Maandag, 13 Augustus 2018

4 Positiewe uitwerkings van visuele kuns op die brein.


Teken en skilder is nie net lekker tydverdryf nie, maar ongelooflik belangrik vir ontwikkeling van die brein.





Visuele kunste bestaan uit ’n uiteenlopende spektrum van kunsvorms wat visueel van aard is. Dit sluit in teken, skilderkuns, beeldhoukuns, handwerk, keramiekkuns, fotografie, film, argitektuur en ontwerp. Toegepaste kunste soos grafiese ontwerp, binnenshuise ontwerp, industriële ontwerp en mode ontwerp val ook binne die kategorie van visuele kunste.

Uit hierdie lys is dit duidelik dat ons omring word deur kuns. Alhoewel nie elke visuele kunswerk wat jy in jou daaglikse lewe teëkom het die merkwaardigheid wat toegeskryf word aan kunswerke wat jy in ’n museum of gallery sal vind nie, maar visuele kuns, in al sy vorme, maak die lewe mooier, meer interessant, vermaaklik en aangenaam. Deur kuns te skep, sal jy baie meer voordele van die brein ontvang, asook verbetering van lewenstyl gehalte, as om net na kuns te kyk. Om na kuns te kyk kan egter ook ’n aangename ervaring wees wat jou wêreldbeskouings kan verbreed en jou emosies positief beïnvloed.

Alhoewel kuns oral rondom ons is, ons samelewing beïnvloed en ook een van daardie dinge is wat onverklaarbaar ontsagwekkend is, word dit nie altyd beskou as ’n fundamentele aspek van onderwys of in die werksplek nie. Byvoorbeeld, kunsopleiding sal nie eerste op die podium geplaas word in ’n akademiese konteks wanneer dit vergelyk word met wetenskap en wiskunde, of selfs teen ander buitemuurse aktiwiteite, soos sport nie – veral wanneer begrotings betrokke is. Sommige van hierdie argumente is binne perke geldig. Daar is egter baie bewyse wat daarop dui dat die voordele van kuns jou op ’n persoonlike vlak kan help, asook om jou op ’n groter vlak te verbind met die wêreld rondom jou. Selfs al kan hierdie voordele nie op dieselfde wyse as gestandaardiseerde toetsuitslae uitgedruk word nie, is die positiewe neurobiologiese, kognitiewe en sielkundige effekte op die brein goed gedokumenteer. Die Renaissance-man – uitvinder, skilder, beeldhouer, ingenieur, anatomis en wiskundige, onder andere, Leonardo da Vinci, het die volgende gesê: “Beginsels vir die ontwikkeling van ’n volledige verstand: Bestudeer die wetenskap van kuns. Bestudeer die kuns van wetenskap. Ontwikkel jou sintuie – leer veral hoe om te sien. Besef dat alles verbind is aan alles anders.”

’n Verfkwas sal nie noodwendig ’n pasiënt se lewe op die operasietafel red nie, maar die kreatiewe denkvaardighede wat in kunsklas bevorder is, kan daartoe lei dat mediese spesialiste ’n unieker benadering het om geneesmiddels vir siektes te kry. Dieselfde geld vir baie ander beroepe. Die geheim is om maniere te kry om kuns deel te maak van jou lewe. Dit sal jou help om ’n beter weergawe van jouself te word en die wêreld om jou positief te beïnvloed. Laat kuns toe om op sy eie meriete te staan vir wat dit vir jou as persoon doen en wat dit vir die mensdom as geheel doen.


In hierdie artikel bespreek ons die volgende voordele van visuele kuns op die brein:

  1. Neurobiologiese Voordele.2. Kognitiewe Voordele.3. Sielkundige Voordele.4. Lewenstyl Gehalte en Prestasie Voordele.



1. Neurobiologiese Voordele.

Neurobiologie verwys na die biologiese studie van die brein se anatomie, fisiologie en senuweestelsel. Die brein is die mees komplekse orgaan van die menslike liggaam. Dit bestaan uit die serebrum (verdeel in twee hemisfere), breinstam, serebellum, komplekse organisering van grysstof en witstof en neurochemikalieë. Die brein prosesseer, koördineer en integreer inligting en beheer die meeste van die liggaam se funksies.

·       Om visuele kuns te skep verhoog breinplastisiteit.

Neuroplastisiteit, ook bekend as breinplastisiteit en neurale plastisiteit, is die brein se vermoë om veranderinge regdeur jou lewe te ondergaan. Hierdie funksie stel die brein in staat om nuwe verbindings te vorm of bestaande verbindings te verander (deur middel van sinapse, die strukture wat neurone in staat stel om ’n elektriese of chemiese sein na ’n ander neuron te stuur), amper asof om self te herbedraad (“re-wire”). Plastisiteit bepaal die aantal verbindings en hoe hierdie verbindings geraak word asook hoe lank hierdie verbindings sal duur. Breinplastisiteit maak ook voorsiening vir verandering in die volume van grysstof. Sonder plastisiteit is dit nie moontlik vir die brein om vanaf baba jare na volwassenheid te ontwikkel nie. Die brein sou ook nie van ’n besering kan herstel nie.

Wanneer jy deelneem aan ’n onbekende of komplekse aktiwiteit, skep jou brein nuwe verbindings tussen die breinselle. ’n Duitse navorsingspan het ’n artikel getiteld ‘Hoe Kuns jouBrein Verander: Differensiële Effekte van Visuele Kunsproduksie en KognitieweKunsevaluering oor Funksionele Brein Konnektiwiteit’ gepubliseer, waarin hulle die skepping van kuns en die evaluering van kuns vergelyk het. Hul bevindings het tot die gevolgtrekking gekom dat wanneer jy visuele kunste skep, dit kommunikasie tussen verskillende streke van die brein stimuleer, wat die brein dwing om te verander of nuwe verbindings te skep. Deur middel van fMRB (“fMRI”), kon die navorsers groter ruimtelike verbetering in funksionele konneksie van die agterste gesinguleerde korteks [“posterior cingulate cortex” (“PCC”)] en prekuneus [“precuneus” (“preCUN”)] na die voorste en spesifieke dele van die parietale kortikale (“parietal cortices”) sien. Kunsevaluering het nie verbeterde resultate op hierdie gebied opgelewer nie.


2. Kognitiewe Voordele.

Kognisie is die verstandelike aksie of proses om kennis en begrip te verkry deur middel van gedagtes, ervaring en sintuie. Wanneer jy kuns skep word jou brein se kognitiewe vermoëns op verskeie maniere uitgeoefen, wat lei tot verbeterde breinfunksionering.

·       Om visuele kuns te skep verbeter geheue.

Die neurologiese voordele van kuns te skep sluit die bevordering van breinplastisiteit in, wat ’n groot rol speel in konnektiwiteit tussen die verskillende dele van die brein, soos genoem. Hierdie verbindings het ook ’n impak op die manier waarop ons brein nuwe inligting inneem, verwerk, stoor en die lengte hoe lank dit sal duur – met ander woorde die kognitiewe vermoëns wat verband hou met ons geheue.

Die mediale temporale lobbe is sentrale komponente in die verwerking van geheue. In dieselfde artikel ‘HoeKuns jou Brein Verander: Differensiële Effekte van Visuele Kunsproduksie enKognitiewe Kunsevaluering oor Funksionele Brein Konnektiwiteit’, het navorsers gesê dat die kreatiewe proses van kunsproduksie lei tot verbeterde geheueverwerking, aangesien dit vereis dat gestoorde inligting verbind word met nuwe inligting. Dit is bewys deur die verhoogde funksionele konnektiwiteit in die agterste gesinguleerde korteks [“posterior cingulate cortex” (“PCC”)] en prekuneus [“precuneus” (“preCUN”)] in die middel temporale girus [“middle temporal gyrus” (“MTG”)] en superieur temporale girus [“superior temporal gyrus” (“STG”)].

·       Om visuele kuns te skep verbeter meetkundige redenering deur visuospatiale vermoëns.

Visuospatiale funksie, of ook genaamd visueel-ruimtelike funksie, verwys na die brein se kognitiewe prosesse rakende visuele persepsie van ruimtelike verhoudings. Dit behels die vermoë om ruimte te identifiseer, integreer en ontleed asook die besonderhede, struktuur en ruimtelike verhoudings in meer as een dimensie van die vorm daarvan. Sulke vaardighede word benodig vir beweging, ruimtelike navigasie en diepte- en afstandswaarneming.

Kuns is baie afhanklik van vorms, fatsoene, spasies en lyne. Hierdie elemente is ook teenwoordig in meetkunde, alhoewel dit ’n ander funksie verrig. Meetkundige redenasie gebruik kritiese denke, logiese argumente en ruimtelike redenering om verhoudings te vind en probleme op te los. ’n Studie deur Pablo Tinio, PhD, en Roni Reiter-Palmon,PhD, het die verhouding tussen visuele kunsstudies teenoor dramastudies tot die meetkundige redeneringsvermoë van kinders getoets, wat in hul graad 9-skooljaar begin het, tot aan die einde van graad 10. Die resultate het getoon dat kinders wat in visuele kunsstudies betrokke was, het meer in meetkundige redenasie verbeter as kinders wat in dramastudies betrokke was. Visuele kuns kan dus ’n middel wees om wiskunde punte in die skool te verbeter, maar ook nuttig wees vir ander beroepe wat baie staatmaak op meetkunde in hul werk.

·       Om visuele kuns te skep verbeter jou koördinasie.

Wanneer jy kuns skep, word fyn motoriese vaardighede en uitstekende hand-oog-koördinasie benodig vir die gebruik van verskillende gereedskap. Byvoorbeeld om te teken met potlode, penne en kryte, of die gebruik van ’n kwas om te verf, of om ’n beeld te vorm met klei ens. Kuns koördineer die klein spiere van die vingers en hande met die oë en bevorder knaphandigheid en akkuraatheid van hierdie vaardighede.

·       Om visuele kuns te skep korreleer met hoër akademiese prestasie.
’n Studiewat in 2007 deur Ellen Winner en Lois Hetland van die kunsopvoedingsprogram, Project Zero, by die Harvard Nagraadse Skool vir Opvoedkunde, gepubliseer is, het bekend gemaak dat daar geen wesenlike bewyse is dat betrokkenheid in visuele kunste soos skilderkuns, tekening en beeldhoukuns akademiese prestasie direk kan verbeter nie. Hul bevindinge dui daarop dat as ’n kind byvoorbeeld met wiskunde sukkel dit nie ’n geskikte en effektiewe manier is om daardie probleme op te los deur kunsklasse te begin neem nie. Verder was hul bevindinge oor die uitwerking van kuns op ander nie-kunsverwante vaardighede ook onbeslis.

Natuurlik was hul verslag met mate van teenkanting ontvang, met sommige wat terugverwys het na vorige studies, soos die verslag deur die ArtsEducation Partnership, wat tot die gevolgtrekking gekom het dat kuns positiewe akademiese voordele vir geletterdheid en wiskunde insluit. Sommige het ook kommer uitgespreek oor die gebrek aan herhaling van die uitkoms van hul studies, en verklaar dat daar nog baie navorsing oor die onderwerp gedoen moet word.

Nietemin het Winner en Hetland nie teruggestaan van hul bevindings nie. Hulle is self baie passievol oor kuns en het gesê dat kuns op sy eie voorwaardes meriete moet verdien, nie in verhouding tot ander akademiese vakke nie. Net soos Wetenskap nie ‘geldigheid’ van ander gebiede af benodig nie (alhowel dit beïnvloed word en invloedryk is op ander). Daar is baie groter voordele wat verkry kan word deur kuns wat nie andersins verkry kan word nie. Sulke voordele kan ook nie gekwantifiseer word deur gestandaardiseerde toets resultate nie. Hierdie voordele kan aspekte insluit soos om jou met die groter wêreld te verbind, soos aangedui in die 2005-verslag van Rand Corporation.

Dit blyk uit ’n oorvloed van verslae dat kuns kinders help om akademies te presteer op ’n manier waarop die raaisel nog nie wetenskaplik opgelos is nie. Die NasionaleVergadering van Staatskunsagentskappe (NVSKA)(“NASAA”) wat ’n steekproef geneem het van 25 000 Amerikaanse studente met ’n hoë vlak van kunsopleiding ervarings, het getoon dat hierdie studente hoër jaar-eind punte behaal het en beter in gestandaardiseerde toetse gedoen het in vergelyking met studente met min of geen betrokkenheid by die kunste nie. Baie soortgelyke assesserings het tot dieselfde gevolgtrekking gekom. Die Centerfor Arts Education het in hul 2009-verslag gepubliseer dat daar ’n positiewe verband tussen kunsopvoeding en gradeplegtigheidkoerse (“graduation rates”) is. Dit beteken dat skole wat die minste toegang tot kunsopvoeding bied, die hoogste uitsakkoerse (“dropout rates”) gehad het en skole wat die meeste aangebied het die hoogste gradeplegtigheidkoers gehad het. Alhoewel daar baie ander veranderlikes hier betrokke is, impliseer hierdie bevindings dat die integrasie van kuns met ander vakke help met akademiese prestasie.

·       Om visuele kuns te skep verbeter jou taal- en begripsvaardighede.

Vir jong kinders wat nog in hul ontwikkelingsfases is, bied die daad van kuns skep die geleentheid om woorde te leer vir verskillende kleure, vorms, materiale en aksies. Hulle sal uiteindelik hierdie beskrywende woorde begin gebruik om oor hul eie kunswerke te praat, asook hul gevoelens oor kunswerke en ander kunsverwante en nie-kunsverwante opderwerpse verbaal uit te druk. Hierdie onderwerpe kan insluit: emosies, innovasie en kreatiwiteit, abstrakte konsepte en intelligente redenasie.


Dit word ondersteun deur ’n kunsstudie genaamd LearningThrough Art wat by die Solomon R. Guggenheim Museum gedoen is. Die studie het behels dat kinders by kunstenaars leer oor kuns en dat die kunstenaars hulle help om hul eie werke te skep. Hul bevindings het getoon dat die kinders wat aan hierdie program deelgeneem het, het hoër punte behaal in ses verskillende kategorieë van kritiese denk- en geletterdheidsvaardighede (meer in die mondelinge eksamen as die skriftelike eksamen) as die kinders wat nie deelgeneem het nie. Daar word voorgestel dat hulle hoër punte gekry het omdat hulle waardevolle kritiese-denkvaardighede tydens hul besprekings oor kuns aangeleer het.



3. Sielkundige Voordele.

Die brein is verantwoordelik vir jou geestelike toestande. Kuns kan die sielkundige aspekte van jou verstand, soos jou gemoed en emosies, op verskillende maniere beïnvloed, aangesien dit so uiteenlopend kan wees. Terwyl kuns beslis nie net oor opheffende of rustige onderwerpe (soos reënboë en watervalle) moet handel nie, kan die werklike kreatiewe proses om kuns te skep opheffend wees. Om kuns te skep is intellektueel stimulerend, aangesien dit voorsiening maak vir self-ekspressie, kreatiwiteit en innovasie. Kunsproduksie verlig stres en lewer baie ander positiewe geestelike uitkomste op.

·       Om visuele kuns te skep verminder stres.

Dr. Girija Kaimal, assistent professor aan die Departement van Kreatiewe Kunsterapieë, Drexel Universiteit, het onlangs die bevindings van ’n studie wat sy gelei het vir die effek van kuns op stres in ’n artikel genaamd ‘Vermindering van Kortisolvlakke en Deelnemers se Reaksies’ gepubliseer. Die studie het bevind dat 45 minute van die skep van kuns tot beduidende verlaagde kortisolvlakke in die liggaam gelei het.

Cortisol is ’n steroïedhormoon wat ’n verskeidenheid prosesse reguleer. Dit sluit in metabolisme, bloedsuikervlakke en immuunreaksie, asook vermindering van inflammasie en hulp met die formulering van herinneringe. Kortisol word ook dikwels die “streshormoon” genoem as gevolg van die verband met stresreaksie. Hoër kortisolvlakke korreleer met hoër vlakke van stres.

Die wetenskaplike studie deur dr. Girija Kaimal se span het getoon dat 75% van die deelnemers laer kortisolvlakke gehad het, wat op laer stresvlakke aandui, nadat hul kuns geskep het. Hul harttariewe en bloeddruk was ook laer. Die kalmerende en stresverligtende effek is bevestig deur skriftelike dokumentasie deur die deelnemers self.

Die deelnemers se ondervinding met die skep van kuns voor die studie en natuurlike kunstalent (of gebrek daaraan) het nie ’n uitwerking op die uitslae van die resultate gehad nie. Vir sommige is dit dalk goeie nuus, aangesien dit beteken dat jy nie ’n indrukwekkende beeldhouer en skilder soos Michelangelo hoef te wees om die stresverligtende voordele van kreatiwiteit te ervaar nie.

·       Om visuele kuns te skep bou jou selfvertroue en selfbeeld.

Alhoewel daar ’n verband is tussen selfvertroue en selfbeeld, is dit nie presies dieselfde nie. Lees ons blog artikels Hoe om ’n gesondeselfbeeld te ontwikkelen 5 Wenke om jouselfvertroue binne en buite die klaskamer op te bouvir inligting oor die verskille en hoe jy dit op ander maniere kan verbeter.

Om kuns te skep is ’n wonderlike manier waarop jy vertroue in jou eie vermoëns, asook jou selfbeeld, kan bou. Wanneer jy kuns skep, laat jy jouself en ander toe om meer oor jou te leer, deur self-ekspressie. Dit is ’n goeie manier om jouself en jou werk bloot te stel. Kuns stel jou in staat om gesprekke te begin en besprekings te hê oor jou kuns en ander kunswerke en kunstenaars. Dit is ’n manier om te leer hoe om jou werk krities te beoordeel, te leer wat ander daarvan dink en te groei in die proses. Jy sal leer dat nie almal van jou werk sal hou nie en nie almal sal dieselfde van elke kunswerk hou of nie hou nie. Jy sal leer om hul menings te waardeer – soms kan jy waardevolle dinge uit hul ervarings leer en goeie advies kry. Jy sal ook leer om na jouself te luister en dikwels teen dit wat ander sê te gaan. Dit is hoe baie groot deurbraak-werke tot stand gebring is – deur kunstenaars wat uniek was en risiko’s geneem het. Kuns sal jou help om jou eie identiteit te vind en te bevestig.


4. Lewenstyl Gehalte en Prestasie Voordele.

Visuele kunste kan ander aspekte van jou lewe verbeter en jou toelaat om ’n gelukkige, gebalanseerde en vervulde lewe te lei.

·       Om visuele kuns te skep verhoog kreatiwiteit.
Die skep van visuele kunste vereis natuurlik ’n mate van kreatiwiteit, as dit nie reeds duidelik was nie. Kreatiwiteit is egter nie net ’n vaardigheid waarmee jy gebore is of nie. Kreatiwiteit kan geleer en verbeter word, soos op dieselfde manier as wat oefening jou spierkrag verbeter. Kuns moedig jou aan om dinge vir jouself uit te vind. Hierdie vaardighede en vermoëns kan dikwels net verkry word deur dit self te doen, deur verkenning. Elke kunstenaar het ’n unieke manier van dink, werk, ens. wat bydra tot die uniekheid van ’n kunswerk.

Kunsopvoeding is ’n platform wat kinders die geleentheid bied om te leer, te groei en te ontwikkel buite die vaardighede wat in die klas geleer word. Die blote daad om verskillende kleure verf te meng moedig jong kinders aan om risiko’s te neem, wat ’n mate van nuuskierigheid sal bevorder om uit te vind hoe ver hulle grense kan verskuif om iets nuuts te skep. Uiteindelik leer dit hulle om hulself te druk op maniere buite die omvang van net die meng van verf. Hierdie ingesteldheid is ’n groot bate om as ’n volwassene te hê.

Om kreatief, vindingryk en innoverend in die samelewing te wees beteken dat jy oplossings vir probleme kan vind op maniere wat uniek en meer doeltreffend is as om net tradisies en aanwysings te volg. Hierdie eienskappe laat jou toe om op verskeie maniere positief by te dra tot die samelewing en dit te verbeter. Dink aan die vindingryke uitvindings en dienste wat ons wêreld verander het. Daar het baie ure van baie harde werk en kreatiewe probleemoplossing daarin gegaan.

Kunsklas kan wel ’n waardevolle bydraende faktor wees wanner ’n maatskappy die besluit moet neem om jou as Hoof Uitvoerende Beampte (“CEO”) aan te stel, in plaas van ’n ewe-hardwerkende en gekwalifiseerde, maar nie-kreatiewe, werknemer wat ook vir dieselfde posisie aansoek gedoen het. Hierdie stelling word ondersteun deur meer as 60% van 1 500 Hoof Uitvoerende Beamptes van 60 lande en 33 nywerhede wêreldwyd wat deelgeneem het aan die IBM 2010 Global CEO Study. Hulle het kreatiwiteit aangewys as die belangrikste faktor wat nodig is vir sukses in die toekoms.



Deur hierdie artikel hoop ons om jou te inspireer om kuns te skep, deur jou ook bewus te maak van die vele voordele van kuns. Dit is ’n uitstekende manier van uitlating en wonderlike manier om jouself uit te druk. Jy sal ’n wêreld ontdek waarin jy wonders kan vind, en ’n bietjie van daardie wonders saam met jou terugbring en dit met die res van die mensdom kan deel.

Laat weet ons watter soort visuele kuns jy die meeste geniet om te skep.

As jy van hierdie artikel oor die brein gehou het, kan jy gerus hierdie artikels oor die brein en ander buitemuurse aktiwiteite lees:

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking