Maandag, 28 Mei 2018

Laaste-minuut studiewenke om leermateriaal te memoriseer.


Jy skryf eksamen en het nie vroegtydig voorberei soos wat ons voorgestel het nie. Die hele gesin is gespanne en jy voel verbouereerd. Daar is nie genoeg tyd om die leermateriaal noukeurig te verstaan nie, maar jy moet iets op jou eksamenvraestel skryf! Wat nou? Gebruik hierdie 5 maklike wenke om werk te memoriseer.




Ons moet nooit “cram” nie! Soms is daar egter nie genoeg tyd om alles te doen nie, en nou moet ons in baie kort tyd baie materiaal bestudeer. So, hoe kan ons binne 'n kort tyd ’n groot hoeveelheid werk memoriseer? Hier is 5 maklike maniere om die min studietyd te benut:

Bestudeer die terme en definisies.

Wanneer jy die terme en definisies wat in 'n hoofstuk gegee word, bestudeer, berei jy reeds voor vir 5 soorte vrae: Meervoudige keuse, Vergelyk Kolom A met Kolom B, Vul die ontbrekende woorde in, Kort vrae en Waar of Vals vrae. Jy kan selfs oorweeg om hierdie definisies in langer vrae te gebruik wanneer jy 'n konsep verduidelik.

Kry die geheelindruk.

As jy nie klaar is met die opsomming van jou werk nie, begin dan bloot deur die hoofstukke, subopskrifte en sketse te lees. Dit help om 'n geheelindruk van die hoofstuk te kry. As jy lang vrae in die eksamen kry, sal jy ten minste beginpunte vir elke argument hê.

Bestudeer Sketse en Diagramme.

Sketse en diagramme is gewoonlik maklik om te onthou, want dit laat 'n prentjie in ons gedagtes. Memoriseer hierdie sketse en diagramme, want jy sal waarskynlik gevra word om die skets te verduidelik of weer te gee. Maak seker dat jy al die punte vir die skets kry, insluitende die titel, byskrifte en netheid.

Fokus op wat jou onderwyser in die klas gesê het.

Die kanse is groot dat jou onderwyser genoem het wat belangrik is vir elke onderwerp tydens die klasperiode. Ons hoop dat jy geluister het, want hulle gaan heel moontlik die vrae vra oor wat hulle as belangrik beskou. As jy nie kan onthou wat hulle as belangrik genoem het nie, vra jou onderwyser weer of vra jou vriende.

Lees jou notas voor jy gaan slaap.

Jou brein is 'n kragtige orgaan. Selfs wanneer jy slaap, sal jou brein steeds die inligting verwerk. So wanneer jy klaar oefen eksamenvraestelle deurgewerk en gestudeer het, neem ’n bad en trek jou nagklere aan, en voordat jy gaan slaap, lees eers jou notas weer een keer deur. Dit is ook baie belangrik om ’n goeie nagrus te kry die aand voordat jy eksamen skryf.

Ons weet om te studeer vir eksamens kan vreesaanjaend wees, veral as jy weet jy het nie op die manier voorberei as wat jy wou nie. Daar is egter een ding wat jy altyd kan doen voor 'n toets - visualiseer hoe goed jy gaan doen. As jy jouself visualiseer hoe jy die eksamen skryf en glo dat jy goed sal doen, verkry jy alreeds 'n voordeel. “Sluit jou oë en dink aan die beste weergawe van jouself moontlik. Dis wat jy regtig is, vry van enige deel van jou wat dit nie glo nie.” - C. Assaad


Vertel ons van jou ervaring met cramming en hoe jy die eksamen studeer. Ons wens almal die beste toe met die eksamens wat voorlê!

Maandag, 21 Mei 2018

Die beste manier om te verseker dat jy voorbereid is vir jou eksamen, is deur selfassessering.


Wees verseker dat jy jou studiemateriaal ken en goed voorbereid is vir die eksamen.



