Om ’n instrument te bespeel is nie net uitstekend om jouself kreatief uit te druk nie, maar verbeter ook jou brein funksies, wat lei tot positiewe uitwerkings op jou lewenskwaliteit.
Duits-gebore
teoretiese fisikus Albert Einstein het eenkeer gesê: “Die lewe sonder om musiek
te speel, is ondenkbaar vir my. Ek leef my dagdrome in musiek uit. Ek sien my
lewe in terme van musiek... Ek kry die meeste vreugde in die lewe uit musiek
uit.”
Daar mag dalk meer
wees tot hierdie aanhaling van die vindingryke wetenskaplike genie, Nobel-pryswenner
en persoon van die 20ste eeu volgens die tydskrif Time, as wat jy
sou dink. Is dit moontlik dat musiek nie net as ’n genotvolle stokperdjie vir
Einstein gedien het nie, maar ook bygedra het tot sy intellek? Sy musikale lewe
het gepaard gegaan met sy wetenskaplike lewe, wat dikwels onafskeidbaar was.
Dink daaroor! As ’n genie wat verantwoordelik is vir ’n beduidende aantal van
die 20ste eeu se wetenskaplike deurbrake, wat vir altyd ons wêreld
verander het, so sterk gevoel het oor hoeveel musiek sy lewe beïnvloed het, is
dit dalk die moeite werd om dit verder te ondersoek...
Einstein het groot
geword in ’n musikale huis, aangesien sy ma, Pauline Koch Einstein, ’n
talentvolle pianis was. Sy het Einstein op die ouderdom van ses aangemoedig om
die viool te begin speel en het ook vir hom klavier geleer. Dit is ook waardig
om op hierdie stadium te noem dat Einstein baie stadig ontwikkel het gedurende sy
vroeë kinderjare. Hy het eers op die ouderdom van vier jaar begin praat, sy
formele skoolopleiding op ses jaar begin en eers op die ouderdom van sewe begin
lees. Trouens, baie het aanvanklik gedink hy was geestelik gestremd as ’n kind.
Tog het hy geweldige vordering gemaak en Latyn en Grieks op die ouderdom van
tien begin leer en op die ouderdom van dertien kon hy Mozart se viool sonates
speel.
So, kon die
blootstelling aan musiek bygedra het tot die ontwikkeling van sy kognitiewe vermoëns
as ’n jong kind en selfs verder as ’n volwassene? Alhoewel ons nie terug kan
gaan in tyd na Einstein se kinderjare om sulke eksperimente uit te voer nie, is
dit beslis baie aanneemlik.
Volgens
wetenskaplikes is daar sterk bewyse wat daarop dui dat musikale opleiding die
breinstruktuur en breinfunksie vir die beter kan verander. ’n Onlangse studie deur neurowetenskaplikes, insluitendeNadine Gaab, PhD, onder andere, van die Laboratoriums van KognitieweNeurowetenskap by die Boston Children’s Hospital, kom tot die
gevolgtrekking dat daar ’n korrelasie (moontlik ’n biologiese verband) bestaan
tussen vroeë musikale opleiding en verbeterde uitvoerende funksionering. Die
stimulering van die brein tydens die speel van ’n instrument verbeter
uitvoerende funksies (wat verantwoordelik is vir die regulering en aanpassing
van gedrag en aksies, verwerking en behoud van inligting en oplossing van
probleme) en kognitiewe funksies (wat geheue en abstrakte
redeneringsvaardighede insluit). Uitvoerende funksionering is veral ’n kragtige
aanwyser van akademiese prestasie – selfs meer as IK!
Musiek het so ’n sterk
uitwerking op ons gedagtes. Trouens, jou brein vind meer baat deur ’n
musiekinstrument te speel as enige ander aktiwiteit – insluitend sport!
Bekroonde Neuromusiekale Opvoeder Dr Anita Collins verduidelik in haar TED Ed les
dat jy breinaktiwiteit met fMRB (“fMRI”) en PET skandeerders kan monitor om
hierdie stelling te ondersteun. Wanneer ’n sekere aktiwiteit uitgevoer word,
soos om te lees of ’n wiskunde probleem op te los, verhelder die
ooreenstemmende dele van die brein op die monitors. Toe hulle die
breinaktiwiteite van individue wat na musiek luister waargeneem het, het
verskeie areas verhelder – soos vuurwerke! Maar toe wetenskaplikes die breins
van persone wat na musiek luister met dié van musikante vergelyk, het hulle
gevind dat die klein vuurwerke van die eersgenoemde te kort geskiet het in
vergelyking met die ontploffing wat in musikante se breins aangaan wanneer hul
’n instrument speel. As jy ’n musiekinstrument speel, is dit die ekwivalent van
’n volle-lyf oefensessie vir die brein! Dit betrek byna elke aspek van die
brein. Nietemin, die liggaam is ook baie betrokke wanneer mens ’n instrument
speel.
