliteit is op ’n vlak van 90% gedurende 4 uur en 6 uur in die oggend. Later gedurende die dag verminder die breinfunksionaliteit tot 50%. Laat in die nag is dit min of meer 20%. Onthou dat dit nie waar is vir alle mense nie. Sommige is werklik naguile en meer kreatief en produktief gedurende die aande.

Met groeiende kinders is dit egter raadsaam om ’n daaglikse roetine te hê wat ooreenstem met dié van die skool. Trouens, roetines is selfs belangriker omdat dit neurale sirkulariteit versterk. Leer soggens voor skool en beslis ná skool in die middae. As jy in die aand beter leer, moet jy doen wat die beste vir jou is, maar probeer om te verhoed dat jy laat in die aand kritiese en belangrike werk leer. Soms is dit ongelukkig nodig om later wakker te bly om deur jou werk te kom. Onthou net om genoeg te slaap. Vir laerskoolkinders is 8 ure slaap nodig en hoërskoolkinders moet minstens 6 ure slaap.

6. Smaak en geure.

Het jy geweet dat deur gegeurde kougom te kou kan jy ongeveer 24% meer in jou toetse kry? Wanneer jy ’n sekere geur kougom kou terwyl jy leer en dan dieselfde gegeurde kougom kou net voordat jy jou toets skryf (of selfs terwyl jy jou toets skryf), sal dit jou help om inligting baie meer effektief te herroep.

Jy kan die volledige artikel van NewScientists.com hier lees: ‘Kougom verbeter geheue


Daar is baie ander studietegnieke wat jy kan volg, maar hierdie is vinnig en maklik om te volg. Ons hoop dat jy dit sal gebruik wanneer jy vir jou volgende toets leer. Laat weet ons as jy enige van hierdie tegnieke probeer het. Watter ander studie wenke kan jy met ons deel?



Maandag, 12 Maart 2018

3 Produktiewe maniere om sosiale media in jou leerplan aan te wend, sowel as 3 struikelblokke waarvoor jy op die uitkyk moet wees.

Die gebruik van sosiale media deur die meeste skoolkinders is ’n realiteit. Dit sal nie binnekort verdwyn nie. Die geheim is dat dit nie hul weerhou om goed te presteer in toetse en eksamens nie.



Wanneer ons “sosiale media” en “eksamens” in een sin noem, is die eerste ding wat mense geneig is om te dink “uitstel van werk en afleiding van aandag”. “Dit kan nie goed vir my kind eindig nie!” Sommige bekommernisse is geldig en as hierdie platforms nie slim aangewend word nie, kan dit negatiewe gevolge hê vir die ontwikkeling van kinders. Ons leef egter in ’n era waar sosiale media-platforms algemeen deur adolessente gebruik word. Dit is ’n realiteit en elke ouer kan self besluit wanneer en hoe hul, hul kinders sal toelaat om hierdie Toepassings te gebruik. In plaas daarvan om dit onrealisties te probeer verban of hul te verbied om dit te gebruik, kan ons by dit aanpas. Hierdie platforms kan gebruik word as instrumente om tieners met hul akademie te help. Die voordeel wat ’n sosiale media-platform bied, is dat baie tieners dit reeds ken. Ons kan net so wel begin om sosiale media in ’n manier te gebruik om onsself te verbeter in plaas daarvan om onnodiglik tyd te mors op video’s oor oulike katjies en toe te laat dat dit ons menslike interaksies vervang.


Hier is 3 produktiewe maniere hoe jy sosiale media in jou leerplan kan aanwend:


1. YouTube-tutoriale.

Vandag is YouTube nie net bedoel vir musiekvideo’s of snaakse video snitte nie. YouTube funksioneer selfstandiglik as ’n soekenjin. As jy riglyne nodig het oor hoe om ’n wetenskapsprojek aan te pak of hoe om sekere woorde in ’n vreemde taal uit te spreek, is dit byna sekerlik deur YouTube gedek. Oorweeg dit dalk volgende keer as jy nie ’n onderwerp in die ekonomie klas verstaan het nie! Jy mag dalk ook belangstelling vind in ’n nuwe veld waarvan jy dalk nie vroeër bewus was nie. Baie tieners en jong volwassenes skep tutoriale, insiggewende video’s en selfs dokumentêre programme. Dit is inspirerend en bemoedigend vir ander adolessente om te sien. Moet net nie afdwaal van jou soek-onderwerp deur nie-verwante video-voorstelle te kyk nie. As jy besluit om self ’n YouTube-kanaal te begin om van jou kennis te deel – moenie obsessief raak oor die gewildheid van jou video nie. Doen dit omdat jy passievol is oor die onderwerp!

Nog ’n wonderlike manier om YouTube te gebruik, is om ontspanne studie-agtergrondmusiek aan te sit. Nee, dit beteken nie noodwendig klassieke musiek soos baie dink nie! Daar is baie komponiste wat musiek spesifiek skryf om hul luisteraars gemotiveerd, kalm en gefokus te hou – die perfekte atmosfeer om te leer. Die musiek is hoofsaaklik gebaseer op eenvoudige melodieë en harmonieë en bevat ook manipulasie van klanke wat atmosferiese geluide skep. Dit is dikwels instrumentele en/of orkestrale musiek, maar as stemme teenwoordig is, is lirieke afwesig. Die luisteraar hoef nie regtig te “luister” na die dinamiese uitvoering soos in die geval van klassieke musiek nie. Die musiek sal ook nie die luisteraar se aandag aflei of op hul ouers se senuwees werk met elektriese kitare en baskitaar nie. Lirieke kan nie in jou kop vassteek soos sekere popliedjies nie! Hierdie musiekstyl is hoofsaaklik ontwikkel deur komponiste wat musiek vir rekenaar- en videospeletjies skryf. Daar word van hulle verwag om musiek te skryf wat luisteraars sal help om verstandelike taaiheid en konsentrasie te behou, wat dus hul help om vir langer ure te speel sonder om fokus te verloor. So, waarom kan jy nie hierdie soort musiek tot jou voordeel gebruik en daarna luister terwyl jy leer nie? Vele studiemusiek is beskikbaar in YouTube-snitlyste.

2. Facebook-groepe.

Facebook is waarskynlik een van die mees versteurende sosiale media-platforms, maar ’n Facebook-groep kan jou help om jou skedule en prioriteite in orde te kry. Jy en jou klasmaats kan mekaar herinner aan die sperdatums vir opdragte en toetse. Jul kan mekaar help deur klasnotas op te laai, nuwe inligting oor sekere onderwerpe te deel en te bespreek of om met ander te deel hoe hul vir ’n bepaalde vak kan voorberei. Selfs net om mekaar aan te moedig kan geweldig help! Weet dat almal in dieselfde boot is. Jul het dieselfde take om te doen en dieselfde werk om te studeer. Onthou dat hierdie groep nie ’n steurnis moet word nie. Hou altyd die onderwerp relevant. Moenie onnodige grappe maak nie en moenie verwag dat net een persoon altyd die werk doen en die res misbruik hul goedhartigheid nie!

Facebook is ideaal om vinnig kontak te maak met mense wat voor die sosiale media-verskynsel baie moeilik sou gewees het. Byvoorbeeld, jy kan maklik in kontak kom met die outeur (of sy/haar assistant of uitgewers) wat die handboek geskryf het wat jul in die klas gebruik. Indien nodig kan jy vir hul iets oor die handboek vra. Maak seker dat jou ouers jou help om ’n goed-bewoorde brief te skryf voordat jy dit stuur. Moet nooit hierdie individue of organisasies aanhoudend bombardeer nie en moenie lelike woorde skryf nie.

3. WhatsApp-groepe.

WhatsApp-groepe is ideaal vir vinnige kommunikasie in klein groepe. Jy kan ’n studiegroep skep waar almal mekaar motiveer en mekaar herinner aan toets- en inhandigingsdatums vir werkopdragte en huiswerk. Jul kan ’n datum, tyd en plek reël om saam te werk aan groepopdragte, om die werk te bespreek of voorbeeld toetse uit te werk. Jou groep kan skakels na webblaaie, artikels of ander bronne deel om mekaar te help met werk.

As daar ’n tutor of onderwyser is wat bereid is om by ’n WhatsApp-groep aan te sluit wat gemik is op ’n spesifieke vak, is dit baie maklik om te kommunikeer of ’n vraag te vra wanneer jy vir die vak leer. Vrywaring: Moenie jou onderwyser steur met irrelevante boodskappe nie – veral nie gedurende die aand na 19:30 nie!

Ander nuttige Toepassings vir skoliere sluit in:

Dropbox of Google Drive. Dit is uitstekend om notas en ander groter lêers tussen vriende en klasmaats te deel. Onthou dat jy net gratis lêers kan deel wat in die publieke domein is, of as jy toestemming van jou onderwyser of die outeur het. Jy mag nie plagiaat pleeg en lêers wat deur kopiereg beskerm is versprei nie. 

Twitter kan gebruik word om direk met kundiges soos onderwysers, tutors, wiskundiges, wetenskaplikes, ens. te kommunikeer. As jy van ekonomie hou, kan jy ekonome op Twitter volg, aan hulle direk vrae vra en eerstehands van hulle leer. 

Skype kan gebruik word om oor video te gesels. Jy kan intyds oudiovisuele gesprekke hê, wat goeie nuus is veral as jy aanlyn tutorsessies wil ontvang – dit hoef nie eers verband hou met skoolwerk nie! ’n Vindingryke voorbeeld van hierdie is ’n Suid-Afrikaanse hoërskool skaakkampioen wat skaaklesse met professionele Russiese skaakspelers oor Skype ontvang. Die moontlikhede is eindeloos!


Sosiale media kan waarde toevoeg tot jou lewe wanneer jy dit korrek gebruik. Wees egter versigtig vir die volgende 3 struikelblokke:


1. Onmiddellike bevrediging.

Sosiale media het ’n stelsel geskep waarin mense onmiddellike bevrediging verwag! As jy nie van ’n prent of video hou nie, rol jy eenvoudig verder op die webblad af, want daar is duisende ander prente en video’s beskikbaar. Dit is nie goed nie omdat jou brein met onnodige inligting versadig word. Ons brein hoef nie op die inhoud te konsentreer of te reflekteer nie, want as ons dit nie binne ’n paar splitsekondes daarvan hou of verstaan nie, weet ons dat daar altyd meer inhoud is om ons te stimuleer.

Neem die tyd om jou selfoon gereeld vir ’n rukkie af te skakel. Leer hoe om stil te sit. Leer hoe om te mediteer om jou verstand te kalmeer. Om te leer en hard te werk om goeie punte te kry is ’n proses wat jy nie moet haas nie. Word gewoond aan die idee dat jy ’n sekere aantal ure per dag moet studeer om jou akademiese doelwitte te bereik. Stel ’n skedule op waar jy jouself kan beloon vir die hoeveelheid werk wat jy doen. Sit en leer sonder om aan jou selfoon aandag te gee of deur die rekenaar versteur te word vir minstens 45 minute. Beloon dan jouself dan met ’n 15 minute ruskans. Tydens jou ruskans kan jy op sosiale media inloer, maar probeer ook om ander lekker dinge te doen, soos om buite in die tuin te loop, te gesels met ’n vriend, om met ’n bal te speel of na ’n nuwe liedjie te luister.

2. Jy kan nie vele take gelyktydig verrig nie.

Daar is ’n Russiese spreekwoord wat sê: “As jy twee hase jaag, sal jy nie een vang nie.” Dit geld vir produktiwiteit. Wanneer jy huiswerk doen, maar die TV is in die kamer, jou selfoon ontvang boodskappe, terwyl jy deur Instagram foto’s op jou iPad kyk, sal jy waarskynlik nie die goeie punte kry wat jy wil hê nie! 

Doen een ding op 'n slag! Voordat jy begin leer, sê vir jou vriende dat jy nie vir die volgende paar uur by jou selfoon sal wees nie en sit dan jou foon in jou kas of in ’n ander kamer sodat dit nie jou steur nie. As jy gaan sit om te leer, haal drie keer diep asem en dan wanneer jy begin moet jy werklik op jou werk konsentreer. Sê vir jouself dat jy net een ding moet doen en dit is om hierdie een hoofstuk na die beste van jou vermoëns te leer. As jy leer en jy begin die werk te verstaan, sal jy die proses geniet. Dit is wanneer merkwaardige vordering plaasvind.

3. Sosiale media kan jou tyd steel.

Hoeveel keer het jy al deur jou Facebook of ander sosiale media-platforms gegaan en as wanneer jy na die horlosie kyk, sien jy dat ’n goeie halfuur verbygegaan het? Sosiale media kan jou aandag aflei van die belangrike dinge in jou lewe. Sosiale media kan veroorsaak dat jy jou werk uitstel en dit steel tyd van jou wat jy nooit kan terugkry nie! Wees versigtig oor hoeveel tyd jy op sosiale media spandeer en evalueer of jy werklik baat vind deur soveel tyd op daardie platvorms te spandeer. Dink so daaraan – geen Toepassing gaan jou toets vir jou skryf nie, net jy kan dit doen! Geen Toepassing kan namens jou studeer of goeie punte namens jou kry nie – net jy het die vermoë om jouself te dwing om te leer en om jouself te motiveer om goeie punte te kry.



Sosiale media kan jou op baie maniere help en jou verbind met mense met dieselfde ingesteldheid as jy. Sosiale media is op baie maniere nuttig – om nuwe inligting te kry of om selfs ons te motiveer om hard te leer. Dit kan egter moeilik wees om produktief te bly in ’n sosiale media-gedrewe wêreld. Daarom moet ons ons dae beplan sodat ons aandag nie daardeur afgelei word nie. “Produktiwiteit is nooit ’n ongeluk nie. Dit is die resultaat van toewyding tot uitnemendheid, intelligente beplanning en gefokusde pogings.” – Paul J. Meyer.

Vertel vir ons van die sosiale media platforms waarop jy is. Hoe baat jy daarby? Het sosiale media jou toelaat om nuwe maniere te vind om te studeer en inligting te deel? Het jy by sosiale media groepe aangesluit wat jou gehelp het om jou akademiese doelwitte te bereik? As jy slegs sosiale media gebruik om met familie en vriende kontak te maak of as jy dit net as ’n prettige tydverdryf-aktiwiteit beskou, laat ons weet hoe jy verhoed dat die tyd wat jy aan sosiale media bestee te veel raak.



Maandag, 05 Maart 2018

Wat behels ’n gesonde en gebalanseerde leefstyl?

Dit is noodsaaklik vir kinders en tieners om gesond te leef sodat hul op hul beste kan presteer.



’n Gebalanseerde leefstyl is een waar jy gesond en gelukkig is in alle aspekte van jou lewe – jou fisiese welsyn, emosionele toestand, intellektuele vermoëns en algehele gelukkigheid en vervulling. Om ’n gebalanseerde lewenstyl te hê, stel jou in staat om jou bes te doen en om ’n lewe van vreugde en opwinding te leef.

’n Gebalanseerde leefstyl sal vereis dat jy ’n ewewig tussen al jou aktiwiteite vind – dit beteken dat jy jou lewe moet prioritiseer op so ’n manier dat jy genoeg tyd spandeer aan elke belangrike aktiwiteit. Wat jy ook moet verstaan rondom ‘balans’ is dat jy jou prioriteite moet aanpas en soms weer van vooraf skeduleer. Tydens die eksamens moet jy minder tyd spandeer met vriende of aan ander ontspanningsaktiwiteite en meer tyd bestee om te leer. Wees bewus van jou doelwitte. Weet wanneer en hoe om jou aktiwiteite te prioritiseer sodat jy steeds jou doelwitte kan bereik. “Balans is die sleutel tot alles. Wat ons doen, dink, sê, eet en voel vereis bewustheid en deur bewustheid kan ons groei.” - Koi Fresco.

Hoekom is balans belangrik?

Om ’n gebalanseerde lewenstyl te hê is jou beste kans om die gelukkigste, gesondste en mees vervulde persoon te word wat jy moontlik kan wees. Daar is geen doel om 24 uur per dag te werk, maar jy raak heeltyd siek of bou nie verhoudings met jou familie en vriende op nie. Daar is ook geen doel om net televisie te kyk en tyd saam met vriende te spandeer as al jou eweknieë aan die einde van hul hoërskoolloopbaan na universiteite toe gaan, maar jy kon nie inkom nie. Die balansering van jou lewe sal jou die geleentheid gee om jou beste self te word!

Weet wat jy wil hê.

Om te weet wat jou doelwitte is, sal jou help om maklik te bepaal wat jy wil hê en waar jou prioriteite moet wees. As jy by ’n goeie universiteit wil inkom, moet jy jou studies prioritiseer bo televisie kyk of by die winkelsentrum rondloop. As jy gewig wil verloor moet jy dit ’n prioriteit maak om gesond te eet en om te oefen eerder as om ’n lui stoelpatat te wees wat die heel dag rekenaarspeletjies speel. Dit is so eenvoudig om jou doelwitte neer te skryf en dan ’n skedule op te stel om jou doelwitte te bereik. Sien ons 3de blog artikel ‘Vier wenke wat jou sal help om ’n skedule vir ’n suksesvolle skooljaar op te stel’. Beplan jou lewe rondom jou waardes en prioriteite en jy sal meer gebalanseerd voel as ooit tevore.

Moenie te veel hooi op jou vurk laai nie.

Moenie voel dat jy die wêreld moet verander op dieselfde dag as wat jy besluit het dat dit jou doel is nie. Dit sal ’n paar jaar van toegewyde harde werk en deursettingsvermoë neem voordat jy werklik sal uitstaan en ’n verskil maak. Dinge kan oornag gebeur, maar die fondasie waarop jy jou drome bou moet stewig wees! Onthou dat jy nie alles gelyktydig kan doen nie. Kies vier tot sewe aktiwiteite wat vir jou baie belangrik is en wat jou gelukkig sal maak in die lewe – fokus dan dan daarop en blink daarin uit! Byvoorbeeld:

  1. Eendag wil jy dalk ’n ingenieur word, daarom is skoolwerk vir jou baie belangrik. Pas jou leerskedule aan om op wiskunde, wetenskap en tegnologie te fokus.
  2. Jy is ’n atleet, daarom moet jy jou dag prioritiseer rondom oefening, gesonde kos eet en omsien na jou liggaam.
  3. Jy hou daarvan om die kitaar te speel, so jy behoort minstens 1 uur per dag dit te beoefen.
  4. Jou gesin is jou belangrikste ondersteuningstelsel, daarom prioritiseer jy jou tyd om Saterdae en Sondae saam met hulle die dag deur te bring.
  5. Jy en jou gesin mag dalk baie godsdienstig wees. Daarom woon jy elke Sondag die kerkdiens by en prioritiseer jy jou tyd om die Skrif te bestudeer.
  6. Jy waardeer die hegte verhoudings met jou vriende, dus moet jy seker maak dat jy hulle daaraan herinner dat hulle vir jou belangrik is. Spandeer tyd saam met hulle by die skool wanneer dit moontlik is.
As daar ander aktiwiteite is wat jy geniet, soos om televisie te kyk of speletjies op jou foon te speel, kan jy dit by jou schedule insluit, maar net as jy reeds aandag aan jou belangrikste prioriteite gegee het.

Presies hoeveel tyd moet jy spandeer aan elke aktiwiteit?

Die presiese hoeveelheid tyd wat jy aan ’n aktiwiteit moet spandeer, sal afhang van jou doelwit. 

Fisiese gesondheid vereis ’n gemiddeld van een uur matige oefening om jou gesondheid te handhaaf. As jy egter meer fiks en gesonder wil word as wat jy voorheen was, moet jy die intensiteit van jou oefening verhoog of die hoeveelheid tyd wat jy daaraan spandeer, of soms beide, verhoog.

As riglyne vir kinders het die Harvard Skool vir Openbare Gesondheid in ’n artikel ‘Fisiese aktiwiteit riglyne: Hoeveel oefening het jy nodig?’ geskryf oor die nodige tyd wat kinders aan fisiese aktiwiteite moet spandeer:

“Kinders en adolessente moet ten minste 1 uur of meer per dag aan fisieke aktiwiteit in ouderdomsgeskikte aktiwiteite deelneem, waarvan die meeste matige of intensiewe aërobiese aktiwiteite moet wees. Hulle moet ten minste drie dae van die week deelneem aan hoë-intensiteit aërobiese aktiwiteite, en ook ten minste drie dae van die week spierversterkings- en beenversterkingsaktiwiteite insluit.”

Geestesgesondheid sal vereis dat jy in die klas aandag gee, konsentreer op jou huiswerk en leer vir toetse en eksamens. As jy weet dat jy binnekort ’n toetse of eksamens gaan skryf, moet jy die hoeveelheid werk wat jy het om te leer evalueer en verdeel sodat jy deur elke vak kan kom voordat jy die eksamens moet skryf. Byvoorbeeld: As jy 4 dae het om 30 bladsye se werk te leer vir ’n vak, verdeel dit op. Maak seker dat jy tydens dag 1 tot 3 elke dag 10 bladsye leer, sodat jy op die laaste dag voor die eksamen genoeg tyd het om jou werk te hersien en na vorige- en voorbeeldvraestelle te kyk.

Vertrou jou instink.

Laastens moet jy weet dat ’n gebalanseerde leefstyl afhang van hoe goed jy jouself ken en verstaan - jou fisiese-, verstandelike- en geestelike behoeftes. As jy weet jy benodig meer tyd saam met familie omdat dit jou gelukkig maak, spandeer dan meer tyd saam met jou familie. As jou geestelike behoeftes meer tyd van jou vereis, want dit gee jou ’n meer positiewe uitkyk op die lewe, dan laat dit so wees. Dit is jou lewe en jou gesondheid, dit is in jou hande.


Handhaaf jy ’n gebalanseerde lewenstyl en hoe hou jy dit vol? Vertel ons daarvan! As jy ’n ouer is, deel graag met ons hoe jy jou kinders tou-wys maak om gebalanseerd te leef.