Het jy al ooit hard gestudeer vir 'n toets, maar dan op die dag van die toets is jou geheue skoon weg. Dit laat ons soms moedeloos voel omdat ons gedink het ons het al die antwoorde geken. Wel, daar is 'n manier om seker te wees jy weet presies hoe om 'n vraag te beantwoord - deur middel van oefen-eksamenvraestelle. Selfassessering is die geheim wat 'n verskil in  slaag of druip te kan maak, of in 'n 60% en 80%. Navorsing het keer op keer gewys dat oefenvraestelle jou kennis van 'n onderwerp sal verbeter, maar ook jou insig oor hoe om vrae oor ’n bepaalde onderwerp te beantwoord. Om oefen eksamenvraestelle deur te werk, neem tyd en moeite, maar moenie dat dit jou afskrik nie. Thomas Edison, uitvinder en sakeman het gesê: “Geleenthede word deur mense misgeloop omdat dit in ’n oorpak aangetrek is en soos werk lyk.”  Moenie die geleentheid om te leer en goeie punte te behaal deur jou vingers laat glip, net omdat dit na harde werk lyk nie.

Hier is 'n paar van die vele redes waarom oefenvraestelle jou studie-sessies kan verbeter:

Weet wat belangrik is en wat nie.

Wanneer jy eksamenvraestelle deurgaan, sal jy gou besef watter onderwerpe en watter soort vrae belangrik is. Jy het dalk al jou aandag op een onderwerp gefokus, maar gou besef dat daar 'n ander onderwerp is wat jy nie so belangrik geag het nie. Deur oefenvraestelle sal jy weet op watter onderwerpe jy moet fokus.

Sekerheid oor vrae.

Een van die grootste voordele wat jy deur die gebruik van oefenvraestelle verkry is dat jy gewoond raak aan die styl van die vrae. Normaalweg studeer ons nie in die vorm van meervoudige keuse of deur kolom A by kolom B te pas nie, maar dit is juis die tipe vrae wat ons moet kan beantwoord. Oefenvraestelle help ons om hierdie tipe vrae te beantwoord. Ons word bekend gestel aan langvrae, kort of- eenantwoordvrae, vul in die ontbrekende woord, diagramme en sketse, en oefen hoe om die antwoorde te gee wat punte sal verdien.

Oefen jou konsentrasie.

As jy 'n werklike eksamen skryf, moet jy kan konsentreer vir die hele tyd wat jy skryf. Ons studeer egter nie normaalweg vir sulke lang perdiodes aan een nie. Ons studeer meestal in sessies van 45 minute met 'n 15 minute breek tussenin. Dit is egter nie hoe toetse werk nie. Gedurende 'n eksamen skryf ons nie net 45 minute en breek dan tussenin nie. Ons moet kan konsentreer vir die volle duur van die eksamen en dit verg oefening om dit te reg te kry.

Deur die gebruik van oefen eksamenvraestelle raak jy gewoond aan die hoeveelheid vrae. In 'n tipiese Afrikaans Huistaal-vraestel van 2 uur moet daar sekere vrae met 'n spesifieke lengte wees, want 'n onderwyser moet al die onderwerpe toets. Daarom sal ons deur die uitwerk van oefenvraestelle gewoond raak aan die aantal vrae en ook die hoeveelheid tyd wat elke vraag neem om te voltooi.

Verminder eksamenangs.

'n Goeie manier om eksamenangs te verminder, is deur middel van oefen eksamenvraestelle, omdat jy vertroud is met die emosies rondom eksamens. Wanneer jy ’n oefenvraestel uitwerk, doen dit onder eksamentoestande. Byvoorbeeld: As die eksamenvraestel 2 en 'n half uur lank is, sit jou selfoon weg, neem 'n horlosie, en maak seker jy gebruik slegs twee en 'n half uur om die vraestel te voltooi. Merk jou vraestel deur 'n rooi pen te gebruik en gee jouself 'n punt. Nou het jy alreeds deur die aksies van die skryf van 'n eksamen gegaan en ook die emosie van eksamendruk ervaar. Hoe meer jy dit doen, hoe meer raak jy gewoond daaraan en jou algehele angs teenoor eksamens sal laer en laer word. Jy sal binnekort enige toets kan hanteer.

Weet wat jy weet en fokus op wat jy nie weet nie.

Nadat jy 'n oefenvraestel voltooi het, is die werk nog nie klaar nie! Jy moet jouself evalueer. As jy jou antwoorde met 'n rooi pen gemerk het, identifiseer die gedeelte waar jy die meeste rooi sien, en gaan bestudeer dit wat jy nie korrek kon beantwoord nie. Gaan terug na jou notas of handboek en identifiseer presies wat jy nie geweet of verstaan het nie - en leer dan daardie materiaal oor en oor totdat jy dit soos die palm van jou hand verstaan.

Oefen Eksamentegnieke.