Voordat ons begin debateer
rondom die moontlike oorweging om jou huidige buitemuurse aktiwiteit vir musiek
te moet verruil, moet jy weet dat ’n artikel wat
gepubliseer is in Labour Economics, van die studie wat
uitgevoer is deur Charlotte Cabanea en Michael Lechner van SEW en Adrian Hilleb
van DIW Berlyn, onthul het dat kinders wat beide musiek en sport doen, hoër
akademiese prestasie behaal in vergelyking met kinders wat net aan een of die ander
deelneem. As jy belangstel in die voordele van sport op die brein, wat net so
fassinerend is, lees asseblief ons artikel “4Voordele van oefening en sportaktiwiteite op die brein”.
In hierdie artikel bespreek ons die volgende voordele van musiek op die brein:
1. Neurobiologiese Voordele.2. Kognitiewe Voordele.3. Sielkundige Voordele.4. Lewenstyl Gehalte en Prestasie Voordele.
1. Neurobiologiese Voordele.
Neurobiologie
verwys na die biologiese studie van die brein se anatomie, fisiologie en
senuweestelsel. Die brein is die mees komplekse orgaan van die menslike
liggaam. Dit bestaan uit die serebrum (verdeel in twee hemisfere), breinstam,
serebellum, komplekse organisering van grysstof en witstof en neurochemikalieë.
Die brein prosesseer, koördineer en integreer inligting en beheer die meeste
van die liggaam se funksies.
Onlangse studies wat
bepaal is deur middel van breinskanderings wys dat daar ’n verskil is in
breinstruktuur van musikante in vergelyking met dié van nie-musikante. Die
navorsing dui daarop dat die vorm en krag van die brein verander word deur
gereeld ’n instrument te speel en dat die anatomiese veranderinge meer
prominent is wanneer musikante hul instrument(e) op ’n jonger ouderdom begin
leer.
Deur ’n musiekinstrument te speel verhoog die volume grysstof in verskillende gedeeltes van die brein.
Die
resultate van ’n studie deur Christian Gaser en Gottfried Schlaug op drie
groepe mense, insluitend professionele musikante, amateur musikante en
nie-musikante, het gewys dat daar ’n beduidende positiewe verband is tussen die
musikant-status en die toename in die volume grysstof. Met ander woorde,
professionele musikante het die hoogste volume grysstof vertoon, amateur musikante
het matige hoeveelheid vertoon en die laagste volume is vertoon in
nie-musikante. Die verskille in die verspreiding van grysstof volume, was in
ouditiewe-, visuele- en motoriese kortikale.
· Deur ’n musiekinstrument te speel verhoog die grootte
van die corpus callosum in jou brein.
Nie
net is die volume grysstof hoër in die brein van ’n musikant nie, maar ook die
volume en aktiwiteit van die corpus callosum – die “brug” van enorme senuweevesel
bondels wat verantwoordelik is vir die langafstand-verbindings tussen die twee
hemisfere van die brein. Die fyn motoriese vaardighede wat nodig is om ’n
musiekinstrument te speel, word beheer in beide hemisfere van die brein. Die
linker-hemisfeer is betrokke by taalkundige en wiskundige akkuraatheid, terwyl
die regter-hemisfeer betrokke is by nuwe en kreatiewe inhoud. Verhoogde volume
en aktiwiteit van die corpus callosum laat die boodskappe toe om vinniger en
deur meer diverse roetes oorgedra te word.
· Deur ’n musiekinstrument te speel verhoog die
bloedvloei in jou brein.
Deur
selfs vir ’n kort rukkie ’n musiekinstrument te speel, sal die bloedvloei na
die linker-hemisfeer van die brein verhoog. Verhoogde bloedvloei na die brein sal
ook vir jou meer energie gee.2. Kognitiewe Voordele.
Kognisie is die
verstandelike aksie of proses om kennis en begrip te verkry deur middel van
gedagtes, ervaring en sintuie. As jy ’n musiekinstrument speel, kan jy jou
kognitiewe vermoëns verbeter.
· Deur ’n musiekinstrument te speel verbeter jou
konsentrasie.
Musikante
moet gelyktydig op verskeie dinge konsentreer wanneer hulle ’n instrument
speel. Dit sluit in toonhoogte, ritme, tempo, duur en kwaliteit van die noot – alles
om ’n musiekstuk uit te voer met presiese tegnieke en emosie. Daar word van
musikante verwag om op nog meer aspekte te konsentreer tydens ’n uitvoering
wanneer hulle met ’n ensemble of groep speel, waar almal fokus op hul eie
unieke melodie en harmonie wat ook toonhoogte, ritme, tempo, duur en kwaliteit
van note insluit.
