Maandag 30 Julie 2018

4 Voordele van oefening en sportaktiwiteite op die brein.

Oefening is nie net voordelig vir jou fisiese gesondheid nie, maar ook vir jou verstandelike gesondheid.



Die onderwerp van ’n gesonde lewe is deesdae voortdurend in die kollig. Veral weens die feit dat ons leefwyse die afgelope paar jaar drasties verander het in vergelyking met die verlede. Ons beweeg teen ’n vinniger tempo in terme van basies alles. Ons is almal meer tegnologies ingesteld. Tegnologie bepaal die manier waarop ons kommunikeer, inligting deel, reis, strukture bou, kos produseer ens. Dit beïnvloed natuurlik mense se beroepe – wat toenemend meer veeleisend en stresvol word ten spyte van die vele verbeteringe wat wetenskap, tegnologie en mediese sorg bied.

Natuurlik beïnvloed die manier waarop ons moderne samelewings funksioneer kinders se opleiding. Baie van vandag se ouers het nie toegang gehad tot rekenaars en die internet toe hulle kinders was nie. Tans is dit nie buitengewoon dat kinders navorsing vir hul opdragte op tablette of selfone doen nie. Kinders spandeer ook baie ure aan huiswerk en om te leer. Dit is nie noodwendig negatief nie. Hulle is immers die mense wat eendag die vooruitgang en ontwikkeling van ons samelewings gaan voortsit. Ons samelewings wat teen sulke ongelooflike tempos ontwikkel, het egter nie noodwendig ons vinniger laat beweeg nie. Om die waarheid te sê, ons is liggaamlik minder beweeglik – ons stap minder as gevolg van vervoer, ons spandeer minder tyd aan harde arbeid as gevolg van masjinerie en minder tyd om kos te maak as gevolg van kitskosrestaurante. Selfs ons vermaak is die druk van ’n knoppie weg... Nie eers gepraat van die skadelike aspekte soos besoedeling wat jou gesondheid en mobiliteit kan beïnvloed nie.

As gevolg van hierdie verskuiwing in die manier waarop ons ons daaglikse lewens leef, is dit dus belangriker as ooit om ’n helder verstand en ’n gesonde liggaam te hê om tred te hou met die uitdagings wat ons elke dag ervaar. Van die beste maniere om fisiese gesondheid te verseker is deur oefening en sport te speel. Ek is seker dat jy daarvan bewus is. Soos Jim Rohn gesê het, “Sien om na jou liggaam. Dis die enigste plek waarin jy kan leef.” Deur te oefen bou jy sterker bene, spiere en gewrigte. Dit beheer jou gewig, bloeddruk en cholesterolvlakke. Dit verlaag ook die risiko van tipe 2 diabetes en hartaanvalle. Alhoewel sommige van hierdie probleme nog nie vir die meeste normale kinders ’n bekommernis is nie, is dit goed om kennis hiervan te neem. Wanneer kinders op ’n vroeë ouderdom goeie gewoontes vorm sal hulle die vrugte pluk wanneer hulle ouer is.

Daar is baie meer voordele om aktief te wees. Gereelde fisiese oefening kan jou brein, verstand en lewenstyl bevoordeel. In hierdie artikel bespreek ons die volgende wetenskaplik-beproefde voordele van fisiese oefening op die brein:


1. Neurobiologiese Voordele.

2. Kognitiewe Voordele.

3. Sielkundige Voordele.

4. Lewenstyl Kwaliteit en Prestasie Voordele.




1. Neurobiologiese Voordele.

Neurobiologie verwys na die biologiese studie van die brein se anatomie, fisiologie en senuweestelsel. Die brein is die mees komplekse orgaan van die menslike liggaam. Dit bestaan uit die serebrum (verdeel in twee hemisfere), breinstam, serebellum, komplekse organisering van grysstof en witstof en neurochemikalieë. Die brein prosesseer, koördineer en integreer inligting en beheer die meeste van die liggaam se funksies.

Oefening vergroot jou brein.

Die brein kan vergelyk word met ’n rekenaar. As jy oefen sit jy jou liggaam onder tydelike positiewe stres – wat jou brein dwing om harder te werk sodat jy hierdie take kan verrig. Oefening verander fisies jou brein deur ’n reeks chemiese prosesse. ’n Wetenskaplike navorsingstudie het tot die gevolgtrekking gekom dat volwassenes wat aan ’n aërobiese fiksheidsprogram oor ’n tydperk van 6 maande deelgeneem het, het ’n toename in grysstof en witstof van die brein ervaar. Dit is soos om die hardeware van jou rekenaar op te gradeer en sodoende dit te omskep in ’n groter en sterker masjien.

Oefening verhoog die geboortekoers van nuwe breinselle.

Neurogenese is die proses om nuwe breinselle te ontwikkel. ’n Onlangs geïdentifiseerde chemiese stof genaamd Brein-Afgeleide Neurotrofe Faktor (BANF)(“BDNF”) is verantwoordelik vir neurogenese. Volgens ’n Amerikaanse studie word daar geglo dat gereelde kort en intense aërobiese oefening BANF in die brein sal verhoog, terwyl kragoefeninge nie BANF-vlakke beïnvloed nie.

Oefening verhoog energie en verminder moegheid.

Ten spyte van baie wat glo dat oefening moegheid veroorsaak, is dit eintlik die teenoorgestelde. Navorsers van die Universiteit van Georgia het aan die lig gebring dat 20 tot 40 minute matige-intensiteit aërobiese oefening (soos fietsry) jou energievlakke kan herstel. Die impak van die verhoogde energievlakke word nie net fisies ervaar nie, maar dit laat jou ook minder geestelik “gedreineer” voel.



2. Kognitiewe Voordele.

Kognisie is die verstandelike aksie of proses om kennis en begrip te verkry deur middel van gedagtes, ervaring en sintuie. Jy pas “denke” toe aan al die take wat jy wil uitvoer. Sommige aksies neem meer moeite en breinkrag en ander gebeur min of meer outomaties. Die feit is dat jy jou kognitiewe vermoëns (soos konsentrasie, spoed en akkuraatheid) kan verbeter deur oefening!

Oefening verbeter konsentrasie.

Ons tegnologies-gedrewe wêreld plaas baie druk op ons gedagtes, soos ons in die inleiding van hierdie artikel bespreek het. Die ure wat ons daagliks agter rekenaars spandeer om werk en navorsing te doen kan verstandelik uitputtend wees. As ’n ontsnappingsmiddel maak ons gebruik van meer tegnologie – rekenaarspeletjies en televisie. Soms is daar soveel tegnologie rondom ons. Met sosiale media kennisgewings, boodskappe en inkomende e-posse dat dit moeilik raak om op een bepaalde ding te fokus. Dit gesê, tegnologie is nie ’n slegte ding as sulks nie. Dit verbeter ons lewens op baie maniere. Ons moet net maniere vind om dit goed te bestuur en nie toelaat dat dit ons aandag aflei en ons belemmer om gesonde, aktiewe lewens te leef nie.

Oefening is ’n goeie manier om jou gedagtes uit die weg te ruim van die konstante afleidings wat aan die gang is. Mense wat fisies fiks is het veel meer beheer oor hul konsentrasie as hulle deelneem aan ’n uitdagende kognitiewe taak. Die goeie nuus is dat oefening fokus kan nie net verbeter vir tieners en volwassenes nie, maar ook vir kinders. ’n Kort periode van intense aktiwiteit kan lees- en wiskundige vaardighede by kinders verbeter, soos blyk uit die ‘Effekte van die FITKids Willekeurig Gekontroleerde Proef op Uitvoerende Beheer en Brein Funksie’ studie. 

Die styging in AGHS (“ADHD”) by kinders gedurende die onlangse dekades is ook ’n weerspieëling van die samelewing se moeilikheid om te fokus. Alhoewel die voordele van oefening vir kinders nie nuut is nie, toon onlangse bevindings wat deur dr. Betsy Hoza, professor in sielkunde aan die Universiteit van Vermont, gedoen is dat kinders wat “in-skoolse oefening” as behandeling vir AGHS ontvang het verbeter het in hul kognitiewe funksionering.

Die volgende keer wanneer dit voel asof jou gedagtes dof is en jy nie jou konsentrasie kan behou nie, probeer om ’n fiksheid toepassing (“app”) of ’n oefenprogram af te laai en daardeur te gaan.

Oefening verbeter geheue.

Korttermyngeheue is die brein se vermoë om ’n klein hoeveelheid inligting te stoor wat binne ’n kort tydjie geredelik toeganklik is. Korttermyngeheue word dikwels beskou as sinoniem met werkgeheue, alhoewel werkgeheue meer akkuraat verwys na die raamwerk van prosesse wat gebruik word om die data wat in korttermyngeheue gestoor is, te verstaan, interpreteer en manipuleer. Voorbeelde van werkgeheue sluit in die herroeping van ’n reeks syfers (0 – 9), name of prente binne minder as 2 minute na blootstelling. Verskeie studies in die verlede het verskillende uitkomste aangaande die uitwerking van oefening op werkgeheue gelewer. Dit is egter algemeen aanvaar dat minder as 20 minute lae-intensiteit kardiovaskulêre oefening (soos loop, hardloop en fietsry) onmiddellike verbetering in visio-ruimtelike korttermyngeheue lewer, meer as verbale-oudio korttermyngeheue. Kardiovaskulêre oefening wat oor ’n langer tydperk gedoen word (40 minute van medium intensiteit oefening oor 6 maande minimum) toon meer verbetering aan verbale-oudio korttermyngeheue oor die langtermyn.

Wanneer korttermyngeheue behoue word na meer as 2 minute van die aanvanklike stimuli, word dit langtermyngeheue. Langtermyngeheue is die brein se vermoë om data onbepaald te stoor. Sulke herinneringe kan vir slegs ’n paar uur, ’n paar dae of selfs jare behoue bly, afhangende van hul krag. Voorbeelde van langtermyngeheue sluit in die herinnering van die besonderhede van ’n storie of prente wat 30 minute vroeër aangebied is. ’n Studie oor langtermyn-kardiovaskulêre oefening toon verbetering in langtermyngeheue, aangesien dit die agteruitgang van die hippokampus (wat verantwoordelik is vir die konsolidering van korttermyngeheue in langtermyngeheue) voorkom.

Oefening verhoog IK en verbeter akademiese prestasie.

Intelligensie kwosiënt (IK) is ’n telling wat afgelei is van gestandaardiseerde toetse wat ontwerp is om ’n persoon se intelligensie te assesseer - relatief tot die gemiddelde prestasie van ander mense van dieselfde ouderdom. Navorsing toon dat ’n mens se IK deur vaste genetiese faktore (veral die brein se struktuur) en veranderlike omgewingsfaktore (soos geboorte, voeding, fisiese- en geestelike gesondheid en opvoeding) beïnvloed word - ’n “natuur” en “versorging” verhouding, soos uiteengesit in die ‘Journal of Neurology & Stroke’, beskikbaar om te lees op ‘MedCrave’. Alhoewel daar nie veel is wat jy kan doen om jou genetiese samestelling te verander nie, is daar aansienlike bewyse wat daarop dui dat oefening jou IK kan verbeter. ’n Navorsingstudie wat data van 1 miljoen mans in Swede verkry het, het bevind dat kardiovaskulêre fiksheid geassosieer word met globale intelligensietellings. Hul logiese, verbale, visuospatiale en tegniese tellings het dieselfde vertoon. Jong mans wat hul kardiovaskulêre gesondheid verbeter het tussen die ouderdomme van 15 en 18, het ook hul IK verbeter.

Akademiese prestasie en fisiese fiksheid is nou verbind. Aërobiese oefening is die prominentste om beter fiksheid en akademiese resultate te lewer. Gereelde oefening is verantwoordelik om die groei van nuwe breinselle te stimuleer. Nuwe breinselle maak dit moontlik om nuwe inligting te stoor – wat noodsaaklik is vir leer. Lees punt nommer twee in ‘Neurobiologiese voordele’ van hierdie artikel vir meer oor hierdie proses.

Dit is noodsaaklik om kennis te neem dat die verband tussen IK en akademiese prestasie nie noodwendig ooreenstem nie. Sommige studente met ’n hoë IK bereik nie altyd sukses in die klaskamer nie. Die teenoorgestelde is ook waar. Sommige studente met ’n laer IK kan hoë akademiese sukses behaal. Wat wel beslis is, is dat beide IK en akademiese prestasie deur oefening verbeter kan word.



3. Sielkundige Voordele.

Die brein koördineer nie net die uitvoering van jou liggaamlike funksies en kognisie nie, maar is ook verantwoordelik vir jou sielkundige en geestelike toestande. Lewenservarings, gebeure en selfs aktiwiteite wat regdeur jou dag plaasvind beïnvloed die manier waarop jy dink en reageer in situasies en teenoor jou omgewing. Met ander woorde, jou gedagtes, emosies en persoonlikheid – alles wat jou uniek maak – is afhanklik van die brein. Soms gebeur dinge in jou lewe wat jou laat stres of ongemak en benoud maak en jou geestelik uitput. Oefening kan aangewend word om hierdie negatiewe geestestoestande positief te maak. Dit sal jou jou meer bestand maak en jou leer om hierdie situasies en gevoelens beter te hanteer.

Oefening verminder stres en angs.

Neurochemikalieë word in die brein vrygestel wanneer jy oefen. Dit sluit in endorfiene, dopamien en norepinefrien – wat verantwoordelik is vir kognisie, bewustheid en verbeterde bui. Benewens die “goedvoel” neurochemikalieë wat tydens oefening vrygestel word, verminder dit kortisol en adrenalien – die hormone wat geassosieer word met stres.

Oefening kan ook gebruik word as ’n tegniek om stres en angs te beheer, aangesien dit jou gedagtes van persoonlike-, werk-, finansiële- en ander stressors afneem. Gereelde oefening sal jou help om ’n positiewe houding te handhaaf – selfs as jy blootgestel word aan ’n stresvolle of traumatiese ervaring.

Oefening verbeter gemoed en gelukkigheid.

As gevolg van die chemikalieë wat in jou brein vrygestel word, sal jou gemoed amper onmiddellik verbeter nadat jy geoefen het. Terwyl “om in ’n goeie bui te wees” jou kanse sal verhoog “om ’n goeie dag te hê”, word gemoed as wisselvallig beskou en kan dit regdeur die dag verander. Gelukkigheid is iets wat meer blywend is. Byvoorbeeld, iemand kan per ongeluk in jou bots terwyl jy loop. Dit kan jou laat skrik en ’n bietjie ontstel omdat jy iets laat val het. Hierdie enkele gebeurtenis sal egter nie jou algehele geluk affekteer en jou depressief maak nie. Daarom is dit nie net raadsaam om te oefen ter wille van die handhawing van ’n positiewe bui nie, maar ook om langtermyn gelukkigheid te verseker.

’n Studie van Kanada se Nasionale Bevolkingsgesondheidsopname (NBGO)(“NPHS”) het getoon dat langtermyn fisiese aktiwiteit ’n sterk invloed op ’n persoon se geluk het. Die resultate was as volg:
  • Onaktiewe mense was twee keer so geneig om ongelukkig te word, in vergelyking met aktiewe mense.
  • Mense wat onaktief geword het, was meer geneig om ongelukkig te word.
  • Mense wat aktief geword het, was minder geneig om ongelukkig te word.


Oefening voorkom en beveg depressie.

Depressie is ’n toestand van lae gemoed wat ’n persoon se gedagtes en gedrag kan beïnvloed en afkerig tot aktiwiteit kan veroorsaak. ’n Depressiewe bui is dikwels ’n normale reaksie op negatiewe en traumatiese lewenservarings – soos die verlies van iemand naby aan daardie persoon, verwerping, siekte ens. Depressie word beskou as ’n siekte, of, meer gepas, ’n geestelike wanorde, sodra dit ’n paar weke duur met konsekwente simptome wat ontwrigting veroorsaak in ’n persoon se vermoë om normaal te funksioneer. Dit gaan gepaard met die verlies van belangstelling in aangename aktiwiteite en lae selfwaarde. Depressie kan veroorsaak word deur genetiese en/of omgewingsfaktore.

Depressie is ’n moeilike onderwerp om oor te praat. Alhoewel dit deur die Wêreldgesondheidsorganisasie beraam word om 350 miljoen mense te beïnvloed (en getalle neem steeds toe) kan baie steeds nie die werklike uitwerking van depressie begryp nie en het gemengde menings oor behandelingsmetodes. Meer gevalle van depressie word deur vroue gerapporteer, maar mans wat aan depressie ly is meer geneig om as gevolg van selfmoord te sterf. Wat kommerwekkend is, is dat dit nie net volwassenes raak nie, maar ook kinders en tieners. Depressie by kinders en tieners is dikwels meer aggressief en selfvernietigend. Selfmoord onder 15 tot 19 jariges is die derde hoofoorsaak van dood in die Westerse samelewings.

Soos ons reeds genoem het, is behandeling ’n baie omstrede onderwerp. Aangesien die meeste mense deesdae opsoek is na ’n maklike oplossing omdat hulle baie stresvolle, ongesonde en besige lewens leef. Hulle het nie die wil, energie of tyd om na hulself andersins om te sien nie en sal eerder ’n voorskrif vir medikasie kry vanaf ’n bedryf wat voordeel trek uit hul gewillige verbruikers. Dit gesê, depressie is ’n baie ernstige probleem en mediese behandeling van professionele persone moet altyd gesoek word. Die keersy is dat nie alle behandelings hoef in die vorm van ’n kapsule te kom nie. Daar is aansienlike bewyse wat daarop dui dat oefening net so effektief is om depressie te voorkom en te genees in vergelyking met ander alternatiewe.

Die woorde “voorkoming is beter as genesing” is uiters akkuraat. Selfs as jy merkwaardig herstel van ’n siekte, is die kans dat dit ’n vorm van ’n geestelike of fisiese letsel sal laat baie waarskynlik. Die grootste studie oor die voorkoming van depressive, gelei deur King’s College London en die Black Dog Institute in Australië, het getoon dat 20 minute daaglikse oefening die risiko met een derde kan verminder. Trouens, so min as een uur per week kan die moontlikheid van depressie aansienlik verminder (by mense van alle ouderdomme), maar met geen oefening word die moontlikheid met 44% verhoog.

Dit is interessant dat mense wat aan depressie ly verligting kan vind deur oefening, soos bewys deur die Universiteit van Kalifornië - Davis Gesondheidstelsel. Oefening herstel die vlakke van twee algemene neurotransmitters (metaboliese weë van chemikalieë wat verantwoordelik is vir die stuur van boodskappe in die brein), bekend as glutamaat en gamma-aminoboteriumsuur (GABS)(“GABA”). Wanneer hierdie uitgeput is lei dit tot depressie.




4. Lewenstyl Kwaliteit en Prestasie Voordele.

Oefening kan ander aspekte van jou lewe verbeter en jou toelaat om ten volle te leef.

Oefening verhoog produktiwiteit.

Almal wil dinge behoorlik en korrek doen in die minste moontlike hoeveelheid tyd. Hoekom? As jy meer kan bereik, het jy meer geleenthede om te groei en jouself te verbeter. Om produktief te wees, gee vir jou ’n gevoel van prestasie wat noodsaaklik is vir sukses.