Daar is sekere eksametegnieke wat bydra tot jou eksamensukses. Beoefen hierdie tegnieke uit terwyl jy eksamenvraestelle uitwerk.
1. Begin altyd met die skryf van jou naam op jou vraestel.

2. Kyk vinnig na al die vrae en maak seker dat jy die korrekte aantal papiere in die vraestelle het om die eksamen te voltooi.

3. Draai altyd jou vraestelle om en maak seker dat daar niks op die agterkant van die laaste bladsy geskryf is nie sodat jy nie 'n vraag miskyk nie.

4. Bereken hoeveel tyd wat jy aan elke vraag kan spandeer. Byvoorbeeld: As jy 2 ure het om 'n toets te voltooi wat 80 punte tel, kan jy vinnig bereken dat jy 1,5 minute per punt het (120 minute / 80 punte = 1,5 minute per punt). Daarom weet jy as die eerste vraag 'n subtotaal van 10 punte het, het jy 15 minute om die eerste vraag te voltooi (10 punte x 1,5 minute = 15 minute). Dit is baie belangrik dat jy nie meer tyd aan 'n vraag spandeer as wat jy bereken het nie. Onthou, elke minuut wat jy meer bestee op een vraag, neem jy tyd weg van die volgende vraag. As jy die hele vraestel voltooi het en daar nog tyd oor is, kan jy altyd terugkeer na die eerste vraag toe.

5. Ondersoek die vrae vlugtig sodat jy weet watter onderwerp vir elke vraag verwag word.

6. Begin met die vraag wat die onderwerp dek wat jy die beste ken.

7. Ontspan tydens die beantwoording van al die vrae en haal elke keer 'n diep asem voordat jy die volgende een begin. Onthou, jou brein het suurstof nodig om op sy beste te presteer.

Noudat jy die belangrikheid van die oefen eksamenvraestelle verstaan, wonder jy dalk waar jy dit kan verkry. Afrikaanse Skoolprojekte spesialiseer in die verskaffing van eksamenvraestelle.

Ons Eksamenvraestelle en Antwoorde help leerders om die tegnieke van toetse en eksamens te bemeester. Ons voorbeeldvraestelle word op dieselfde wyse, formaat en moeilikheidsgraad deur die NKV aangebied en is gebaseer op CAPS. Die vrae stimuleer linker en regterbreinaktiwiteit. Die volgende tipe vrae word in ons vraestelle ingesluit: Definisie van terme; Waar of Vals (Verskaf die korrekte antwoord as dit vals is); Pas kolom B by kolom A; Diagramme en Sketse; Vul die ontbrekende woorde in; Meervoudige keuse; Kort vrae; Lang vrae; Blokkiesraaisels. Alle vakke per graad word ingesluit en vakke word in kwartale verdeel. Besoek ons webtuiste  om meer uit te vind: www.afrikaanseskoolprojekte.co.zahttp://www.afrikaanseskoolprojekte.co.za/

Ons sal graag wil weet of jy ons eksamenvraestelle gebruik het en vir watter graad. Is daar enige ander tegnieke wat jy gebruik wanneer jy 'n eksamen skryf? Laat weet ons in die kommentaar afdeling hieronder.

Maandag, 14 Mei 2018

Vind ’n leerstyl wat die beste by jou pas.


Sommige leerlinge studeer beter met flitskaarte, ander maak opsommings of werk deur oefen-eksamenvraestelle. 3 Maniere hoe jy jou leerstyl kan aanpas. 

Ons leer almal anders en teen ons eie pas, maar baie van ons ken dalk nie die beste manier om volgens ons eie individuele behoeftes te leer nie. Volgens opvoedkundige teoretikus Neil Fleming is daar vier primêre leerstyle wat insluit: Visuele leerstyl, Ouditiewe leerstyl, Lees/Skryf leerstyl en Kinetiese leerstyl. Dit is belangrik om jou gedrag en voorkeurleerstyl te verstaan ten einde die uitkoms van elke leersessie te maksimaliseer.

Hieronder volg 'n beskrywing van elke leerstyl en wat jy in ’n studieprogram kan insluit om jou te help met die spesifieke leerstyl. Wees op die uitkyk vir aanwysers van hoe jy verkies om te studeer.

Visuele leerstyl.

Visuele leerders verkies prentjies, grafieke en illustrasies om die belangrikste deel van 'n onderwerp uit te wys. Om 'n goed georganiseerde visuele prent te sien help visuele leerders om verhoudings tussen begrippe te verstaan en hulle verwerk inligting baie vinniger in hierdie leerstyl. 'n Visuele leerder word gestimuleer deur baie kleur en oordrywing van belangrike punte, soos 'n vet lettertipe of deur belangrike woorde te onderstreep. Inkorporeer grafieke, kaarte, diagramme, onderstreping, verskillende kleur penne, glanspenne, handboeke met diagramme en prente daarin en flitskaarte.

Ouditiewe leerstyl.

Luister en praat is die beste manier vir ouditiewe leerders om nuwe inligting te begryp. Ouditiewe leerders leer goed in groepbesprekings, wanneer 'n onderwyser werk verduidelik en deur woorde en opsommings hardop te herhaal. 'n Ouditiewe leerder leer die beste deur te luister, te bespreek, te praat, te ondervra en hardop te herroep. As jy 'n ouditiewe leerder is, gebruik jou selfoon se stemopname-program en neem jouself op terwyl jy jou studiewerk hardop lees en speel dan weer jou werk aan jouself terug.

Lees/Skryf leerstyl.

Die lees en skryfmetode is 'n algemene vorm van leer, maar vir studente wat abstrakte konsepte maklik in woorde kan vertaal, sal hierdie metode van leer vir hulle groot voordeel inhou. Leerders wat die lees/skryfstyl gebruik, verkies dit om aantekeninge te maak en deur die notas weer en weer in hul eie tyd te werk. 'n Student wat die beste deur lees en skryf leer, moet lyste, opskrifte, woordeboekdefinisies en handboeke insluit. Skryf weer jou opsommings uit en lees dit ‘n klomp keer stil in jou eie tyd deur.

Kinetiese leerstyl.

Die tasbare en fisiese aanbieding van inligting sal kinestetiese leerders help om die beste te leer. Hierdie leerders leer dikwels die beste deur dinge self uit te werk en fisies met konsepte, modelle of strukture te werk. Hierdie leerstyl is 'n vorm van “leer deur te doen”. Sluit dus die volgende in 'n kinestetiese leerplan in: praktiese oefeninge, voorbeelde, probeer en fouteer, laboratoriums en maniere waarop jy al jou sintuie kan insluit (sig, aanraking, smaak, reuk, gehoor).

Hier is ons 3 maniere hoe jy jou leerstyl kan aanpas:

1. Weet watter soort leerder jy is.

Op Fleming se webwerf vark-learn.com is daar 'n vraelys wat jy kan voltooi om uit te vind wat jou voorkeurstyl is. As jy nie weet nie, doen die vraelys en begin om jou leerplan aan te pas om jou spesifieke leerstyl te akkommodeer.

2. Probeer baie verskillende vorme van leer.

Die kans dat jy nie net in een hokkie pas nie is eintlik goeie nuus, want dit beteken dat jy baie verskillende maniere van leer kan gebruik. Byvoorbeeld, as jy 'n visuele- en ouditiewe leerder is, kombineer dit met verskillende vakke. Maak vloeidiagramme en diagramme vir Lewenswetenskappe en neem jouself op om Wiskunde aan jouself te verduidelik. Jy hoef nie net aan een vorm van leer te voldoen nie.

3. Moenie opgee nie.

As jy 'n ander leerstyl probeer het en dit nie dadelik uitgewerk het nie, moenie net tou opgooi nie. Daar is baie maniere om te leer en daar is nie net een spesifieke manier wat reg is nie. Miskien leer jy die beste deur ’n Kinestetiese leerstyl, maar jy weet nie hoe om dit by jou leerstyl in te sluit nie. Moenie opgee nie - gee dit nog 'n kans. Al wat saak maak, is dat jy uiteindelik al jou leerwerk verstaan, maak nie saak hoe jy dit reggekry het nie. Hou aan probeer.

Ons wil jou aanmoedig met jou voorbereiding vir die eksamen om aan te hou leer en om nooit op te gee nie. Jou toekoms is in jou hande en jy het die keuse om dit blink te maak. Brian Herbert het gesê: “Die kapasiteit om te leer is 'n geskenk, die vermoë om te leer is 'n vaardigheid en die bereidwilligheid om te leer is 'n keuse.”

Laat ons weet watter soort leerstyl jy gebruik en hoe jy jou skedule aanpas om jou leerstyl te akkommodeer.

Maandag, 07 Mei 2018

Hoe jy dit kan vermy om leerwerk uit te stel.


Ons het almal dae wanneer ons nie gemotiveerd voel om te studeer nie. As jy in ’n siklus beland om leerwerk uit te stel, sal jy moeilik weer op koers kom.




Kom ons wees eerlik, om te studeer en voorberei vir eksamens is nie die mees aangename aktiwiteit nie. Die werk kan soms baie moeilik word, ons kan sukkel met sekere onderwerpe of miskien voel ons net nie lus om te studeer nie. Dit gebeur met die beste van ons. Dit kan egter ons toekoms in gevaar stel wanneer ons die gedagte van “ek is nie lus om te studeer nie” voortdurend bokant ons doelwitte stel.

Uitstel is 'n keuse. Jy moet elke dag kies om die moeite te doen, ongeag of jy daarvan hou of nie. “'n Man wat uitstel in sy keuse se keuse sal onvermydelik vir hom gemaak word deur omstandighede.” - Hunter S. Thompson

Die probleem is, jy dink jy het tyd.

Ons oorskat gewoonlik die tyd wat ons het om te studeer en onderskat die hoeveelheid tyd wat 'n taak sal neem om te voltooi. Om hierdie rede is dit belangrik om dadelik te studeer. Moenie studeer of enige ander taak uitstel nie, bloot omdat jy dink jy het nog baie tyd oor. Daar mag dalk 'n onverwagte opdrag wees of 'n gesinskrisis, of jy kan selfs verkoue kry, en dan wens jy dat jy vroeër begin het.

Doen enigiets.

Soms kan ons baie betrokke raak in die beplanning van 'n studie sessie, eerder as om net te begin. Jy hoef nie gereed te voel om te begin nie, begin net. Arthur Ash het gesê: “Begin waar jy is. Gebruik wat jy het. Doen wat jy kan.”

As jy met uitstel sukkel, omdat dit lyk of daar 'n berg werk voor jou is, doen enigiets - maak nie saak hoe klein nie. Jy hoef nie die hele stel trappe te sien nie, vat net die eerste stap. Sê vir jouself dat jy net vier bladsye van jou studiewerk gaan lees, die kans is groot dat jy meer sal doen omdat jy reeds besig is. As jy later nie lus voel om meer te lees as daardie vier bladsye nie, het jy ten minste vier bladsye gelees wat meer is as wat jy vroeër gedoen het.

Herinner jouself hoekom dit vir jou belangrik is.

Dit is maklik om ons doelwitte te vergeet as ons nie gemotiveerd voel om te studeer nie. Dit is selfs makliker om ons drome prys te gee wanneer ons nie die moeite doen om hulle te onthou nie. Daarom moet jy weer jou jouself aan jou doelwitte herinner en as jy nog nooit jou doelwitte neerskryf het nie, is dit nou die perfekte tyd. Skryf jou doelwitte neer en plak hierdie vel papier met jou doelwitte langs jou lessenaar en lees dit 'n paar keer deur.

Stel jou voor hoe goed dit gaan voel wanneer jy daardie doelwitte bereik. Herinner jouself dat al die harde werk wat jy ingesit het vrugte sal dra, en dat jy jou drome sal realiseer.

Moenie wag vir inspirasie om te kom nie.

Daar is 'n pragtige aanhaling deur Paulo Coelho wat sê: “As jy net op sonnige dae loop, sal jy nooit jou bestemming bereik nie.” Dit beteken dat as ons net hard werk op die dae wat dit maklik is en wanneer dit goed gaan, dan sal ons nooit ons doelwitte bereik nie. Nie elke dag gaan perfek en maklik wees nie. Jy hoef nie elke dag geïnspireerd te voel om te studeer nie. Die slimste mense in die wêreld het deur moeilike dae gegaan om hul drome te bereik. Moenie moedeloos raak net omdat sommige dae moeiliker as ander is nie.

Uitstel kan dalk vir 'n paar uur goed voel, maar niks sal ooit so goed voel soos om jou doelwitte te bereik nie. Jy het die dissipline, selfbeheersing en wysheid om jou skip in die regte rigting te stuur. Moenie uitstel wat vandag gedoen kan word nie.

Laat ons weet hoe jy uitstel oorkom en hoe jy gemotiveerd bly op dae wat jy nie wil studeer nie.