· Deur ’n musiekinstrument te speel verbeter uitvoerende
funksies
’n Studie oor
musikaal-opgeleide kinders en volwasse musikante het tot die gevolgtrekking
gekom dat hulle verhoogde prestasie ervaar vir verskeie aspekte van uitvoerende
funksionering. Dit sluit in beplanning, strategiese uitvoering, fokus op detail,
probleemoplossing, behoud van inligting, beheer van gedrag en gelyktydig
kognitiewe en emosionele aspekte te analiseer. ’n fMRB (“fMRI”) het bevestig
dat die aktiwiteit in spesifieke areas van die prefrontale korteks verbeter was
tydens ’n toets wat hulle laat omskakel het tussen verstandelike opdragte.
· Deur ’n musiekinstrument te speel verbeter geheue.
Uitvoerende
funksionering beïnvloed ook hoe die brein se geheue-stelsels werk. Deur ’n
musiekinstrument te speel en na musiek te luister, kan geheue-funksies
verbeter, sodat herinneringe vinniger en meer doeltreffend geskep, gestoor en
opgespoor kan word. Navorsing toon ook aan dat musikante hul hoogs gekoppelde
breins gebruik om verskeie etikette, soos “klank”, “visueel”, “kontekstueel”,
“konseptueel”, “emosioneel” ens. op herinneringe plaas – soortgelyk aan ’n
internet-soekenjin.
Twee
algemene tipes geheue word gevind, naamlik korttermyngeheue en
langtermyngeheue.
Korttermyngeheue
is die brein se vermoë om ’n klein hoeveelheid inligting te stoor wat binne ’n
kort tydjie geredelik toeganklik is. Korttermyngeheue word dikwels beskou as
sinoniem met werkgeheue, alhoewel werkgeheue meer akkuraat verwys na die
raamwerk van prosesse wat gebruik word om die data wat in korttermyngeheue
gestoor is, te verstaan, interpreteer en manipuleer.
Om ’n
musiekinstrument te speel vereis ’n hoë werkgeheue-las. Om baie musiek
komposisies of liedjies, soms met lirieke, in ’n kort tydperk te leer en te
onthou, soos dikwels van musikante vereis, is ’n baie indrukwekkende prestasie.
Wanneer musikante gereeld hul instrumente beoefen, brei hulle hul
werkgeheue-kapasiteit uit. ’n Verhoogde werkgeheue-kapasiteit sal verbeterde
denkvaardighede oplewer.
Wanneer
korttermyngeheue behoue word na meer as 2 minute van die aanvanklike stimuli,
word dit langtermyngeheue. Langtermyngeheue is die brein se vermoë om data
onbepaald te stoor. ’n Navorsingsstudie onder leiding van akademiese professorPetri Toiviainen, PhD, van die Finse Sentrum vir Interdissiplinêre
Musieknavorsing SIMN (“CIMR”) aan die Universiteit van Jyväskylä en Elvira
Brattico, PhD, aan die Universiteit van Aalto en die Universiteit van Helsinki,
het bevind dat die hippokampus, die deel van die brein wat verantwoordelik is
vir die berging van langtermyngeheue, aktief is wanneer jy na herhaalde musiek motiewe
of musikale frases in ’n komposisie luister.
· Deur ’n musiekinstrument te speel verhoog jou IK en
verbeter jou akademiese prestasie.
Musieklesse
bepaal vooraf hoë akademiese prestasie en IK-tellings by jong kinders. Die
uitkoms van ’n navorsingsstudie wat ’n groep van 6-jariges ingesluit het wat sang
of klawerbord lesse vir 36 weke geneem het, het toename in IK en
gestandaardiseerde opvoedkundige toets uitslae getoon, in vergelyking met
kinders wat aan ander nie-musiekverwante buitemuurse aktiwiteite deelgeneem
het.
· Deur ’n musiekinstrument te speel verbeter jou lees-
en begripsvaardighede.
Kinders
wat musiekinstrumente speel, en veral diegene wat bladmusiek lees, toon hoër
kognitiewe prestasie in lees- en begripsvaardighede in vergelyking met hul
nie-musikaal-opgeleide eweknieë. Die rede hiervoor is dat om ’n instrument te
speel en gelyktydig bladmusiek te lees beteken dat jy die toonhoogte, ritme en
duur van ’n noot op ’n bladsy moet erken, sowel as ander instruksies, soos
ekspressie en artikulasie, dit te verstaan en te omskep na ’n vingerposisie en
liggaamlike aksie om ’n geluid op jou instrument te produseer.