’n Studie wat deur die Universiteit van Bristol gedoen is het die produktiwiteit van 200 individue in 3 verskillende organisasies gemeet. Hulle het bevind dat hul vlakke van produktiwiteit hoër was op dae van oefening en laer op dae van geen oefening nie. Oefensessie dae het die volgende positiewe resultate getoon:
  • 21% verbetering in konsentrasie.
  • 22% verbetering in die voltooiing van werk op tyd.
  • 25% verbetering in werk kontinuïteit.
  • 41% verbetering in motivering.

Oefening verhoog kreatiwiteit.

As jy aan die woord “kreatiwiteit” dink, is oefening of sport waarskynlik nie jou onmiddellike antwoord nie. Jy sal eerder kreatiwiteit aan die kunste toeskryf: teken, skilder, musiek, dans en skryf. Kreatiwiteit word ook benodig om konneksies te vind tussen oënskynlik onverwante data, om dinge op nuwe maniere aan te bied, sowel as om probleme uniek op te los. Dit maak kreatiwiteit ’n noodsaaklike vereiste vir sukses op verskeie gebiede – hetsy, tegnologie en uitvindings, argitektuur, kos, bemarking en besigheid. Ja, selfs professionele sport atlete wat kreatief kan dink tydens ’n wedstryd sal waarskynlik beter presteer as om net volgens die handboek se riglyne te speel.

Oefening, soos blyk uit ’n studie deur Stanford Universiteit, veral lae intensiteit oefening soos stap, kan die kognitiewe pogings wat in kreatiwiteit betrokke is, aansienlik verbeter. Hulle het bevind dat konvergente denke (die vermoë om oplossings te vind) verbeter het, sowel as divergente denke (die vermoë om nuwe en oorspronklike idees te vorm).

Oefening verbeter slaapsiklusse.

Om behoorlik te kan funksioneer moet jy elke aand ’n goeie hoeveelheid slaap inkry. Nie net help slaap jou liggaam om te herstel nie, maar ook meer belangrik jou verstand. Slaap reguleer ’n aantal funksies in die brein. Dit sluit onder meer in kommunikasie tussen neurone, die verbetering van geheue en kognisie en die verwydering van brein toksiene. Slaap is noodsaaklik vir die stabilisering van jou gemoed en energie vlakke. Dit speel dus ’n belangrike rol in jou produktiwiteit, kreatiwiteit en leervermoëns. ’n Versteuring in slaappatrone (soos ’n oormaat of ’n gebrek daaraan) kan baie negatiewe effekte hê op jou liggaam, gemoed en prestasie.

Kort periodes van hoë intensiteit oefeninge sal ’n positiewe effek op jou slaapsiklusse hê – insluitende verbetering in totale slaaptyd en met minder steurnisse.



Jy is uniek, neem deel aan iets wat by jou pas.

Iets om in ag te neem wanneer jy begin met oefening en/of ’n nuwe sport aanleer is dat elke kind uniek is. Die tipe oefening of sport, die duur van elke sessie en die aantal kere wat jy per week moet oefen sal afhang van: jou ouderdom, stadium van liggaamlike ontwikkeling, ander gesondheidsfaktore, belangstellings en voorkeure. Sommige kinders het ’n natuurlike sportaanleg. Ander moet nog die stamina, motoriese vaardighede en hand-oogkoördinasie ontwikkel om sekere aksies te verrig. Tog sal die meeste kinders waarskynlik nie die eerste keer dit reg kry nie. Jy hoef nie daaroor bekommerd te wees nie. Dit sal ’n bietjie oefening verg voordat jy die basiese vaardighede onder die knie het voordat jy werklike resultate sal sien. Oefening moet gesien word as ’n deurlopende proses.

Moenie bang wees vir oefening en sport nie.

Redes waarom sommige kinders oefening en sport vermy, is gewoonlik omdat hulle bang is om te misluk en geoordeel te word. Dit mag dalk in die verlede gebeur het en daarom verkies hulle om deelname op die sportveld te vermy. Hierdie ervaring het vir hul baie spanning veroorsaak en hul selfbeeld verlaag. As dit ooit met jou gebeur het, moet jy nie toelaat dat dit jou keer om weer te probeer en ’n gesonde lewenstyl te leef nie. Daar is ’n hele klomp lekker aktiwiteite wat jy sal misloop. Jy sal ook nie al die voordele ervaar wat oefening aan jou brein kan bied nie.

Begin met klein treetjies.

Kry ’n sport of tipe fisiese aktiwiteit waarvan jy hou. Besluit op aktiwiteite wat jou persoonlikheid en vermoëns weerspieël. Besluit tussen ’n individuele of spansport. As jy byvoorbeeld nie van groepaktiwiteite hou nie, vra jouself af waarom? Is jy teruggetrokke met alle groepverwante aktiwiteite of net wanneer dit by sport kom? Is dit bloot omdat jy daarvan hou om dinge op jou eie te doen? Jy kan besluit hoeveel fisiese kontak en kompetisie jy wil hê – of nie wil hê nie. Maak egter jouself ontvanklik vir die moontlikheid dat ten spyte van ’n negatiewe ervaring in die verlede jy soortgelyke mense sal ontmoet wat daar is vir dieselfde redes as wat jy is. 

Maak seker dat selfs voordat jy begin jy geestelik en fisies gemaklik is om dit te doen. Gaan die reëls van die sport na, lees op daaroor en kyk hoe ander dit doen. As jy gereed is om deel te neem, maak seker dat jy vooraf opgewarm is sodat jy nie jou spiere seermaak nie. Moenie jouself te hard druk nie, veral nie as jy ongemaklik voel nie. Praat openlik met jou ouers oor hoe jy oor ’n sportsoort voel. Sê wanneer jy wil ophou en eerder iets anders wil probeer. As jou skool nie ’n aktiwiteit waarin jy belangstel aanbied nie, probeer om by ’n klub aan te sluit of ’n private instrukteur te vind.

Daar is baie tyd om ’n sportheld te word. Moenie dit oordoen nie.

Dit is baie belangrik vir jou om blootgestel te word aan gesonde kompetisie want dit leer doelgerigtheid, deursettingsvermoë, streshantering en sportmanskap. Ongelukkig is daar baie druk vanaf ouers en onderwysers op kinders om te vroeg en te ernstig vir kompetisies te oefen. Dit kan ’n negatiewe uitwerking op jou hê wanneer jy na die uiterstes gedryf word. Dit kan alle pret van daardie aktiwiteit af wegneem en jou moontlik afskrik. Oormatige intensiewe oefening kan onder andere jou groei belemmer en ernstige newe effekte hê. Wanneer jy jouself te hard druk sal dit inmeng met jou energievlakke, slaappatrone en gemoed. Die oefening sal dan nie meer voordelig vir jou brein en jou akademie wees nie. Wanneer jy begin om aanvullings en verbode middels te gebruik om jou vordering aan te help raak dit baie gevaarlik. As jy onseker is oor enige vorm van oefening of hulpmiddels moet jy ’n professionele persoon se opinie kry. “Matigheid” is ’n belangrike konsep om in ag te neem wanneer jy jou oefenroetine uitwerk.



Ons beoog deur hierdie artikel om jongmense te kry om belangstelling te toon in fisiese oefening, asook om hul aan te moedig en te inspirer om ’n sport te beoefen. Ons hoop dat hierdie artikel jou oë oopgemaak het vir die wonderlike voordele van oefening op die brein en hoe dit jou akademie kan verbeter. Laat weet ons wat jou gunsteling oefening en sportaktiwiteite is. As jy iemand ken wat passievol is oor oefening en sport, deel gerus hierdie artikel met hom of haar.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking