Maandag 30 Julie 2018

4 Voordele van oefening en sportaktiwiteite op die brein.

Oefening is nie net voordelig vir jou fisiese gesondheid nie, maar ook vir jou verstandelike gesondheid.



Die onderwerp van ’n gesonde lewe is deesdae voortdurend in die kollig. Veral weens die feit dat ons leefwyse die afgelope paar jaar drasties verander het in vergelyking met die verlede. Ons beweeg teen ’n vinniger tempo in terme van basies alles. Ons is almal meer tegnologies ingesteld. Tegnologie bepaal die manier waarop ons kommunikeer, inligting deel, reis, strukture bou, kos produseer ens. Dit beïnvloed natuurlik mense se beroepe – wat toenemend meer veeleisend en stresvol word ten spyte van die vele verbeteringe wat wetenskap, tegnologie en mediese sorg bied.

Natuurlik beïnvloed die manier waarop ons moderne samelewings funksioneer kinders se opleiding. Baie van vandag se ouers het nie toegang gehad tot rekenaars en die internet toe hulle kinders was nie. Tans is dit nie buitengewoon dat kinders navorsing vir hul opdragte op tablette of selfone doen nie. Kinders spandeer ook baie ure aan huiswerk en om te leer. Dit is nie noodwendig negatief nie. Hulle is immers die mense wat eendag die vooruitgang en ontwikkeling van ons samelewings gaan voortsit. Ons samelewings wat teen sulke ongelooflike tempos ontwikkel, het egter nie noodwendig ons vinniger laat beweeg nie. Om die waarheid te sê, ons is liggaamlik minder beweeglik – ons stap minder as gevolg van vervoer, ons spandeer minder tyd aan harde arbeid as gevolg van masjinerie en minder tyd om kos te maak as gevolg van kitskosrestaurante. Selfs ons vermaak is die druk van ’n knoppie weg... Nie eers gepraat van die skadelike aspekte soos besoedeling wat jou gesondheid en mobiliteit kan beïnvloed nie.

As gevolg van hierdie verskuiwing in die manier waarop ons ons daaglikse lewens leef, is dit dus belangriker as ooit om ’n helder verstand en ’n gesonde liggaam te hê om tred te hou met die uitdagings wat ons elke dag ervaar. Van die beste maniere om fisiese gesondheid te verseker is deur oefening en sport te speel. Ek is seker dat jy daarvan bewus is. Soos Jim Rohn gesê het, “Sien om na jou liggaam. Dis die enigste plek waarin jy kan leef.” Deur te oefen bou jy sterker bene, spiere en gewrigte. Dit beheer jou gewig, bloeddruk en cholesterolvlakke. Dit verlaag ook die risiko van tipe 2 diabetes en hartaanvalle. Alhoewel sommige van hierdie probleme nog nie vir die meeste normale kinders ’n bekommernis is nie, is dit goed om kennis hiervan te neem. Wanneer kinders op ’n vroeë ouderdom goeie gewoontes vorm sal hulle die vrugte pluk wanneer hulle ouer is.

Daar is baie meer voordele om aktief te wees. Gereelde fisiese oefening kan jou brein, verstand en lewenstyl bevoordeel. In hierdie artikel bespreek ons die volgende wetenskaplik-beproefde voordele van fisiese oefening op die brein:


1. Neurobiologiese Voordele.

2. Kognitiewe Voordele.

3. Sielkundige Voordele.

4. Lewenstyl Kwaliteit en Prestasie Voordele.




1. Neurobiologiese Voordele.

Neurobiologie verwys na die biologiese studie van die brein se anatomie, fisiologie en senuweestelsel. Die brein is die mees komplekse orgaan van die menslike liggaam. Dit bestaan uit die serebrum (verdeel in twee hemisfere), breinstam, serebellum, komplekse organisering van grysstof en witstof en neurochemikalieë. Die brein prosesseer, koördineer en integreer inligting en beheer die meeste van die liggaam se funksies.

Oefening vergroot jou brein.

Die brein kan vergelyk word met ’n rekenaar. As jy oefen sit jy jou liggaam onder tydelike positiewe stres – wat jou brein dwing om harder te werk sodat jy hierdie take kan verrig. Oefening verander fisies jou brein deur ’n reeks chemiese prosesse. ’n Wetenskaplike navorsingstudie het tot die gevolgtrekking gekom dat volwassenes wat aan ’n aërobiese fiksheidsprogram oor ’n tydperk van 6 maande deelgeneem het, het ’n toename in grysstof en witstof van die brein ervaar. Dit is soos om die hardeware van jou rekenaar op te gradeer en sodoende dit te omskep in ’n groter en sterker masjien.

Oefening verhoog die geboortekoers van nuwe breinselle.

Neurogenese is die proses om nuwe breinselle te ontwikkel. ’n Onlangs geïdentifiseerde chemiese stof genaamd Brein-Afgeleide Neurotrofe Faktor (BANF)(“BDNF”) is verantwoordelik vir neurogenese. Volgens ’n Amerikaanse studie word daar geglo dat gereelde kort en intense aërobiese oefening BANF in die brein sal verhoog, terwyl kragoefeninge nie BANF-vlakke beïnvloed nie.

Oefening verhoog energie en verminder moegheid.

Ten spyte van baie wat glo dat oefening moegheid veroorsaak, is dit eintlik die teenoorgestelde. Navorsers van die Universiteit van Georgia het aan die lig gebring dat 20 tot 40 minute matige-intensiteit aërobiese oefening (soos fietsry) jou energievlakke kan herstel. Die impak van die verhoogde energievlakke word nie net fisies ervaar nie, maar dit laat jou ook minder geestelik “gedreineer” voel.



2. Kognitiewe Voordele.

Kognisie is die verstandelike aksie of proses om kennis en begrip te verkry deur middel van gedagtes, ervaring en sintuie. Jy pas “denke” toe aan al die take wat jy wil uitvoer. Sommige aksies neem meer moeite en breinkrag en ander gebeur min of meer outomaties. Die feit is dat jy jou kognitiewe vermoëns (soos konsentrasie, spoed en akkuraatheid) kan verbeter deur oefening!

Oefening verbeter konsentrasie.

Ons tegnologies-gedrewe wêreld plaas baie druk op ons gedagtes, soos ons in die inleiding van hierdie artikel bespreek het. Die ure wat ons daagliks agter rekenaars spandeer om werk en navorsing te doen kan verstandelik uitputtend wees. As ’n ontsnappingsmiddel maak ons gebruik van meer tegnologie – rekenaarspeletjies en televisie. Soms is daar soveel tegnologie rondom ons. Met sosiale media kennisgewings, boodskappe en inkomende e-posse dat dit moeilik raak om op een bepaalde ding te fokus. Dit gesê, tegnologie is nie ’n slegte ding as sulks nie. Dit verbeter ons lewens op baie maniere. Ons moet net maniere vind om dit goed te bestuur en nie toelaat dat dit ons aandag aflei en ons belemmer om gesonde, aktiewe lewens te leef nie.

Oefening is ’n goeie manier om jou gedagtes uit die weg te ruim van die konstante afleidings wat aan die gang is. Mense wat fisies fiks is het veel meer beheer oor hul konsentrasie as hulle deelneem aan ’n uitdagende kognitiewe taak. Die goeie nuus is dat oefening fokus kan nie net verbeter vir tieners en volwassenes nie, maar ook vir kinders. ’n Kort periode van intense aktiwiteit kan lees- en wiskundige vaardighede by kinders verbeter, soos blyk uit die ‘Effekte van die FITKids Willekeurig Gekontroleerde Proef op Uitvoerende Beheer en Brein Funksie’ studie. 

Die styging in AGHS (“ADHD”) by kinders gedurende die onlangse dekades is ook ’n weerspieëling van die samelewing se moeilikheid om te fokus. Alhoewel die voordele van oefening vir kinders nie nuut is nie, toon onlangse bevindings wat deur dr. Betsy Hoza, professor in sielkunde aan die Universiteit van Vermont, gedoen is dat kinders wat “in-skoolse oefening” as behandeling vir AGHS ontvang het verbeter het in hul kognitiewe funksionering.

Die volgende keer wanneer dit voel asof jou gedagtes dof is en jy nie jou konsentrasie kan behou nie, probeer om ’n fiksheid toepassing (“app”) of ’n oefenprogram af te laai en daardeur te gaan.

Oefening verbeter geheue.

Korttermyngeheue is die brein se vermoë om ’n klein hoeveelheid inligting te stoor wat binne ’n kort tydjie geredelik toeganklik is. Korttermyngeheue word dikwels beskou as sinoniem met werkgeheue, alhoewel werkgeheue meer akkuraat verwys na die raamwerk van prosesse wat gebruik word om die data wat in korttermyngeheue gestoor is, te verstaan, interpreteer en manipuleer. Voorbeelde van werkgeheue sluit in die herroeping van ’n reeks syfers (0 – 9), name of prente binne minder as 2 minute na blootstelling. Verskeie studies in die verlede het verskillende uitkomste aangaande die uitwerking van oefening op werkgeheue gelewer. Dit is egter algemeen aanvaar dat minder as 20 minute lae-intensiteit kardiovaskulêre oefening (soos loop, hardloop en fietsry) onmiddellike verbetering in visio-ruimtelike korttermyngeheue lewer, meer as verbale-oudio korttermyngeheue. Kardiovaskulêre oefening wat oor ’n langer tydperk gedoen word (40 minute van medium intensiteit oefening oor 6 maande minimum) toon meer verbetering aan verbale-oudio korttermyngeheue oor die langtermyn.

Wanneer korttermyngeheue behoue word na meer as 2 minute van die aanvanklike stimuli, word dit langtermyngeheue. Langtermyngeheue is die brein se vermoë om data onbepaald te stoor. Sulke herinneringe kan vir slegs ’n paar uur, ’n paar dae of selfs jare behoue bly, afhangende van hul krag. Voorbeelde van langtermyngeheue sluit in die herinnering van die besonderhede van ’n storie of prente wat 30 minute vroeër aangebied is. ’n Studie oor langtermyn-kardiovaskulêre oefening toon verbetering in langtermyngeheue, aangesien dit die agteruitgang van die hippokampus (wat verantwoordelik is vir die konsolidering van korttermyngeheue in langtermyngeheue) voorkom.

Oefening verhoog IK en verbeter akademiese prestasie.

Intelligensie kwosiënt (IK) is ’n telling wat afgelei is van gestandaardiseerde toetse wat ontwerp is om ’n persoon se intelligensie te assesseer - relatief tot die gemiddelde prestasie van ander mense van dieselfde ouderdom. Navorsing toon dat ’n mens se IK deur vaste genetiese faktore (veral die brein se struktuur) en veranderlike omgewingsfaktore (soos geboorte, voeding, fisiese- en geestelike gesondheid en opvoeding) beïnvloed word - ’n “natuur” en “versorging” verhouding, soos uiteengesit in die ‘Journal of Neurology & Stroke’, beskikbaar om te lees op ‘MedCrave’. Alhoewel daar nie veel is wat jy kan doen om jou genetiese samestelling te verander nie, is daar aansienlike bewyse wat daarop dui dat oefening jou IK kan verbeter. ’n Navorsingstudie wat data van 1 miljoen mans in Swede verkry het, het bevind dat kardiovaskulêre fiksheid geassosieer word met globale intelligensietellings. Hul logiese, verbale, visuospatiale en tegniese tellings het dieselfde vertoon. Jong mans wat hul kardiovaskulêre gesondheid verbeter het tussen die ouderdomme van 15 en 18, het ook hul IK verbeter.

Akademiese prestasie en fisiese fiksheid is nou verbind. Aërobiese oefening is die prominentste om beter fiksheid en akademiese resultate te lewer. Gereelde oefening is verantwoordelik om die groei van nuwe breinselle te stimuleer. Nuwe breinselle maak dit moontlik om nuwe inligting te stoor – wat noodsaaklik is vir leer. Lees punt nommer twee in ‘Neurobiologiese voordele’ van hierdie artikel vir meer oor hierdie proses.

Dit is noodsaaklik om kennis te neem dat die verband tussen IK en akademiese prestasie nie noodwendig ooreenstem nie. Sommige studente met ’n hoë IK bereik nie altyd sukses in die klaskamer nie. Die teenoorgestelde is ook waar. Sommige studente met ’n laer IK kan hoë akademiese sukses behaal. Wat wel beslis is, is dat beide IK en akademiese prestasie deur oefening verbeter kan word.



3. Sielkundige Voordele.

Die brein koördineer nie net die uitvoering van jou liggaamlike funksies en kognisie nie, maar is ook verantwoordelik vir jou sielkundige en geestelike toestande. Lewenservarings, gebeure en selfs aktiwiteite wat regdeur jou dag plaasvind beïnvloed die manier waarop jy dink en reageer in situasies en teenoor jou omgewing. Met ander woorde, jou gedagtes, emosies en persoonlikheid – alles wat jou uniek maak – is afhanklik van die brein. Soms gebeur dinge in jou lewe wat jou laat stres of ongemak en benoud maak en jou geestelik uitput. Oefening kan aangewend word om hierdie negatiewe geestestoestande positief te maak. Dit sal jou jou meer bestand maak en jou leer om hierdie situasies en gevoelens beter te hanteer.

Oefening verminder stres en angs.

Neurochemikalieë word in die brein vrygestel wanneer jy oefen. Dit sluit in endorfiene, dopamien en norepinefrien – wat verantwoordelik is vir kognisie, bewustheid en verbeterde bui. Benewens die “goedvoel” neurochemikalieë wat tydens oefening vrygestel word, verminder dit kortisol en adrenalien – die hormone wat geassosieer word met stres.

Oefening kan ook gebruik word as ’n tegniek om stres en angs te beheer, aangesien dit jou gedagtes van persoonlike-, werk-, finansiële- en ander stressors afneem. Gereelde oefening sal jou help om ’n positiewe houding te handhaaf – selfs as jy blootgestel word aan ’n stresvolle of traumatiese ervaring.

Oefening verbeter gemoed en gelukkigheid.

As gevolg van die chemikalieë wat in jou brein vrygestel word, sal jou gemoed amper onmiddellik verbeter nadat jy geoefen het. Terwyl “om in ’n goeie bui te wees” jou kanse sal verhoog “om ’n goeie dag te hê”, word gemoed as wisselvallig beskou en kan dit regdeur die dag verander. Gelukkigheid is iets wat meer blywend is. Byvoorbeeld, iemand kan per ongeluk in jou bots terwyl jy loop. Dit kan jou laat skrik en ’n bietjie ontstel omdat jy iets laat val het. Hierdie enkele gebeurtenis sal egter nie jou algehele geluk affekteer en jou depressief maak nie. Daarom is dit nie net raadsaam om te oefen ter wille van die handhawing van ’n positiewe bui nie, maar ook om langtermyn gelukkigheid te verseker.

’n Studie van Kanada se Nasionale Bevolkingsgesondheidsopname (NBGO)(“NPHS”) het getoon dat langtermyn fisiese aktiwiteit ’n sterk invloed op ’n persoon se geluk het. Die resultate was as volg:
  • Onaktiewe mense was twee keer so geneig om ongelukkig te word, in vergelyking met aktiewe mense.
  • Mense wat onaktief geword het, was meer geneig om ongelukkig te word.
  • Mense wat aktief geword het, was minder geneig om ongelukkig te word.


Oefening voorkom en beveg depressie.

Depressie is ’n toestand van lae gemoed wat ’n persoon se gedagtes en gedrag kan beïnvloed en afkerig tot aktiwiteit kan veroorsaak. ’n Depressiewe bui is dikwels ’n normale reaksie op negatiewe en traumatiese lewenservarings – soos die verlies van iemand naby aan daardie persoon, verwerping, siekte ens. Depressie word beskou as ’n siekte, of, meer gepas, ’n geestelike wanorde, sodra dit ’n paar weke duur met konsekwente simptome wat ontwrigting veroorsaak in ’n persoon se vermoë om normaal te funksioneer. Dit gaan gepaard met die verlies van belangstelling in aangename aktiwiteite en lae selfwaarde. Depressie kan veroorsaak word deur genetiese en/of omgewingsfaktore.

Depressie is ’n moeilike onderwerp om oor te praat. Alhoewel dit deur die Wêreldgesondheidsorganisasie beraam word om 350 miljoen mense te beïnvloed (en getalle neem steeds toe) kan baie steeds nie die werklike uitwerking van depressie begryp nie en het gemengde menings oor behandelingsmetodes. Meer gevalle van depressie word deur vroue gerapporteer, maar mans wat aan depressie ly is meer geneig om as gevolg van selfmoord te sterf. Wat kommerwekkend is, is dat dit nie net volwassenes raak nie, maar ook kinders en tieners. Depressie by kinders en tieners is dikwels meer aggressief en selfvernietigend. Selfmoord onder 15 tot 19 jariges is die derde hoofoorsaak van dood in die Westerse samelewings.

Soos ons reeds genoem het, is behandeling ’n baie omstrede onderwerp. Aangesien die meeste mense deesdae opsoek is na ’n maklike oplossing omdat hulle baie stresvolle, ongesonde en besige lewens leef. Hulle het nie die wil, energie of tyd om na hulself andersins om te sien nie en sal eerder ’n voorskrif vir medikasie kry vanaf ’n bedryf wat voordeel trek uit hul gewillige verbruikers. Dit gesê, depressie is ’n baie ernstige probleem en mediese behandeling van professionele persone moet altyd gesoek word. Die keersy is dat nie alle behandelings hoef in die vorm van ’n kapsule te kom nie. Daar is aansienlike bewyse wat daarop dui dat oefening net so effektief is om depressie te voorkom en te genees in vergelyking met ander alternatiewe.

Die woorde “voorkoming is beter as genesing” is uiters akkuraat. Selfs as jy merkwaardig herstel van ’n siekte, is die kans dat dit ’n vorm van ’n geestelike of fisiese letsel sal laat baie waarskynlik. Die grootste studie oor die voorkoming van depressive, gelei deur King’s College London en die Black Dog Institute in Australië, het getoon dat 20 minute daaglikse oefening die risiko met een derde kan verminder. Trouens, so min as een uur per week kan die moontlikheid van depressie aansienlik verminder (by mense van alle ouderdomme), maar met geen oefening word die moontlikheid met 44% verhoog.

Dit is interessant dat mense wat aan depressie ly verligting kan vind deur oefening, soos bewys deur die Universiteit van Kalifornië - Davis Gesondheidstelsel. Oefening herstel die vlakke van twee algemene neurotransmitters (metaboliese weë van chemikalieë wat verantwoordelik is vir die stuur van boodskappe in die brein), bekend as glutamaat en gamma-aminoboteriumsuur (GABS)(“GABA”). Wanneer hierdie uitgeput is lei dit tot depressie.




4. Lewenstyl Kwaliteit en Prestasie Voordele.

Oefening kan ander aspekte van jou lewe verbeter en jou toelaat om ten volle te leef.

Oefening verhoog produktiwiteit.

Almal wil dinge behoorlik en korrek doen in die minste moontlike hoeveelheid tyd. Hoekom? As jy meer kan bereik, het jy meer geleenthede om te groei en jouself te verbeter. Om produktief te wees, gee vir jou ’n gevoel van prestasie wat noodsaaklik is vir sukses.

’n Studie wat deur die Universiteit van Bristol gedoen is het die produktiwiteit van 200 individue in 3 verskillende organisasies gemeet. Hulle het bevind dat hul vlakke van produktiwiteit hoër was op dae van oefening en laer op dae van geen oefening nie. Oefensessie dae het die volgende positiewe resultate getoon:
  • 21% verbetering in konsentrasie.
  • 22% verbetering in die voltooiing van werk op tyd.
  • 25% verbetering in werk kontinuïteit.
  • 41% verbetering in motivering.

Oefening verhoog kreatiwiteit.

As jy aan die woord “kreatiwiteit” dink, is oefening of sport waarskynlik nie jou onmiddellike antwoord nie. Jy sal eerder kreatiwiteit aan die kunste toeskryf: teken, skilder, musiek, dans en skryf. Kreatiwiteit word ook benodig om konneksies te vind tussen oënskynlik onverwante data, om dinge op nuwe maniere aan te bied, sowel as om probleme uniek op te los. Dit maak kreatiwiteit ’n noodsaaklike vereiste vir sukses op verskeie gebiede – hetsy, tegnologie en uitvindings, argitektuur, kos, bemarking en besigheid. Ja, selfs professionele sport atlete wat kreatief kan dink tydens ’n wedstryd sal waarskynlik beter presteer as om net volgens die handboek se riglyne te speel.

Oefening, soos blyk uit ’n studie deur Stanford Universiteit, veral lae intensiteit oefening soos stap, kan die kognitiewe pogings wat in kreatiwiteit betrokke is, aansienlik verbeter. Hulle het bevind dat konvergente denke (die vermoë om oplossings te vind) verbeter het, sowel as divergente denke (die vermoë om nuwe en oorspronklike idees te vorm).

Oefening verbeter slaapsiklusse.

Om behoorlik te kan funksioneer moet jy elke aand ’n goeie hoeveelheid slaap inkry. Nie net help slaap jou liggaam om te herstel nie, maar ook meer belangrik jou verstand. Slaap reguleer ’n aantal funksies in die brein. Dit sluit onder meer in kommunikasie tussen neurone, die verbetering van geheue en kognisie en die verwydering van brein toksiene. Slaap is noodsaaklik vir die stabilisering van jou gemoed en energie vlakke. Dit speel dus ’n belangrike rol in jou produktiwiteit, kreatiwiteit en leervermoëns. ’n Versteuring in slaappatrone (soos ’n oormaat of ’n gebrek daaraan) kan baie negatiewe effekte hê op jou liggaam, gemoed en prestasie.

Kort periodes van hoë intensiteit oefeninge sal ’n positiewe effek op jou slaapsiklusse hê – insluitende verbetering in totale slaaptyd en met minder steurnisse.



Jy is uniek, neem deel aan iets wat by jou pas.

Iets om in ag te neem wanneer jy begin met oefening en/of ’n nuwe sport aanleer is dat elke kind uniek is. Die tipe oefening of sport, die duur van elke sessie en die aantal kere wat jy per week moet oefen sal afhang van: jou ouderdom, stadium van liggaamlike ontwikkeling, ander gesondheidsfaktore, belangstellings en voorkeure. Sommige kinders het ’n natuurlike sportaanleg. Ander moet nog die stamina, motoriese vaardighede en hand-oogkoördinasie ontwikkel om sekere aksies te verrig. Tog sal die meeste kinders waarskynlik nie die eerste keer dit reg kry nie. Jy hoef nie daaroor bekommerd te wees nie. Dit sal ’n bietjie oefening verg voordat jy die basiese vaardighede onder die knie het voordat jy werklike resultate sal sien. Oefening moet gesien word as ’n deurlopende proses.

Moenie bang wees vir oefening en sport nie.

Redes waarom sommige kinders oefening en sport vermy, is gewoonlik omdat hulle bang is om te misluk en geoordeel te word. Dit mag dalk in die verlede gebeur het en daarom verkies hulle om deelname op die sportveld te vermy. Hierdie ervaring het vir hul baie spanning veroorsaak en hul selfbeeld verlaag. As dit ooit met jou gebeur het, moet jy nie toelaat dat dit jou keer om weer te probeer en ’n gesonde lewenstyl te leef nie. Daar is ’n hele klomp lekker aktiwiteite wat jy sal misloop. Jy sal ook nie al die voordele ervaar wat oefening aan jou brein kan bied nie.

Begin met klein treetjies.

Kry ’n sport of tipe fisiese aktiwiteit waarvan jy hou. Besluit op aktiwiteite wat jou persoonlikheid en vermoëns weerspieël. Besluit tussen ’n individuele of spansport. As jy byvoorbeeld nie van groepaktiwiteite hou nie, vra jouself af waarom? Is jy teruggetrokke met alle groepverwante aktiwiteite of net wanneer dit by sport kom? Is dit bloot omdat jy daarvan hou om dinge op jou eie te doen? Jy kan besluit hoeveel fisiese kontak en kompetisie jy wil hê – of nie wil hê nie. Maak egter jouself ontvanklik vir die moontlikheid dat ten spyte van ’n negatiewe ervaring in die verlede jy soortgelyke mense sal ontmoet wat daar is vir dieselfde redes as wat jy is. 

Maak seker dat selfs voordat jy begin jy geestelik en fisies gemaklik is om dit te doen. Gaan die reëls van die sport na, lees op daaroor en kyk hoe ander dit doen. As jy gereed is om deel te neem, maak seker dat jy vooraf opgewarm is sodat jy nie jou spiere seermaak nie. Moenie jouself te hard druk nie, veral nie as jy ongemaklik voel nie. Praat openlik met jou ouers oor hoe jy oor ’n sportsoort voel. Sê wanneer jy wil ophou en eerder iets anders wil probeer. As jou skool nie ’n aktiwiteit waarin jy belangstel aanbied nie, probeer om by ’n klub aan te sluit of ’n private instrukteur te vind.

Daar is baie tyd om ’n sportheld te word. Moenie dit oordoen nie.

Dit is baie belangrik vir jou om blootgestel te word aan gesonde kompetisie want dit leer doelgerigtheid, deursettingsvermoë, streshantering en sportmanskap. Ongelukkig is daar baie druk vanaf ouers en onderwysers op kinders om te vroeg en te ernstig vir kompetisies te oefen. Dit kan ’n negatiewe uitwerking op jou hê wanneer jy na die uiterstes gedryf word. Dit kan alle pret van daardie aktiwiteit af wegneem en jou moontlik afskrik. Oormatige intensiewe oefening kan onder andere jou groei belemmer en ernstige newe effekte hê. Wanneer jy jouself te hard druk sal dit inmeng met jou energievlakke, slaappatrone en gemoed. Die oefening sal dan nie meer voordelig vir jou brein en jou akademie wees nie. Wanneer jy begin om aanvullings en verbode middels te gebruik om jou vordering aan te help raak dit baie gevaarlik. As jy onseker is oor enige vorm van oefening of hulpmiddels moet jy ’n professionele persoon se opinie kry. “Matigheid” is ’n belangrike konsep om in ag te neem wanneer jy jou oefenroetine uitwerk.



Ons beoog deur hierdie artikel om jongmense te kry om belangstelling te toon in fisiese oefening, asook om hul aan te moedig en te inspirer om ’n sport te beoefen. Ons hoop dat hierdie artikel jou oë oopgemaak het vir die wonderlike voordele van oefening op die brein en hoe dit jou akademie kan verbeter. Laat weet ons wat jou gunsteling oefening en sportaktiwiteite is. As jy iemand ken wat passievol is oor oefening en sport, deel gerus hierdie artikel met hom of haar.


Maandag 23 Julie 2018

Wenke om jou selfvertroue te versterk nadat jy ’n toets gedruip het.

Teen hierdie tyd sou jy jou halfjaareksamen-uitslae ontvang het. Jy het dalk ’n toets gedruip... Hoe hanteer jy dit?




“Almal het in die klas na my gestaar toe ek my eksamenvraestel teruggekry het. Ag nee, die afskuwelike syfers in rooi ink wat ’n honderd keer omkring is. Hoe op aarde het dit gebeur? Wat sal my ouers sê?”

So jy het ’n eksamen gedruip...

Dit is ’n jammerte. Dit is regtig. Ons verstaan die gevoel. Glo ons, jy mag dalk voel asof jy alleen is, maar almal het al voorheen misluk. Dinge sal binnekort weer reg wees.

“Sukses is nie finaal nie, mislukking is nie fataal nie: dit is die moed om aan te gaan wat tel.” ~ Winston Churchill. Hierdie inspirerende aanhaling van Churchill is baie waar. Dit verwys na die feit dat sukses nie iets is wat net een keer behaal word en vir ewig sal duur nie. Net omdat jy voorheen sukses behaal het (soos om ’n vorige eksamen te slaag), is jy nie gewaarborg vir toekomstige sukses nie. Jy moet voortdurend daaraan werk. Sukses is ’n aaneenlopende proses. Churchill maak dit ook duidelik dat mislukking nie jou finale ondergang beteken nie. Selfs al voel jy nou ongelooflik laag en bedroef, beteken dit nie dat jy altyd so swak sal voel nie. Jy het die opsie om weer op te staan. Solank as wat jy lewe en die wilskrag het om weer te probeer het jy die kans om te slaag. Jy moet net die moed binne jouself bymekaar maak.


In hierdie artikel bespreek ons die volgende stappe hoe jy te werk moet gaan nadat jy ’n eksamen gedruip het:

1. Aanvaar dat jy nie die uitkoms kan verander nie. Beweeg aan.

2. Ontleed wat verkeerd gegaan het.

3. Oorweeg alternatiewe studiemetodes.

4. Leer uit jou foute.

5. Moenie moed opgee op jou drome nie.

6. Stel nuwe doelwitte.

7. Praat openlik daaroor met jou ouers.

8. Maak ’n afspraak met jou onderwysers.

9. Kry hulp en ondersteuning.


1. Aanvaar dat jy nie die uitkoms kan verander nie. Beweeg aan.

So hard as wat jy dalk wens vir ’n wonderwerk om jou punte te verander, sal dit waarskynlik nie gebeur nie. Tog sal dit nie reg wees nie. Jy het gedruip. Dit is moeilik om die waarheid te hoor, maar jy kan nie met feite argumenteer nie. Jy het nie die antwoorde geken nie. Jy het nie vroegtydig begin leer nie. Jy het nie hard genoeg geleer nie. Jou gedagtes het jou gefaal toe jy die eksamen afgelê het. Daardie grafiek het jou afgegooi en jy het deurmekaar geword. Toe jy die bladsy omdraai was dit nog erger...

Dit het gebeur. Dit is in die verlede. Aanvaar dit. Beweeg aan.

Om sleg te voel is nie noodwendig ’n negatiewe ding nie. Dit is goed om ’n bietjie teleurgesteld te wees in jouself, want dit wys dat jy omgee. Jy gee om oor jou punte, want jy wil suksesvol wees in die lewe. Jy het ’n standaard om te handhaaf. Jy het drome en aspirasies. Jy wil jou skoolloopbaan voltooi, die opsie hê om aansoek te doen om by ’n kollege of universiteit te studeer en ’n suksesvolle loopbaan in die toekoms te hê. As jy egter vir ewig daaroor sal worstel, sal hierdie gevoelens vererger. Jou gedagtes sal jou erger en erger laat voel – veel erger as wat eintlik nodig is. Moenie toelaat dat vrees jou lam maak nie. Moenie aanvaar dat dit jou lot van nou af sal wees nie. Jy is nie dom of minder ’n mens nie. Daar sal nog eksamens wees om jouself en almal anders verkeerd te bewys. Begin net aan dit te werk.

2. Ontleed wat verkeerd gegaan het.

Om ’n oplossing vir enige probleem te vind, moet jy eers vasstel waar presies die probleem lê. Breek hierdie hele groot gemors in kleiner stukkies. Begin dinge op ’n logiese manier saam te sit. ’n Goeie manier om met jou analise te begin, is om aan jouself ernstige vrae te vra. Was jy in al die klasse? Het jy in die klas aandag gegee en notas gemaak? Het jy al jou huiswerk en werkopdragte gedoen? Het jy vir jou onderwyser of ander leerders gevra vir hulp as jy nie die werk behoorlik verstaan het nie? Het jy vroeg genoeg begin leer? Het jy werklik so hard gewerk soos wat jy dink jy het? Was jou verwagtinge realisties? Hoe het jy met betrekking tot jou ander vakke gevaar? Hoe dikwels druip jy toetse? Was dit net toeval of sien jy ’n patroon vorm? Het jy enige gesondheidskwessies of ander probleme verwant aan (of selfs nie verwant aan) skool (nie)? Hoe gaan dit by jou huis? Wees eerlik met jouself daaroor. Baie faktore kan ’n invloed op die uitslag van jou eksamen hê. Selfs die mees voorbeeldige studente wat hul beste gedurende die hele kwartaal gee kan misluk in ’n eksamen, weens geweldige hoeveelhede spanning en uitputting. Kyk of jy oplossings vir sommige van hierdie probleme kan vind. Die oplossing mag dalk makliker wees as wat jy dink.

3. Oorweeg alternatiewe studiemetodes.

Almal is uniek, daarom behoort almal effens anders te leer en dinge te onthou. Party mense leer vinniger as ander. Sommige is gerig op analise of teorie, ander verkies ’n praktiese benadering. Sommige mense moet konsepte visueel voor hulle sien – anders is al die woorde op papier net nuttelose letters. Ons het almal ons belange en sterk punte. Dit beteken egter nie dat jy nie nuwe vaardighede kan aanleer of jou kennis op ander gebiede uitbrei nie. Jy moet net ’n manier vir jouself ontdek om dit te doen.

Net omdat jou onderwyser of ouers verwag dat jy ure lank stil moet sit voor ’n handboek in jou kamer, beteken dit nie noodwendig dat hulle reg is, of om dit meer akkuraat te stel, dat dit die korrekte studiemetode vir jou is nie. Jy word aangeraai om jou studiemetode aan te pas volgens jou eie persoonlikheid en behoeftes. Jy kan dit selfs effens aanpas volgens elke vak. Lees ons blog artikel ‘Vind ’n leerstyl wat die beste by jou pas’ vir ’n gedetailleerde beskrywing van sommige van die beste studiemetodes.

Wenk: Dit is belangrik om te onthou dat dit nie saak maak watter metode jy kies om te leer nie - slegs die finale punte. Jy moet egter beslis oorweeg om eksamenvraestelle deur te gaan voor jou eksamen. Om die werk te ken is een ding, maar jy moet ook behoorlike eksamentegniek ken. Oefen-eksamenvraestelle sal verseker dat jy ten volle voorbereid is vir ’n eksamen en weet hoe om die vrae te beantwoord op die wyse wat van jou verwag word. Vir meer besonderhede oor ons voorbeeld eksamenvraestelle, besoek gerus ons webtuiste.

4. Leer uit jou foute.

Die beste manier om presies te weet wat dit is wat jy in daardie spesifieke eksamen verkeerd gedoen het, is om dit weer te skryf. Werk deur elke vraag en kyk of jy dieselfde foute maak of sien jy uiteindelik verbetering? Begryp jy ten volle wat jy verkeerd gedoen het? Maak aantekeninge vir jouself. Is daar enige moontlike uitvang-plekke waarvoor jy in die toekoms moet kyk?

Wenk: Werk soortgelyke vrae uit om nog meer oefening te kry.

5. Moenie moed opgee op jou drome nie.

Bly positief. Jy het ’n eksamen gedruip, nie die lewe nie. Jy het nog steeds jou hele lewe voor jou. Die jaar het nog nie eens geëindig nie. Jy kan steeds ’n goeie jaar-eindpunt kry as jy van nou af hard werk. Herinner jouself daaraan dat jy nie die enigste persoon is wat al misluk het nie.

Sommige van die slimste mense het misluk op hul pad na sukses. Voorbeelde sluit in:


Albert Einstein

Duits-gebore teoretiese fisikus Albert Einstein is waarskynlik een van die mees produktiewe wetenskaplikes wat hierdie aarde genader het. Hy het ’n Nobel-prys gewen en is deur die tydskrif Time benoem as persoon van die 20ste eeu. Hy is die toonbeeld van intelligensie. Tog as kind was daar van hom gedink as geestelik gestremd, aangesien hy eers op die ouderdom van vier begin praat het en op die ouderdom sewe begin gelees het. Gelukkig het hy nie toegelaat dat dit hom keer nie. Kan jy jouself voorstel wat ’n verlies dit vir die wêreld sou wees as hy die menings van ander toegelaat het om hom te verhinder om sy volle potensiaal te bereik?

Henry Ford

Henry Ford staan bekend as die meesterbrein agter een van die suksesvolste motormaatskappye in die wêreld. Ford het die motorbedryf omgeswaai gerevolusioneer. Hy het motors ’n huishoudelike standaard gemaak, hy is die “monteerbaan” se pionier en het 17 miljoen eenhede van sy Model T verkoop. Wat baie nie weet nie is dat Ford twee keer misluk het – wat beide kere tot bankrotskap gelei het. Kan jy ’n wêreld sonder motors in daaglikse gebruik indink? Indien hy te vroeg sou opgee sou ons lewens vandag baie anders lyk.

Walt Disney

Die verhaal agter die man wat aan ons die mees fantastiese spotprent skeppings soos Mickey Mouse, Dumbo, Bambi, ander ongelooflike stories, sowel as Disney Land, gebring het, is nie sonder mislukking nie. Hy was afgedank van sy werk by die Kansas City Star-koerant, omdat hulle geglo het dat hy “’n tekort aan verbeelding en geen goeie idees gehad het nie”. Sy eerste besigheid het ook in bankrotskap geëindig. Vir die meeste sou kinderjare sonder Disney se klassieke stories ’n vervelige een gewees het.

Bill Gates

Die skepper van Microsoft en een van die rykste manne in die wêreld moes ongelooflik hard gewerk het voordat hy sukses behaal het. Sy eerste besigheid het gevou nadat die data in die masjien, ‘Traf-O-Data’ tydens ’n aanbieding vir ’n Seattle County verkeerswerknemer misluk het. Uiteindelik het sy volharding tot gevolg gehad dat hy Microsoft begin het, wat die persoonlike rekenaar mark gerevolusioneer het.

Steven Spielberg

Amerikaanse rolprentregisseur en vervaardiger Steven Spielberg se films het meer as $9 biljoen beloop. Hy het ook drie Academy Awards gewen. Maar voor sy sukses het die Universiteit van Suid-Kalifornië se Skool vir Filmkuns sy aansoeke twee keer verwerp! Uiteindelik het hulle probeer om hul foute reg te stel deur ’n gebou in sy eer op te rig.

JK Rowling

Die skrywer van die beroemde Harry Potter-reeks het 120 miljoen kopieë van haar eerste boek alleen verkoop en het na verwagting in totaal meer as 500 miljoen kopieë wêreldwyd verkoop. Later is die hele Harry Potter-reeks aangepas vir film. Dit is moeilik om te dink haar lewe was eens op ’n tyd baie anders as die sprokie wat dit vandag is. Voor haar sukses het sy gesukkel om dinge as ’n enkel, geskeide ma wat op welsyn leef, terwyl sy studier, te laat werk. Sy het haar eerste roman tydens haar pouses geskryf. Sy is ook baie keer van die hand gewys voordat haar werk vir die eerste keer uiteindelik gepubliseer is. Gelukkig kan jy ’n plek as een van die top-verkoper fiksie skrywers van alle tye verdien deur volharding. Nie te sleg nie.


Noudat jy gesien het dat dit moontlik is om ’n groot sukses van jou lewe te maak nadat jy baie uitdagings en mislukkings moes oorkom, dink ek dat die minste wat jy kan doen is om weer te probeer.

6. Stel nuwe doelwitte.

In plaas daarvan om oorweldig, gefrustreerd en bang te wees dat jy nie sal slaag wanneer jy jou eksamens skryf nie, neem ’n stap terug en heroorweeg jou benadering. As jy jou eksamen vêr gedruip het, probeer om ten minste om die volgende een deur te kom - jy hoef nie ’n A-student te word nie. Vir die meeste kinders sal dit die maatstaf ’n bietjie te hoog stel. Wel, dit sal tog nie oornag gebeur nie. Probeer om oor die volgende ses maande te verbeter. Werk daagliks aan jou vaardighede. Die sleutel is konsekwentheid. Moenie so hard werk dat jy voor die eksamens uitbrand nie. Stel ’n skedule en doelwitte op. Werk aan spesifieke onderwerpe sodat jy nie op een slag oorweldig voel deur alles nie. Beloon jouself vir jou verbetering. Dit sal jou help om jou fokus te behou.

7. Praat openlik daaroor met jou ouers.

Die laaste ding wat jy moet doen is om jou punte van jou ouers weg te steek. Wees oop daaroor. Hulle sal uiteindelik daarvan uitvind wanneer hulle jou rapport sien of by die oueraand daarvan hoor. Selfs as hulle nie daarvan hoor nie, moet jy dit nie van hulle verberg nie. Maak ’n afspraak om met hulle te praat. Hulle sal dalk ’n bietjie ontsteld wees as hulle vir die eerste keer daarvan hoor, maar net omdat hulle wil hê jy moet goed doen. Hulle sal jou nie minder liefhê nie. As jy oop is oor wat gebeur het, word hulle in die posisie gestel om jou te help. Hulle kan probeer om jou te help met jou leerwerk gedurende hul vrye tyd, met jou onderwyser gaan praat, ekstra studiemateriaal kry of reëlings tref met ’n weeklikse tutor vir jou. Jou ouers kan jou na ’n oogkundige neem om ’n oogtoets te doen of na enige ander mediese professionele persoon of geestesgesondheidswerker indien jy ’n toestand het wat jou verhoed om jou beste te doen.

8. Maak ’n afspraak met jou onderwysers.

Jou onderwysers is waarskynlik die laaste mense met wie jy nou wil praat, maar jy kan nie hulle vir ewig vermy nie. Maak ’n afspraak met hulle om terugvoer oor jou eksamen te kry. Dit kan ook ’n goeie idee wees om jou ouers tydens jou ontmoeting teenwoordig te hê. Vra jou onderwysers wat hulle as geweldige problematiese areas vir jou sien. Vra vir hulle wat hulle dink jou sterk punte en swakhede is. Onderwysers kan jou raad gee oor hoe om effektief vir ’n spesifieke vak voor te berei en vir jou te verduidelik wat hulle van jou verwag tydens ’n eksamen. Het jy punte misgeloop weens nalatigheid of is daar groter begrippe wat jy nie verstaan nie? Let daarop dat sommige onderwysers strenger is as ander. Onderwysers wat regverdig is, maar nie maklik punte gee nie, kry gewoonlik dit reg dat kinders op hierdie manier ’n bietjie harder werk, en uiteindelik sal jy meer leer – presies wat jy nou benodig. Die werk sal tydens die finale eksamen vir jou minder moeilik wees, aangesien jy baie goed voorberei sal wees. Maak ’n reëling met hulle om jul sessie op te volg.

9. Kry hulp en ondersteuning.

Om alles op jou eie te doen is wonderlik omdat daar geen afleidings van ander is nie en dit leer jou om vry-denkend en onafhanklik te wees. Alhoewel, jy wil dalk dit heroorweeg as jy sukkel. Vind ’n studie-vriend. Jy kan baie leer deur te sien hoe ander dinge doen. Dit is bemoedigend om te sien dat ander ook hard werk en deur dieselfde uitdagings as jy gaan. As julle saam hierdie uitdagings in die gesig staar, word die las ligter. Jy kan ook jou ouers, onderwysers en tutors vra vir hulp.

As jy jou akademiese prestasie wil verbeter moet jy Afrikaanse Skoolprojekte ’n kans gee. Ons spesialiseer in eksamenvoorbereiding en ons het verskillende pakkette beskikbaar om jou te help.



Ons vertrou dat hierdie strategieë jou sal help om weer op die regte spoor te kom nadat jy ’n klein terugslag met jou akademiese reis ervaar het. Deel hierdie strategieë met iemand wat ’n mate van motivering nodig het.


Maandag 16 Julie 2018

Keur terug na skool sonder om te voel asof jy ’n vakansie nodig het.

Skool hervat weer. Die vakansie was wonderlik, maar dit is tyd vir ’n nuwe begin om jou akademiese reis voort te sit.




Na ’n lang ruk weg van die skool af en allerhande lekker en opwindende aktiwiteite gedurende vakansie, is dit beslis moeilik vir die meeste kinders om hul gedagtes rondom die idee van weer skool toe te gaan te rig. Wie kan hulle blameer? Dit is natuurlik baie meer pret vir kinders om buite te speel, vriende te besoek en hul stokperdjies te beoefen as om ure lank agter handboeke in ’n klaskamer te spandeer – en nog ’n paar om huiswerk te doen en te leer wanneer hulle by die huis kom. Gelukkig het ons ’n paar idees wat hulle sal help om weer met hul akademiese roetine gemaklik te raak.


In hierdie artikel bespreek ons die volgende terug skool toe wenke:


1. Vat dit rustig, een dag op ’n slag.

2. Kuier met vriende.

3. Kom in ’n roetine.

4. Beplan vooruit met ’n persoonlike kalender.

5. Wees vriendelik met onderwysers.


1. Vat dit rustig, een dag op ’n slag.

Klasse, huiswerkopdragte en ander verpligtinge met betrekking tot skool kan baie vinnig oorweldigend raak. Alhoewel dit beslis ’n goeie idee is om voorbereid te wees vir jou klasse en om vanaf dag een te begin werk, moet jy nie jouself daaroor uit-stres nie. Die eerste paar dae is altyd ietwat ongeorganiseerd. Dit is redelik normaal – selfs onderwysers vind hul pad terug na hul normale roetines. Moenie jouself in die diep kant ingooi van die eerste dag af nie. Abraham Lincoln het eenkeer gesê: “Die beste aspek van die toekoms is dat dit een dag op ’n slag kom.” Om teen jou eie tempo te werk is noodsaaklik as jy hierdie akademiese wedloop wil wen. Jy wil nie gedurende die eerste week uitbrand nie. As jy van vanaf amper geen stress na hoë ladings spanning in so ’n kort tydjie gaan laat jy nie jou liggaam toe om aan te pas by die swaar werklading nie. Jou immuunstelsel kan verswak en jy staan ’n kans om siek te word. Jy sal nie behoorlik kan funksioneer nie en sal sekerlik agter raak, wat verder tot jou stres vir die res van die skoolkwartaal sal bydra.

2. Kuier met vriende.

Die kans is groot dat jy gedurende die vakansie gereeld tyd saam met jou vriende spandeer het. Miskien het jy die tyd geneem om vriende van ander skole wat jy nie gereeld sien nie te besoek of dalk het jy ’n paar nuwe vriende hierdie vakansie gemaak. Neem die tyd om weer in te skakel by almal wat jy nie tydens jou breek gesien het nie. Hulle sal jou graag wil sien. As jy bekende gesigte by die skool sien sal jou brein outomaties die verbinding maak dat jy hier by die skool is om te leer en hull is ook hier vir dieselfde rede. Onthou, hulle gaan deur dieselfde emosies van onsekerheid en opsien om terug te wees. Ten minste is dit iets wat julle reeds in gemeen het! Vertel hulle van jou vakansie en vra hulle uit oor hulle vakansie. Om op ’n goeie voet met jou klasmaats te wees, is nooit ’n slegte ding nie. Jy moet dalk later in die kwartaal vir hulle ’n guns vra. Dit gee jou ook die geleentheid om ’n studie-vriend te vind. Goeie vriende sal nie net jou sosiale lewe bevoordeel nie, maar kan ook help om jou punte te verbeter. Soek mense wat hardwerkend is. Jy hoef nie die slimste persoon in die klaskamer uit te soek nie. Net iemand wat toegewyd en aangenaam is om mee te wees. Dinge sal een of ander tyd moeilik raak en dit sal beslis help om iemand by jou te hê wat dieselfde uitdagings as jy in die oë staar. Hulle sal die ondersteuning netsoveel benodig. Dis immers waarvoor vriende daar is.

3. Kom in ’n roetine.

Tydens die vakansie is roetine nie ’n prioriteit vir die meeste mense nie. Kinders hou daarvan om ’n bietjie later te slaap en gaan ook bed toe lank na hul gewone slaaptyd. Byna alles word ontwrig... Eetgewoontes, oefenskedules en meer. Om in ’n roetine te kom sal onmiddellik help as jy weer probeer om aan jou klasskedules en buitemuurse aktiwiteite te voldoen. Stel jou wekker elke dag om jou op ’n spesifieke tyd wakker te maak en ook wanneer jy jou gereed moet kry vir die bed. Kom in die gewoonte om jou maaltye te beplan en gereeld te eet. Dit sal ook beslis help om jou skooltas te pak en jou klere die vorige aand gereed te kry. Jy wil nie die oggend betyds wakker word en steeds laat wees vir skool omdat jy niks kon opspoor nie.

4. Beplan vooruit met ’n persoonlike kalender.

Saam met ’n roetine, sal dit help as jy jou dag, week en maand beplan. Dit sal jou help om tred te hou met jou roetine en jou tyd beter te bestuur. Ons het ’n volledige artikel getiteld ‘Vier wenke wat jou sal help om ’n skedule vir ’n suksesvolle skooljaar op te stel’ wat jou sal help om ’n skedule op te stel wat jou behoeftes sal pas. Onthou almal is anders.

Wenk: As jy sien dat ’n wiskunde toets opkom in ’n stylvolle daaglikse beplanner sal dit beslis minder vervelig voel. Jy sal meer positief voel as alles georganiseerd en netjies is. Moet net nie meer ure spandeer om die bladsye van jou beplanner te versier in plaas van om werklik jou opdragte af te handel nie.

5. Wees vriendelik met onderwysers.

Elke kind het ’n gunsteling onderwyser. Jy gee jou bes in hul klas; jy is altyd betyds en jou huiswerk word altyd na die beste van jou vermoëns voltooi. Jy hou van sommige onderwysers meer as ander, en ongelukkig is daar ook een of twee onderwysers wat vir jou opdraande gee, selfs al het jy niks verkeerd gedoen nie. Onderwysers beïnvloed jou toewyding teenoor hul vakke asook die punte wat jy verdien. Jy is net ’n mens. Jou emosies kom soms in die pad en jy dink nie altyd duidelik nie. Jy moet nie toelaat dat jou prestasie en toewyding soveel beïnvloed word deur die persoonlikheid van ’n onderwyser nie. Dit help nie dat jy ’n onderskeiding in een vak kry en die res druip nie. Dit beteken dat jy nie jou gedagtes op alle belangrike gebiede sal ontwikkel nie en ongelukkig baie dinge sal misloop. Onthou dat onderwysers ook deur persoonlike kwessies gaan. As hulle ’n slegte dag het, moet jy dit net afskud. Moenie toelaat dat ander kinders jou beïnvloed om te dink dat hulle die moeilikste mense ooit is nie. Handhaaf ’n vriendelike en professionele onderwyser-student verhouding. Wees vriendelik en hoflik teenoor elke onderwyser. Nie net is dit goeie maniere om respek vir hul te toon nie, maar hulle is daar om jou te leer. Onderwys is kosbaar. Onderwysers sal meer geneig wees om jou te help as jy met iets sukkel of eenvoudig vir jou ’n eksamenwenk gee as jy met hulle vriendelik is en hardwerkend is in hul klas. Hulle sal dit opmerk. Moet egter nie ’n witvoetjiesoeker wees nie. Hulle, sowel as ander studente, sal dit ook opmerk.


Ons vertrou dat hierdie wenke jou sal help om wee in die skool modus te kom. Laat weet ons of jy enige ander idees het om jou gereed te kry vir ’n goeie skooltermyn.


Maandag 09 Julie 2018

Die regte manier om met jou tiener te kommunikeer.

Maak tyd in jou dag om met jou tiener te gesels. Hulle sal meer gewillig wees om te praat, aangesien hulle op vakansie is.



Elkeen is uniek. Tieners is nie anders nie. Trouens, hulle is waarskynlik meer “uniek” in vergelyking met ander ouderdomsgroepe. Ek is seker soms het jy as ouer gevoel dat jy nie eers weet waar hulle vandaan gekom het nie. Hulle probeer vreemde haarstyle uit en het baie ongewone mode-keuses. Hulle kan oor-emosioneel wees of geen emosie toon nie. Hulle kan baie mededingend wees of kan nie omgee nie. Hulle daag gesag uit en tree op asof die hele wêreld om hulle draai. Vir sommige tieners kan puberteit en hoërskool die toonbeeld van hel op aarde wees. Ander hanteer dit met gemak en grasie - hulle voel tuis. Die rede hiervoor is dat hulle liggame gedurende hierdie tyd geweldige verandering ondergaan. Hul sintuie word verhoog. Hulle moet self begin dink, hul identiteit vind en hul eie onafhanklikheid vestig. Dit kan vir hulle baie oorweldigend wees, veral as dit gepaard gaan met al die spanning wat hulle het - van hul eie verwagtinge, eweknieë, liefdesbelange, skoolwerk en buitemuurse aktiwiteite. Die manier waarop tienermeisies ontwikkel, optree, dink en reageer sal ook baie verskil in vergelyking met tienerseuns. Verder kan jy elkeen in verskillende groepe en subgroepe kategoriseer. Daar is werklik nie ’n resep met maklike stappe vir sukses as dit kom by tieners nie. Al wat jy as ouer kan doen, is om hulle onvoorwaardelik lief te hê. Laat weet hulle dat jy daar is en hulle sal ondersteun op enige manier wat hul nodig het. Die sleutel is kommunikasie.

In hierdie artikel bespreek ons die volgende maniere waarop jy met jou tiener kan kommunikeer:

1. Bepaal ’n gepaste tyd en plek om te praat.

2. Kry iets te ete voordat julle praat.

3. Luister, moenie ’n lesing gee nie.

4. Toon belangstelling in hulle.

5. Wees bewus van hul gedrag.

6. Assesseer die omstandighede by jou huis.

7. Laat hulle toe om te ontwikkel in die persoon wat hulle bedoel is om te wees.

8. Wys dat jy hulle vertrou.

9. Kry jou emosies onder beheer.

10. Doen dinge gereeld saam.

11. Hou opvolggesprekke.



1. Bepaal ’n gepaste tyd en plek om te praat.

Wanneer jy ’n afspraak met jou tiener skeduleer, gee dit julle albei die nodige tyd om sielkundig voor te berei vir wat jy wil bespreek. Maak seker dat jy ’n tyd en datum kies wat julle albei pas. Maak seker dat voldoende tyd beskikbaar is. Jy wil nie ’n gesprek begin en dan in die middel daarvan ophou om ’n ander afspraak na te kom nie. Kies ’n plek wat bekend is en of aangenaam vir beide is. Die plek moet nie te luidrugtig wees of baie afleidings hê nie, maar dit moet ook nie steriel of angswekkend soos ’n ondervragingskamer voel nie. Verskillende moontlikhede kan die woonkamer, tuin of koffiewinkel insluit of selfs ’n wandeling in die park wees.

Wenk: Maak seker dat geen selfone teenwoordig is nie, insluitend joune.

2. Kry iets te ete voordat julle praat.

Moenie jou gesprek met die intrapslag begin nie. Kry eers iets om te eet. Onthou, jy is op ’n spesiale afspraak met jou kosbare seun of dogter. Tieners kan ongelooflik honger wees omdat hulle so vinnig groei - veral seuns. Wanneer hulle honger is, is hulle meer geïrriteerd en minder geneig om in die bui te wees vir enige gesprek. As hulle ’n lekker ete geniet, sal hulle ontspanne voel en hul bloedsuiker sal gestabiliseer word. Dit is noodsaaklik om ’n innemende gesprek met hulle te hê. Wanneer jy saam eet, dwing dit oogkontak, wat natuurlik tot informele gesprek sal lei. Dit is belangrik om gereeld maaltye met hulle te deel. Kinders wat met hul ouers oor die alledaagse dinge by ’n tafel kan praat, sal meer geneig wees om teenoor hul ouers oop te maak wanneer dit kom by moeilike onderwerpe. Vir meer besonderhede oor die belangrikheid van ’n maaltyd saam as ’n gesin, lees afdeling nommer sewe, getiteld ‘Niks bring mense saam soos goeie kos nie’ in ons blog artikel “Voorstelle hoe om vertroue, respek en ’n goeie verhouding met jou kind te bou”.

3. Luister, moenie ’n lesing gee nie.

Tieners kan baie selektief wees met wie hulle inligting deel en met wie hulle dit nie deel nie. Hulle kan vryelik oor die telefoon of per teksboodskap met hul vriende praat oor allerhande onderwerpe, maar as jy in die prentjie kom, is hulle dalk nie so vrymoedig nie. Dit kan wees dat hulle nie heeltemal gemaklik is om hul gedagtes met jou te deel nie. Dit word aanbeveel om hulle toe te laat om meer te praat. Luister net na wat hulle  te sê het. Thomas Edison het gesê: “Ons het egter twee ore en een mond sodat ons twee keer soveel kan luister as wat ons praat.” Wanneer hulle spontaan ’n gesprek met jou begin, sal hulle meer geneig wees om persoonlike besonderhede oor hulself te deel. As hulle gedruk voel om te praat, sal hulle waarskynlik nie ’n eerlike en oop gesprek met jou hê nie.

As jou kind nie dadelik oor persoonlike sake wil praat nie, moet jy dit respekteer. Begin die gesprek deur maklike vrae te vra, soos of hulle die ete geniet het. Vra hulle om jou te vertel van hul dag. Vertel hulle 'n bietjie oor joune. Om te veel direkte en persoonlike vrae te vra, kan hulle afskrik. Wanneer hulle oënskynlik informele kommentaar maak oor wat gedurende die dag gebeur het, kan dit hul manier wees om uit te reik. Gee noukeurig aandag. Laat hulle toe om uit vrye wil vir jou meer te vertel. Moenie iets uit hulle probeer trek nie.

Nadat julle oor dit-en-dat gepraat het, kan jy ’n kort lysie met punte opstel wat jy met hulle wil bespreek. As jy ’n lys van punte het, sal jy kan hou by wat jy wil bespreek en sodoende miskommunikasie vermy. Onthou, die geringste bietjie onopsetlike harde kritiek van jou kant af kan hulle heeltemal van stryk bring en hulle laat afsluit. Kies jou woorde en jou stemtoon sorgvuldig. Jy sal nie hul aandag hou as jy ure lank ‘n lesing gee nie. Wat erger is, jy sal nie uitvind hoe hulle oor dinge voel of dit sien nie. Gee hulle genoegsame tyd om elke punt te verwerk en ’n antwoord daarop te gee.

4. Toon belangstelling in hulle.

Jy het ’n gesprek met jou tiener, omdat jy vir hom/haar omgee. Wys hulle dat jy belangstel in hul welstand en geluk. Vra wat hul drome en doelwitte is. As hulle sport beoefen, vra wanneer hul volgende wedstryd is en of jy kan kom kyk. As hulle leer om ’n musiekinstrument te speel, vra dat hulle eendag voor jou optree. Ja, selfs al beteken dit dat jy deur ’n lawaaierige kitaar-sessie gaan sit en luister! Bied aan om hulle met hul skoolwerk te help as hulle enigsins hulp nodig het. As jy belangstelling in hul lewe toon sal hulle waarskynlik meer oor hulleself aan jou openbaar. Jy weet nooit. Jou groot rugbyster seun mag ’n ander kant aan hom hê. Miskien verras hy jou met ’n talent vir teken waarvan jy nie eens bewus was nie. Miskien het jou dogter nie onwettige dwelms vir jou weggesteek nie, net die roman wat sy in die geheim in haar vrye tyd geskryf het. Om te verstaan wat hul belangstellings en stokperdjies is, sal jou help om hulle ’n bietjie beter te verstaan.

5. Wees bewus van hul gedrag.

Tieners gaan deur baie veranderinge gedurende hierdie tydperk van hul lewens. Hul liggame verander. Hulle probeer hul eie identiteit vind en hul eie onafhanklikheid vestig. Hulle is nie meer die klein kindertjies wat hul ’n rukkie gelede was nie.

Moenie hul nuwe fisiese voorkoms kritiseer nie. Tieners kan baie selfbewus wees. Gee hulle die geleentheid om in hul liggame in te groei. Hulle het nog nie aangepas nie. Hulle moet hul regte postuur vind. Jou seun se stem is nou dié van ’n man. Hy sal met nuwe maniere eksperimenteer om met sy dieper stem te praat. As dit ’n bietjie vreemd klink moet jy hom nie ongemaklik laat voel nie. Tieners sal vir die eerste keer verlief raak en nie presies weet wat om te doen met hierdie gevoelens nie. Hulle kan tydelik sekere vreemde gewoontes ontwikkel. Dit is natuurlik. Hulle sal uiteindelik dit ontgroei en gemaklik raak met wie hulle is. Al wat jy kan doen as ouer is om daar te wees vir hulle en hulle liefde en ondersteuning te gee. Maak seker dat hulle gesond is en ’n gebalanseerde leefstyl handhaaf. Praat met hulle oor sommige van hierdie veranderinge en laat hulle weet dat alles op die ou end in orde sal wees.

As jy egter vind dat hul gedrag verkeerdelik verander tot die punt dat jy besorg word oor hul gesondheid en veiligheid, word dit aangeraai om op te tree. As jy sien dat hul energievlakke, eet- en slaappatrone, buie en motivering drasties verander – soveel so dat dit aan abnormaliteit grens, moet jy die delikate kwessie met hul bespreek. Spreek jou bekommernis aan met liefde. Moenie veroordelend wees nie. Kry hul toestemming om hul na ’n mediese spesialis of sielkundige te neem.

6. Assesseer die omstandighede by jou huis.

Baie ouers probeer om die gevoelens van tieners as gering af te maak, omdat hulle glo dat tieners in ’n “veilige” omgewing woon en nie vreeslik baie van die “regte wêreld” ken nie. Dit wil sê om rekeninge en belasting te betaal, hul eie besigheid te hê of werkspanning te ervaar, self kinders groot te maak en ’n huishouding te bestuur. Ja, die dood van ’n bekende persoon sal hulle waarskynlik meer raak as wat dit jou sal beïnvloed. Ja, hulle gee meer om oor die vrystelling van die nuutste iPhone as wat nodig is. Ja, ’n vriend wat hulle nie by ’n partytjie groet nie sal soos ’n dolk in hul hart voel. Ja, teen volgende week het hulle alles daaraan vergeet...

Die waarheid is dat selfs al verstaan tieners nog nie die hele wêreld nie, bestaan hul hele wêreld uit jou, hul huis, hul familie, hul omgewing, hul skool en hul vriende. As daar iets verkeerd is, voel hulle dit beslis aan. Die lewe van ’n moderne tiener is ver van “veilig”. Hulle hanteer baie druk vanuit hierdie “veilige” gemeenskappe. Daarom moet jy die omstandighede by jou huis en omgewing beoordeel. Ongelukkig skei sommige ouers. Een ouer verloor hul werk of moet in ’n ander land gaan werk. Miskien het ’n broer of suster onverwags ’n buitengewone gesondheidstoestand opgedoen.

As veranderinge plaasvind wat hulle kan ontwrig, moet jy ’n punt maak om daaroor te praat. Wees deursigtig en laat weet hulle dat hierdie onsekerhede jou ook raak en dat julle dit saam ervaar. Julle sal dit oorkom. Vra hulle uit hoe hulle daaroor voel en hoe hulle dit hanteer. Sommige kinders is baie sterker as ander. Kwessies wat jy dalk nie van bewus was nie, kan ook na vore kom wanneer jy die lewensomstandighede met hulle bespreek. As daar iets by jou huis is wat jou kinders kan laat stres moet jy probeer om dit aan te spreek of ’n plan beraam om dit te verbeter. So sal julle ’n sterk en blywende verhouding bou. Jy wil hê jou kinders moet jou huis besoek nadat hulle die skool verlaat het en ’n werk gekry het.

7. Laat hulle toe om te ontwikkel in die persoon wat hulle bedoel is om te wees.

Die beste manier om jou kind te leer ken is wanneer hulle gemaklik genoeg is om hulself in jou teenwoordigheid te wees. Daar moet natuurlik ouer-kind-grense wees, maar jy sal nie ’n goeie verhouding met hulle hê as hulle jou vrees of bang is dat hulle jou teleurstel nie. As ouer moet jy leiding en ondersteuning bied, maar jy moet hulle die vryheid gee om dinge vir hulself te ondersoek en uit te vind. Laat hulle toe om foute te maak en deur hul foute te leer. Laat hulle toe om te groei in hul eie mens, nie jou weergawe van hulle nie. Byvoorbeeld, jy wil dalk hê jou seun moet die familiebesigheid eendag oorneem, maar hy sal ’n baie beter sagteware-ontwikkelaar wees as ’n prokureur. Laat hom toe om sy drome te volg. Jy het jou beurt gehad. Jou kinders sal slegs suksesvolle en gelukkige volwassenes wees as hulle weet wie hulle is en wat hul sterk en swak punte is. Prys hulle vir hul talente en uniekheid.

8. Wys dat jy hulle vertrou.

Om groot te word gaan alles oor leer en eksperimentering. Tieners wil onafhanklik wees. Hulle wil hul eie besluite neem. Hulle wil hul eie vermoëns toets. Hulle wil jou wys dat hulle in staat is om hulself te versorg. As ouer moet jy jou kinders toelaat om verantwoordelikheid te aanvaar. Dit kan iets klein wees soos om jonger broers en susters te versorg, aandete te kook of die grasperk te sny. Dit kan ook iets groter wees soos om na ’n partytjie te gaan of om te leer hoe om ’n motor te bestuur. Dit is gesond vir hulle. Soms is die tydsberekening net perfek vir hulle; ander kere sal hulle misluk. Ongelukkig is dit die lewe. Deur jou kinders aan te moedig om verskillende dinge te probeer, sal jy hul vertroue wen. Dit wys dat jy vertroue in hulle het. Dit sal hul selfvertroue versterk. Stel hulle in kennis van wat jy van hulle verwag en stel reëls en grense voordat jy hulle vry laat loop.

9. Kry jou emosies onder beheer.

Dinge kan vinnig hand uitruk as jy probeer om te redeneer met ’n emosionele tiener met ’n warm humeur. Onthou, jy is die ouer en hulle is die kind. Jy het tyd gehad om te leer hoe om jou emosies te beheer. Hulle het nie. Moenie jou humeur verloor wanneer hulle so aangaan nie. Dit is ongelooflik maklik om dinge te sê wat julle later sal betreur as julle ontsteld is en nie helder dink nie. Neem ’n breek as die gesprek in ’n warm argument ontaard. Jy is lief vir jou kinders – daarom wil jy ’n verhouding wat ’n leeftyd kan duur met hulle hê. Moenie probeer om alles op een dag op te los nie. Gee hulle tyd om alles te verwerk wat jy nou net gesê het. Jy moet ook.

10. Doen dinge gereeld saam.

Dit is belangrik dat jy en jou kind van tyd tot tyd diep gesprekke voer, maar dit beteken nie dat julle daar moet stop nie. Julle moet gereeld kommunikeer. Praat oor dinge wat nie te persoonlik is nie. Die maklikste manier om dit te doen is as julle dinge saam doen. Dit kan kook, films kyk, speletjies speel of stap insluit. Deur ’n band te bou met jou kind wen jy hul vertroue. As jy gemeenskaplike belangstellings deel, bespreek ’n moontlike projek wat die twee van julle saam in die toekoms kan aanpak. Jy moet ook oop wees om nuwe dinge te leer. Probeer om jou tiener in jou wêreld te betrek en betrokke te raak by sy/haar lewe.

11. Hou opvolggesprekke.

Julle kan nie net een diep gesprek hê en verwag dat die hele wêreld sal verander nie. Verandering neem tyd. Jy moet hulle tyd gee om na te dink oor die dinge wat jy gesê het. Jy moet ook reflekteer op dit wat hul gesê het. Skeduleer ’n ander tyd en datum met jou tiener om die vorige sessie op te volg. As jou eerste benadering gewerk het, kan jy probeer om weer dit op dieselfde manier te doen. As dit nie gewerk het nie, kies ’n ander benadering. Jy kan ’n nuwe plek uitprobeer of toelaat dat hulle hierdie keer kies. As jy jou volgende gesprek het, maak seker dat jy vir hom/haar terugvoering gee oor hul prestasie of gedrag. Prys hulle vir die dinge wat jy sien hulle aan gewerk het om te verbeter. Laat hulle toe om aan jou ook terugvoering te gee.



Ons hoop dat hierdie wenke jou sal help om die kommunikasie tussen jou en jou tienerkind te verbeter. Laat weet ons of jy enige ander tegnieke het wat jou gehelp het om beter verhoudings met hom/haar te bou.


Maandag 02 Julie 2018

Voorstelle hoe om vertroue, respek en ’n goeie verhouding met jou kind te bou.

Gedurende die skoolvakansie is alles gewoonlik rustiger. Dit is nou ’n goeie geleentheid om kwaliteit-tyd saam met jou kinders te spandeer.





Al het jy die mense naaste aan jou lief met jou hele hart, kan verhoudings met hulle harde werk wees. Soms spandeer mens nie genoeg tyd saam met mekaar nie, want daar is eenvoudig nie ’n sekonde vry nie. Aan die ander kant kan jy ’n hele dag in iemand se teenwoordigheid deurbring en so besig wees met alles anders dat teen die einde van die dag het julle nie ’n enkele konstruktiewe gesprek met mekaar gehad het nie. Jy werk, jy moet vergaderings bywoon, jy moet jou kinders betyds by die skool aflaai, want hulle skryf eksamens... Jy moet ook op daardie loopband kom - iets wat jy vir te lankal uitstel. Jy moet kruideniersware gedurende die dag gaan koop en besluit wat om vir aandete te maak...

Klink dit bekend? Natuurlik!
Om eerlik te wees, dit is die norm in elke moderne huishouding. Daar is niks verkeerd om besig te wees nie. Ongelukkig is dit ongesond wanneer hierdie dade belangriker word as die mense. Wanneer familieverhoudings afgeskeep word is dit gewoonlik die kinders wat die meeste uitgesluit voel. Jy mag dalk nie dadelik besef hoe dit hul raak nie, aangesien hulle vriende het en aan buitemuurse aktiwiteite deelneem, maar die krake sal uiteindelik vertoon. Ongelukkig kan dit ook hul skoolprestasie beïnvloed.

Kinders soek jou aandag, liefde en respek. Daarom is dit belangrik om met hulle te praat en hulle in te lig dat jy in hierdie tye omgee vir hulle. Gelukkig het die lewe sy siklusse en dinge sal nie elke dag so dol wees nie. Daar is geen beter tyd as om gedurende die skoolvakansie ’n bietjie kwaliteit tyd saam met jou kinders te spandeer nie. Hulle sal minder gestres en meer geneig wees om openlik met jou te praat.


In hierdie artikel bespreek ons 10 maniere hoe jy met jou kinders kan inskakel: 


1. Sê vir hulle hoe lief jy hulle het.

2. Verstaan waar jy in jou verhouding met hulle is.

3. Luister aandagtig en praat slegs wanneer daar met jou gepraat word.

4. Verstaan waarvan jou kinders hou.

5. Maak hul drome jou eie.

6. Beplan ’n spesiale dag vir jou kinders.

7. Niks bring mense saam soos goeie kos nie.

8. Hou ’n speletjie dag/nag met jou gesin.

9. Ontmoet hul vriende.

10. Vind jou innerlike kind.



1. Sê vir hulle hoe lief jy hulle het.


‘Ek is lief vir jou.’ Hierdie 5 eenvoudige woorde is voor die hand liggend, maar waarskynlik die belangrikste woorde wat enige ouer vir hul kind kan sê. Om jou kinders te vertel in woorde dat jy lief is vir hulle, is ’n mondelinge bevestiging dat jy omgee. Kinders wat geliefd voel deur hul ouers sal ’n sterk en blywende verhouding met hulle hê, omdat hul veilig voel in hul teenwoordigheid. Dit is baie belangrik aangesien hul toeganklik en tegemoetkomend sal wees oor die dinge wat goed of nie so goed in hul lewens is nie. Kinders wat ’n hegte band met hul ouers het sal vir hul vertel wanneer hul geboelie word of in gevaar is. Dit is noodsaaklik om jou kinders se vertroue te wen en hulle te laat weet dat jy daar is vir hulle. Onvoorwaardelike liefde vanaf ’n ouer beïnvloed ook kinders se vertroue, selfbeeld, gesondheid en algehele gelukkigheid. ’n Studie wat uitgevoer isdeur die Duke Universiteit Mediese Skool op 500 mense oor ’n tydperk van 30+ jaar, het bevind dat wanneer ma’s liefkosing aan hul kinders bewys het tydens kindsheid, het hulle volwassenes geword wat gelukkiger, minder angstig en minder geneig was om psigosomatiese simptome te vertoon. Die navorsers het tot die gevolgtrekking gekom dat oksitosien, ’n chemiese stof wat deur die brein afgeskei word gedurende oomblikke van nabyheid tussen ouer en kind, verantwoordelik is vir die positiewe effekte. As gevolg hiervan word dit nie net aangeraai om jou kinders te vertel dat jy hulle liefhet nie, maar om dit regtig te wys.


2. Verstaan waar jy in jou verhouding met hulle is.


Om ’n goeie verhouding met jou kinders te hê, moet jy ’n tree terugstaan en analiseer waar jul huidiglik is. Geniet julle dit om gereeld kwaliteit tyd saam te spandeer? Neem jul deel aan prettige aktiwiteite en het jy sinvolle gesprekke? Sien jul skaars mekaar en praat slegs af en toe? Verander hulle gedrag as hulle rondom jou is? Daar is baie bepalende faktore (soos hul ouderdom, huishoudelike reëling, jou werkskedule, persoonlikhede, gemeenskaplike belange ens.) wat die tipe verhouding en die band wat jy en jou kinders het beïnvloed. Dit hang ook van kind tot kind af. Soms kan kinders en tieners moeilik wees om te verstaan. Sommige mag afsydig wees ongeag wat jy doen. Moenie hul te hard druk wanneer hulle nie dadelik oopmaak teenoor jou nie. Jy moet nooit opgee op hulle nie. Lig hulle in dat jy daar is en lief is vir hulle. Hulle sal vir jou raad vra as hulle dit nodig het. As hulle nie goeie gedrag toon nie, moet jy hulle gerus stel dat jy hulle dissiplineer omdat jy hulle liefhet. Julle sal albei deurkom. Wees deursigtig oor jou optrede en maak jou hart oop teenoor hulle. Vra hulle wat jy reg doen en wat jy verkeerd doen. Maak die doelstelling om ’n paar veranderinge aan te bring indien dit nodig is. Hulle sal uiteindelik net so teenoor jou optree.



3. Luister aandagtig en praat slegs wanneer daar met jou gepraat word.


Vir sommige kinders is dit moontlik ’n groot tree om te neem om te vertel hoe hulle werklik voel. Dit is nie omdat hulle jou nie vertrou nie. Dit kan eenvoudig wees omdat hulle nog onseker is oor hul eie gedagtes en gevoelens. Elke persoon is uniek en daarom is elke verhouding uniek. Sodra jy dink jy verstaan iemand, verstaan jy niks van hulle af nie. Die rede hiervoor is omdat almal verander. Jy behoort te weet. Jy is nie dieselfde persoon nou as wanneer jy hul ouderdom was nie. Dieselfde geld as toe jy universiteit toe gegaan het; getrou het of tydens hul geboorte. Jy groei as ’n persoon met die verloop van tyd. Kinders verander veral. Hulle transformer letterlik reg voor jou oë. Hulle verander nie net fisies nie, maar ook verstandelik. Soms kan hierdie ervaringe ongemaklik wees. Nietemin. Hulle leer elke dag nuwe dinge en ervaar baie emosies soos hul deur die lewe gaan. Jy het alreeds deur baie groei prosesse gegaan en geleer hoe om die lewe te hanteer, maar onthou dat alles vir hulle nuut is.

Moedig hulle aan om jou te vertel van wat hulle in die klas geleer het. Jy kan selfs iets nuuts leer. Moedig hulle aan om grappe te vertel of hardop te sing. Vra vir hulle vrae. Wanneer hulle regtig met iemand oor hul gevoelens wil praat, herken hulle jou en hul huis as ’n veilige omgewing. Laat hulle toe om self te praat en te dink. Dikwels weet hulle reeds wat die volgende stappe is om ’n probleem op te los. Hulle moet net hul plan van aksie oorvertel. Hulle wil ook bevestiging hê dat jy agter hulle staan en hulle sal vang wanneer hulle val. Gebruik jou diskresie as ouer wanneer om in te gryp en wanneer om terug te staan. Foute kan ook goed wees, want hulle leer daaruit.

As jy sien dat hulle met jou wil praat, maak ’n spesiale afspraak met hulle. Neem ’n oomblik uit jou dag om te luister na wat hulle te sê het. Hulle sal dit waardeer. Onthou ook dat dit tyd neem om vertroue te wen en verhouding te bou. Julle sal waarskynlik meer as een samekoms nodig hê om hulle te help om dinge uit te sorteer. Jy moet nie net jou opinie of ’n ultimatum stel en wegloop nie - veral nie met rebelse tieners nie. Laat hulle toe om jou advies te hoor en tot hul eie gevolgtrekkings te kom. Sê vir hulle dat jy hulle ondersteun en trots is op hulle.


4. Verstaan waarvan jou kinders hou.


Elke kind is uniek. Dit beteken dat selfs al deel julle DNS, jul steeds baie van mekaar kan verskil - fisies, geestelik en/of emosioneel. Dit is jou verantwoordelikheid as ouer om uit te vind wat hulle gelukkig maak en interessant vind. Watter belange, standpunte en persoonlikheidseienskappe deel julle, en hoe verskil julle? Begin om ’n verhouding met hulle te bou deur gemeenskaplikhede en vind daarna jou weg na die gebiede wat vir jou onbekend is. Die maklikste manier om uit te vind hoe anders of dieselfde julle is, is om eenvoudig verskillende dinge saam uit te probeer. Maak jou kinders se oë oop om die wêreld te sien. Help hulle om nuwe dinge te ondersoek en te ontdek. Besoek plekke en woon aktiwiteite by. Let op waarvan hulle hou en waarvan hulle nie hou nie. Doen iets saam wat buite beide se gemaksones is. Dit sal jou kind wys dat jy oop is vir nuwe dinge.

Nog ’n goeie manier hoe jy hulle kan help om dinge te ontdek waarvan hul moontlik kan hou en in belangstel is om saam te lees oor ’n aantal verskillende onderwerpe. Lees slaaptydstories, die nuus, geskiedenisboeke, ens. Dit is die veiligste en goedkoopste manier om met jou gedagtes te “reis”. Bespreek die dinge wat jul gelees het na die tyd.

Dit is belangrik om jou kind onvoorwaardelik lief te hê, selfs as julle nie altyd dieselfde dink of mekaar verstaan nie. Laat weet hulle dat jy omgee oor die dinge wat hulle gelukkig maak, want as hulle gelukkig is, is jy ook.

  

5. Maak hul drome jou eie.


“Baie van ons drome lyk aanvanklik onmoontlik, dan lyk dit onwaarskynlik, en dan, wanneer ons die wilskrag bymekaar skep, word hulle gou onvermydelik.” ~ Christopher Reeve. Drome is kosbaar. Dit is belangrik dat kinders toegelaat word om dinge te droom wat groter as ons almal is. Die drome wat gevorm word in ’n jong kind se gedagtes, kan ontwikkel in ’n kragtige begeerte om ons almal se lewens te verbeter. Drome beïnvloed ons gedagtes, die toerusting wat ons gebruik, die argitektuur wat ons bou en uiteindelik die manier waarop ons, ons wêreld vorm. As ouer moet jy jou kinders altyd aanmoedig om hul verbeelding te gebruik; om fantastiese dinge te droom en nooit hul entoesiasme vir die ontdekking van nuwe dinge te verloor nie. Dit is eerder aanbeveel om jou kinders te vra watter verskil hulle in die wêreld wil maak of watter probleem hul wil oplos, as om te vra watter beroep wil hul beoefen wanneer hul groot is. Kinders se gedagtes sal nie uitbrei as hul ingeperk word en net leer en dink op ’n sekere manier soos wat van hul verwag word nie.

Minder as 60 jaar gelede sou dit na ’n onmoontlike beroep gelyk het om ’n ruimtevaarder te word. Gelukkig het dromers ’n begin gemaak om in die ruimte in te gaan. Met ongelooflike harde werk en navorsing in sterrekunde, fisika, aërodinamika, ingenieurswese en rekenaarvelde het hulle daardie droom verwesenlik. Op 12 April 1961 het die Russiese ruimtevaarder Yuri Gagarin die eerste mens geword om in die ruimte te reis. Die les wat hieruit geleer kan word is dat dit belangrik is om jou kind te verstaan. Ondersteun hulle in alles wat hulle doen, maak nie saak hoe absurd dit nou klink nie. Hulle mag dalk net die onmoontlike oorkom! Jy hoef nie al jou geld, tyd en energie op hul “buitensporige” projekte te spandeer nie, maar dit sal goed genoeg wees vir hulle om te weet dat jy hulle ondersteun. Koop vir hulle ’n paar boeke oor ’n spesifieke onderwerp wat hulle fassineer. Probeer om ’n tutor of afrigter te vind om hulle te help om op die regte spoor te kom.


6. Beplan ’n spesiale dag vir jou kinders.


Daar is niks meer pret en belonend as om ’n dag saam met jou kinders te spandeer nie. Ons weet, dit is nie altyd moontlik met ’n veeleisende werkskedule nie, maar elke nou en dan moet jy ’n tyd en datum saam met hulle skeduleer. Die kanse is groot dat julle albei ’n ruskans nodig het en weer in verbintenis met mekaar tree. Vra hulle vooraf waarheen hulle wil gaan. As jy hulle goed ken kan jy hulle verras. Maak seker dat hulle ’n bietjie vrye tyd het. Die dag en aktiwiteit sal geheel en al afhang van jou en jou kind. Dit kan so avontuurlustig of ontspannend wees as wat julle wil hê dit moet wees. Jy het 'n groot verskeidenheid opsies om van te kies in ons blog artikel “18 Interessante plekke vir Suid-Afrikaanse leerders omgedurende die skoolvakansies te besoek”. 


7. Niks bring mense saam soos goeie kos nie.


Daar is beslis baie waarheid in die gesegde: “Goeie kos bring mense saam”. Almal moet eet, so hoekom maak jy nie iets spesiaals daarvan nie? Almal kan in die kombuis help. Om saam ’n lekker ete te maak is baie pret. Die geure, aromas en teksture van kos en speserye kan baie terapeuties wees. Almal sal begin om te ontspan en mekaar se teenwoordigheid te geniet. Geniet jou maaltyd by die etenstafel - nie voor die televisie nie. Om aan tafel te sit moedig oogkontak aan, wat tot geselskap lei. Vra jou kinders hoe hulle dag was en vertel vir hulle van joune. Bespreek verskillende onderwerpe. Sjef John Besh het dit die beste gestel: “Terwyl ek grootgeword het, het ek die belangrike lesse van die lewe aan die etenstafel geleer”.


8. Hou ’n speletjie dag/nag met jou gesin.


Almal hou van ’n lekker speletjie. Speletjies is ’n uitstekende keuse om die verhouding met jou kinders te begin bou. Speletjies moet lighartig en speels wees en ook stres verlig. Wanneer jy met jou kinders speletjies speel, sal jy meer oor hul persoonlikhede leer. Speletjies gee jou ook die geleentheid om nuwe dinge aan jou kinders te leer, insluitende waardevolle lewenslesse. Kompetisie is goed - die hele doel van speletjies is om die spelers aan te moedig om hul bes te doen, maar probeer om afbrekende wedywering tot ’n minimum te beperk - veral tussen broers en susters.

Idees vir speletjies sluit in:
  • Bordspeletjies soos Skaak, Monopolie, 30 Sekondes, Skrabbel, ens.
  • Kaartspeletjies soos Uno
  • Wegkruipertjie
  • Balspeletjies soos sokker, rugby, krieket, hokkie, netbal, basketbal ens.
  • Stoei
  • Verbeeldingryke speletjies
  • Kussinggevegte

  

9. Ontmoet hul vriende.


Om jou kind se vriende te ontmoet kan ’n goeie manier wees om meer oor jou eie kind te leer. Elke kind moet ten minste een vriend hê en probeer om meer vriende te maak. As ouer word jy aangemoedig om belangstelling in hul vriende te toon. Vriendskappe help jou eie kind om meer te leer oor verhoudings en ander mense. Laat jou kind weet dat sy of haar vriende welkom is in jou huis. Hersien ’n paar “huisreëls” vooraf. Maak dit bekend aan jou kind, die vriend en sy of haar ouer/voog dat jy teenwoordig sal wees. Maak dit ’n aangename ervaring vir jou kind se vriende. Almal moet kwaliteit tyd saam spandeer. Jy kan ook besluit om jou kind en hul vriende (met toestemming van hul ouers) na ’n prettige aktiwiteit te neem, soos om ’n fliek te kyk of ’n roomys te eet. Jy sal gou uitvind wat hul gemene belangstellings is en waarom hulle vriende is. Deur uit te reik na jou kinders se vriende sal hulle besef dat jy omgee vir hulle.
  

10. Ontdek jou innerlike kind.


Die beste manier om jou kind te verstaan is om terug te dink na die tyd toe jy jonk was. Onthou wat dit vir jou beteken het om op te kyk na die sterre; wat dit beteken het om in verwondering rond te wandel in die dieretuin; hoe dit gevoel het om so vinnig as moontlik by die straat af te hardloop; wat dit beteken het om jou eerste goue medalje te wen... Jy was eenkeer presies waar hulle nou is. Sekerlik, die wêreld is nou effens anders in vergelyking met hoe dit dalk was, maar die kern van wat dit beteken om ’n kind te wees sal altyd dieselfde bly. Alle kinders is gevul met hoop en verwondering - soms selfs ’n bietjie onskuldige kattekwaad, maar hulle sal altyd dieselfde liefde en aanvaarding vanaf ’n ouer wil hê.
  
Leer jou kinders die belangrike lesse wat jy tot dusvêr geleer het. Bou die verhouding met jou kinders wat jy met jou ouers as kind gehad het of wou hê. Tyd vlieg ongelooflik vining verby. Moenie toelaat dat die lewe se onvoorspelbaarheid en eise inmeng met jou verhoudings op ’n manier wat julle vreemdelinge vir mekaar word nie. As dit gebeur sal hierdie wonderlike geleentheid om ’n fantastiese, betekenisvolle en blywende verhouding met jou kinders te hê jou verbygaan. Sodra jou verhoudings nie meer daar is nie, sal alles anders in elk geval nie meer saak maak nie. Neem hierdie vakansie om (weer) met hulle in te skakel en hulle beter te leer ken - selfs al sien jy hulle elke dag. Jy sal nie spyt wees nie.

Laat weet ons hoe jy kwaliteit tyd met jou kinders gaan spandeer.