· Deur ’n musiekinstrument te speel verbeter jou
wiskundige vermoë.
Om musiek te lees
word jy vereis om note en ritmes te tel. Dit kan jou wiskundige vermoë
ongelooflik verhoog. Musiekteorie behels ook baie wiskundige aspekte. Kinders
wat instrumente speel, kry dikwels hoër punte in wiskunde, asook ander vakke op
skool, in vergelyking met kinders wat nie ’n musiekinstrument speel nie.
3. Sielkundige Voordele.
Die brein is
verantwoordelik vir jou sielkundige en geestelike toestande en musiek beïnvloed
die sielkundige aspekte van die brein op ’n baie positiewe en stimulerende
manier.
· Deur ’n musiekinstrument te speel verminder stres.
· Deur ’n musiekinstrument te speel verbeter jou gemoed en gelukkigheid.
· Deur ’n musiekinstrument te speel bou jou selfvertroue.
· Deur ’n musiekinstrument te speel verminder depressie.
4. Lewenstyl Gehalte en Prestasie Voordele.
Musiek kan ander
aspekte van jou lewe verbeter en jou toelaat om die lewe ten volle te geniet.
Plato het gesê: “Musiek is ’n morele wet. Dit gee ’n siel aan die heelal,
vlerke aan die gees, vlug aan die verbeelding, ’n sjarme aan hartseer, en lewe aan
alles. Dit is die kern van orde en lei tot alles wat goed, regverdig en mooi
is, waarvan dit die onsigbare, maar nietemin skitterende, passievolle en ewige
vorm is.”
· Deur ’n musiekinstrument te speel verbeter sosialiseringsvaardighede.
Deur
’n musiekinstrument te speel help dit jou om op ’n unieke wyse aan gesprekke
deel te neem, as gevolg van verhoogde kognitiewe vermoëns en verhoogde
begrips-, ouditiewe- en taalvaardighede. Jou brein sal kreatief kan dink en
abstrakte gedagtes kan vermaak, wat interessante gesprekke tot gevolg sal hê.
· Deur ’n musiekinstrument te speel versterk jy bande met ander.
Om
musiek te speel in ’n groep, ensemble of orkes sal jy belangrike vaardighede
leer, soos om met ander mense op te tree en saam te werk. Om goeie musiek saam
te speel en te skep moet die spelers leer hoe om liggaamstaal te lees, op klein
besonderhede op te let en te luister na mekaar. Dikwels is ’n emosionele
konneksie ook betrokke wanneer mense dieselfde gevoelens in harmonie uitdruk of
hul bydrae lewer om ’n storie te vertel deur musiek.
· Deur ’n musiekinstrument te speel verbeter jou
tydsbestuursvaardighede.
Tydsberekening
en tempo, insluitend musiek pouses, is noodsaaklik om ’n komposisie musikaal te
laat klik. Nog meer, die proses om te leer hoe om ’n musiekinstrument te speel,
is baie afhanklik van tyd- en tydsbestuur. Deur te leer hoe om jou tyd, skedules
en roetine te organiseer is noodsaaklik. Die kwaliteit van oefentyd is meer
waardevol as die hoeveelheid. Jy sal baie vinniger vordering maak met die
korrekte oefen-regime wat uitbeplan is. Dit sal jou help om jou oefentyd meer doeltreffend
te maak.
· Deur ’n musiekinstrument te speel verhoog jou
koördinasie.
Om
’n instrument te speel en musiek te lees, vereis beter hand-oog-koördinasie.
Wanneer jy musieknotasie op ’n bladsy lees, herken jou brein elke noot, begryp
dit en skakel dit oor in spesifieke motoriese patrone, soos ’n vingerposisie en
liggaamlike beweging wat die klank sal produseer.
Ons hoop dat jy
geïnspireer voel om ’n instrument te wil begin speel en musiek te maak. Musiek
kan jou brein bevoordeel, wat uiteindelik jou lewe op baie maniere sal
verbeter. Maar bo alles is dit baie lekker en belonend om musiek te maak, iets
wat nogal onbeskryflik is as jy dit nog nie vantevore gedoen het nie. Dit is
altyd goed om so gou moontlik te begin, aangesien die effekte op die brein meer
merkwaardig en blywend sal wees, maar dit is nooit te laat om te begin nie en
jy moet beslis nie opgee nie! Toe die wêreldbekende tjellis, Pablo Casals, in
sy 80’s gevra is waarom hy steeds vier tot vyf uur per dag oefen, het Casals geantwoord
met: “Ek dink ek maak nou vordering”.
Laat weet ons watter
instrument(e) jy speel of beplan om binnekort te leer.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking